Kobus
Ek verwys na jou uitlating in jou kommentaar op 28/07/2015: “Vandaar dat die kosmiese wetenskap vir die afgelope 2000 glad nie vordering kon maak nie . . .”
Wat ’n grap! En dit sonder ’n enkele bewys? Toegegee dat dié soort uitsprake van jou darem ook sy nut het in die sin dat afgesien daarvan dat dit vermaaklik is, dit ander bydraes van jou in die regte perspektief plaas sodat niemand dit ernstig behoort op te neem nie.
Hoe lyk die waarheid?:
1. Die besef deur antieke Babiloniërs, Egiptenare, Grieke, Indiërs, Sjinese, Mayas en Persiese astronome en astroloë dat die posisie van planete teen die agtergrond van die sterre-agtergrond uniek is en hulle bewegings vaste patrone volg.
2. Die heliosentriese konsep wat in 1543 deur Copernicus voorgestel is met die aarde as een van die planete wat om die son wentel en voorspelbare berekenings moontlik gemaak het in teenstelling met die Bybelse geosentriese voorstelling van ’n onbeweeglike aarde wat deur die Kerk van destyds afgedwing is en wat die ontwikkeling van sterrekunde vir bykans 1 500 jaar gestuit.
3. Galileo se ontdekking van die mane van Jupiter wat bewys was dat hemelliggame ook om iets anders as die aarde wentel en derhalwe die heliosentriese konsep van Copernicus ondersteun het.
4. Kepler se wette vir die beweging van die planete wat in elliptiese bane en nie sirkelvormige bane nie, om die son wentel. Danksy dié briljante Duitse wiskundige en die Deen Tycho Brahe, met sy noukeurige data wat hy gebruik het vir sy berekenings, was dit moontlik om die posisie van planete met groter akkuraatheid te voorspel.
5. William Herschel en sy suster Caroline se sistematiese kartering van die hemelruim gedurende die periode van 1780 tot 1834 en sy ontdekking van die planeet Uranus. Hulle kaart het die grote en vorm van die Melkweg aan die lig gebring en aangedui dat dit aansienlik groter was as wat voorheen gemeen is.
6. Die Duitse wetenskaplike Albert Einstein se teorie van Algemene Relatiwiteit van 1915 wat ’n verfyning van Newton se Wet van Universele Gravitasie was.
7. Edwin Hubble wat die fondamente van die astronomie geskud het tussen 1924 en 1929 met die ontdekking van talle sterrestelsels buite die grense van die Melkweg en dat hulle weg beweeg van ons af teen ’n spoed wat toeneem in verhouding tot hulle afstand van ons af. Dit was die eerste bewys dat die heelal besig was om uit te sit en het uiteindelik tot die Oerknalteorie gelei.
8. Die ontdekking deur Karl Jansky in 1931 van radiogolwe wat hulle oorsprong in die middel van die galaksie het en wat tot radio-astronomie gelei het. Radio-astronomie het sterrekundiges in staat gestel om talle sterre en galaksies en verskynsels soos kwasars en pulsars te ontdek. Die SKA radio-teleskoop wat tans in Suid-Afrika en Australië opgerig word en 50 keer sensitiewer as enige soortgelyke teleskoop in die wêreld sal wees, is te danke hieraan.
9. Die radio-astronome Arno Penzias en Robert Wilson wat wat die nagloed van die Oerknal bekend as kosmiese mikrogolf-agtergrondbestraling (“Cosmic Microwave Background Radiation” — CMBR) in 1964 ontdek het. Dit was afdoende bewys van die geldigheid van die Oerknalteorie. Hiervoor het hulle die Nobelprys ontvang.
10. Die ontdekking van honderde eksoplanete by ander sterre binne die Melkweg wat sedert die eerste een, maar so onlangs as 1995 deur die Switsers Michel Mayor en Didier Queloz in die konstellasie van Pegasus ontdek is. Die meeste daarvan is met behulp van NASA se Kepler ruimteteleskoop ontdek.
11. Talle onbemande ruimtetuie wat in wentelbane om planete, mane en asteroïdes en selfs komete geplaas is en ’n magdom van inligting na die aarde teruggesein het en steeds so doen.
12. En die eerste suksesvolle bemande maanlanding en Neil Armstrong, (1930 — 2012) as die eerste mens op die maan op 20/21 Julie 1969 en wat selfs 21,5 kg maanrotse saamgebring het.
Ek volstaan met dié enkele voorbeelde omdat ’n volledige verslag van al die prestasies, selfs in gekonsentreerde formaat, boekdele sal vul.
Ten slotte: Ons wag steeds om van jou te hoor wat jou laat glo het dat die heliosentriese konsep die regte een is. Daar is tog geen sodanige aanduiding in Die Bybel nie!
Panda


Kommentaar
Panda
My onderkaak hang oop oor jou astronomiese kennis oor die onderwerp wat ek heel insiggewend vind. Dankie daarvoor.
Beste Panda
Is dit werklik nodig om 'n goeie storie met feite te bederf?
FC — Jy is darem seker nie ernstig nie. Jou cliché is onvanpas in hierdie geval. Hoe op aarde skryf jy ’n ‘storie’ oor die hoogtepunte van die astronomie die afgelope twee millennia sonder om die feite te noem?
Ai Panda
Dit is juis die feite wat die ironie van die saak is!
Panda
Weereens ’n weldeurdagte skrywe wat die bogpraatjies van die Sê se spirituele intelligente onthul vir wat dit is – blote bogpraatjies sonder enige substans. Ek gaan probeer om Kosie voor te spring en antwoorde namens hom te verskaf op jou 12 stellings wat jy teen die deur van sy geloofshuisie vasgespyker het.
1 God het alles geskep en daar is geen kennis behalwe kennis deur god nie. Die Babiloniërs, Mayas, Egiptenare het nie die ware god geken nie en het soos moderne wetenskaplikes, bloot in die duister rondgetas as gevolg van hulle ongeloof.
2 Die heliosentriese model is nog lank nie bewys nie, want niemand kon nog so ver in die ruimte reis om fisies te sien dat die aarde om die son draai nie. God se woord staan egter vas en dus is die geosentriese model eintlik die meer aanvaarbare model.
3 Galileo kon nie Jupiter se mane ontdek het nie, want dit is nie sigbaar vanaf die aarde nie.
4 Planete se posisies kan nie akkuraat bepaal word nie omdat daar allerhande objekte tussen die aarde en die planete ronddryf en mens dus maklik ’n ronddrywende rots vir ’n planeet kan aansien. Voor jy ’n planeet se posisie kan bepaal moet jy eers aan die hoofkabouter van kammaland bewys dat dit nie dalk ’n rots in die ruimte of straks ’n vuil kol op jou teleskoop is nie. Tot tyd en wyl jy dit gedoen het, is alle planete se posisies onbepaalbaar en slegs aan god bekend.
5 Voor William Herschel en sy suster Caroline nie kan bewys dat hulle nie sommer net ronddrywende rotse of vuil kolle op hulle teleskope raakgesien het nie, kan hulle bevindinge glad nie aanvaar word nie en is die bybel die enigste bron van kennis oor die sterrestelsel.
6 Albert Einstein was ’n selferkende ateïs en enigiets uit sy mond (of pen) moet verwerp word. Die Nobelpryskomitee is waarskynlik ook ’n spul ateïste en verklaar hoekom so baie ateïste Nobelpryse kry.
7 Edwin Hubble is nog ’n delusionele ateïs. God het alles so 6 000 jaar gelede geskape. Wat se ge-uitdyery van die heelal is dit met jou? Edwin Hubble moet eers bewys dat dit nie dalk ’n rots in die ruimte of straks ’n vuil kol op sy teleskoop was dat hy gesien het nie. Hoeveel keer moet ek dit nog vir jou sê?
8 Soos onse Kosie al vele kere in die verlede aangedui het, is die hele astronomiese wêreld en Amerika se ruimteprogram een groot bedrogspul wat ten doel het om die waarheid oor god te probeer verdoesel. Die kastige radiogolwe wat Karl Jansky ontdek het, is niks anders as weerkaartsings vanaf ronddrywende rotse in die hemelruim nie. Die grootskaalse geldmors by Carnarvon op die SKA is weereens ’n bewys van die bose planne van die wêreldmagte om die waarheid van god en sy skepping van ons te probeer weghou. Duisende huise kon gebou gewees het en miljoene honger magies kon gevul gewees het met die geld wat op die SKA vermors word - maar toemaar god se meul maal stadig maar seker.
9 Die radio-astronome Arno Penzias en Robert Wilson het bloot met die nagloed kosmiese mikrogolf-agtergrondbestraling-teorie vorendag gekom om die belaglike teorie van die oerknal te bewys. Daar was geen kosmiese mikrogolf-agtergrondbestraling gevind nie maar hulle het met die spul ateïste by die Nobelprys-komitee saamgespan om dit as ’n grootse wetenskap[like] ontdekking te erken sodat die wankelrige teorie van die oerknal ’n meer soliede basis kon kry om op te staan. Die Nobelpryskomitee gaan nog eendag hieroor verantwoording moet doen wanneer god sy finale oordeel gaan fel.
10 Hoeveel keer moet ek vir jou sê dat dit ’n loutere spul snert is dat daar eksoplanete ontdek is. Dis bloot drywende stukke rots wat hier naby die aarde in die ruimte ronddryf. Voor jy nie kan bewys dat dit nie so is nie, is daar nie iets soos eksoplanete nie. God vereis ongekwalifiseerde geloof en hy het juis hierdie drywende stukke rots in die ruimte geplaas om ons geloof te toets. God is egter getrou om die paar van ons wat werklik glo ryklik te beloon met ’n goue harp en ’n prominente sitplekkie in die hemelkoor.
11 Nee wat Panda nou laat jy my sommer lag. Daar is elke dag flieks oor die buitenste ruim en dramatiese stories oor ouens wat op meteore land – ek dink Bruce Willis het in een gespeel. Hierdie is alles deel van die massa-delusie van NASA om jou (en die Amerikaanse kiesers) te laat glo dat die biljoene dollars wat jaarliks op die ruimteprogram gespandeer word, die moeite werd is.
12 Soos ons almal met spirituele intelligensie weet, is die hele maanlanding op ’n filmstel in die Navada-woestyn geskiet. Jy moet ophou om die pêrredrolle wat die Amerikaners aan jou opdis, vir vye te verorber.
Ek sien nietemin uit daarna om onse Kosie se kommentaar op jou skrywe te lees.
Groetnis en nogmaals dankie vir ’n genoeglike plasing.
Thomas
Beste Thomas
Dit is werklik betreurenswaardig dat jy dit nodig ag om tot die vlak van gesprekvoering te daal om 'n punt te bewys.
Jaco — Ek dra darem nie al die inligting in my kop saam nie en is ook nie skaam om te erken dat ek bietjie naslaanwerk moes doen en ou aantekeninge moes opdiep nie. Dankie, vir jou belangstelling en kommentaar.
FC — Ja, man en ek trap hou vir hou in dieselfde gat. Maar die versoeking is groot, want feite praat maar altyd die hardste. Ek sal meer op my hoede wees volgende keer.
Thomas — Jy kon jou kommentaar net sowel aan Kobus voorgelê het as ’n konsep antwoord. Hy sou kwalik daarop kon verbeter en dit net moontlik met ’n paar negatiewe opmerkings aan die adres van die ‘spul’ afrond en hier en daar met spirituele insig toelig.
Panda
FC
Die tong in my kies keer darem dat ek deur die bodem van die vlak van gesprekvoering val. Wag tot jy Kobus se reaksie lees.
Groetnis
Thomas
Dag Panda,
Ek weet nie wat die Christene se bybel oor die dinge sê nie en ek stel ook nie belang nie. Wat vir my interessant is, is dat van die elf name wat jy genoem het, drie Jode was. Dit is 27%. Die Jode hou 22% van die Nobelpryse wat gewen was. Wat dit besonder maak is die feit dat die Jode slegs .2 % ( punt twee %)van die wêreldbevolking is.
Die Jode in jou lys is Albert Einstein, William Herschel (sy pa was Joods) en Arno Penzias.
Groete
Duitswester
Duitswester — Dankie vir die statistiek. Dit is baie interessant dat die Jode 22% van die Nobelpryse gewen het. Ek wonder of daar 'n rede is en of dit maar toeval is?
Groetnis
Panda
Panda, om daaroor te spekuleer gaan baie mense woedend maak. Ek lees wat ek lees en vorm my opinie oor dinge daarvolgens. Maar daar is feite wat almal wat kyk kan sien.
Duitswester