Ek is nie 'n taalkundige nie, of 'n Engelskundige nie, of eintlik nie 'n kundige op enige belangrike gebied nie. Trouens, soms kan ek nogal taamlik onkundig wees! Maar ek is lief vir Afrikaans en ook Engels kan nogal taamlik mooi wees.
Nou, seker maar omdat ons Afrikaners gedurig in 'n stryd gewikkel is om te bewys ons taal is net so goed soos ander en het 'n bestaansreg naas die grootste tale in die wêreld, het ek nog altyd belang gestel in hoe ons taal ontwikkel het, teenoor die ontwikkeling van ander tale, veral Engels wat ook goed aan ons bekend is en deur baie gesien word as ons grootste teenstander hier in die RSA. En as 'n bedreiging vir Afrikaans!
Daarom was ek bly toe ek 'n oulike artikel in 'n ou Reader's Digest raakloop oor hoe Engels oor die eeue ontwikkel het, wat alles mooi saamvat, alles wat ons reeds weet. Op 'n manier kan dit deurgetrek word na ander tale, ook Afrikaans, want almal het maar deur 'n soortgelyke proses gegaan en alle tale ontwikkel steeds, dit is 'n aaneenlopende proses.
Die artikel was in die Digest van Maart 1996 onder die titel The Glorious Messiness of English en is geskryf deur Robert Macneil. Eers maak hy 'n paar grappies oor hoe verkeerd Engels soms deur anderstaliges gebruik word, soos die volgende kennisgewing wat hy sê in 'n hotel in Tokio aangebring is: "You are invited to take advantage of the chambermaid."
Dan gaan hy voort en vertel ons 'n bietjie van die geskiedenis van Engels, maar ek haal eers hierdie stuk aan:
"The story of our English language is one of massive stealing from other languages. That is why English has an estimated vocabulary of over a million words, while other languages have far fewer.
French, for example, has only about 75000 words, and that includes expressions such as snack bar and hit parade. The French, however do not like borrowing words because they think it corrupts their language. The government tries to outlaw words from English and passes decrees saying jumbo jet is not desirable; so they invent a word gros porteur. French children are supposed to say balladeur instead of Walkman, but they don't."
(Blykbaar is die woord Walkman deur Japanese vervaardigers uitgedink.)
Nou die geskiedenis: Toe die Romeine Brittanje in 55 vC binnegeval het, het Engels nog nie bestaan nie. Die destydse tale oorleef vandag as Wallies, Gaelies en Bretons. (Latyn sou op hierdie stadium natuurlik al tot die plaaslike woordeskat begin bydra het.)
Die volgende inspuiting van woorde het gekom toe Germaanse stamme, die Angele en Saksers uit die huidige Duitsland; en die Jutte (uit hedendaagse Denemarke) na Brittanje gemigreer het. Hieruit het natuurlik 'n groot aantal woorde die Engelse taal binnegekom, soos sheep, shepherd, earth, swine, ox, wood, field en work, asook glee, laughter en mirth. (Ek raai dat dit ook al die woorde sal insluit waar daar 'n duidelike ooreenkoms is met Afrikaanse woorde, want Afrikaans stam mos ook van Germaans af.)
Die Christendom se koms na Brittanje het vervolgens ook die taal beïnvloed. Monnike is gestuur om kerke en monnik-kloosters te bou. Só het ongeveer 400 tot 500 woorde uit Grieks en Latyn die taal binnegekom, met die volgende voorbeelde: angel, disciple, litany, martyr, mass, relic, shrift, shrine, psalm.
Invalle deur die Wikings het ook 'n bydrae gemaak, veral baie woorde wat begin met sk, soos sky en skirt. Die ou Noorse vorms het in sommige gevalle naas die oud-Engelse oorleef, daarom kan mens praat van to rear a child (Engels) of to raise a child (Noors). Nog voorbeelde is wish en want, craft en skill, hide en skin.
Sekerlik een van die vernaamste invloede het gekom na die jaar 1066, toe die Normandiërs die Engelse oorwin en Engeland binnegeval het. Daarna is daar vir lank drie tale in Engeland gebruik: Frans vir die aristokrate; Latyn vir die kerke; en Engels vir die gewone mense. Die Normandiërs het beef (boeuf) geëet, die Engelse ox of cow; die Normandiërs venison, die Engelse deer. Engels besit vandag al hierdie woorde.
Godsdiens, die regstelsel en wetenskap is gewoonlik in Latyn en Frans beoefen: Nuwe woorde was bv felony, perjury, attorney, bailiff en nobility. Partykeer was daar drie terme vir dieselfde ding, bv die Angel-Saksiese kingly, maar na die Normandiërs se koms was daar drie sinonieme: royal, regal, sovereign. Teen die einde van die vyftiende eeu was daar al omtrent 10000 (tien duisend) woorde wat Engels uit Frans geleen het.
Verdere invloede op die ontwikkeling van Engels was ondermeer die drukpers wat William Caxton in 1476 daar opgestel het; die Renaissance, met vertalings van Latynse en Griekse werke en aanwas van die Engelse woordeskat uit daardie tale; en die ontwikkeling van die wetenskap wat nuwe woorde genoodsaak het.
Vir interessantheid kan genoem word dat die Engelse woorde admiral (amîr a' alî) en alcohol (Al-kuhl) volgens die skrywer van die artikel uit Arabies afkomstig is; en in skaak kom checkmate van die Persiese shah mat, wat beteken "die koning is dood".
'n Mens kan so aangaan. Die Britse bedrywighede en kolonisasie regoor die wêreld het hulle natuurlik met baie ander tale en nuwe woorde in aanraking gebring, selfs enkele Afrikaanse woorde. Die Deense geleerde Otto Jespersen word aangehaal waar hy in 1905 geskryf het: "The English language would not have been what it is if the English had not been for centuries great respecters of the liberties of each individual and if everybody had not been free to strike out new paths for himself." Of die Engelse nou werklik soveel respek gehad het vir die vryheid van ander nasies is sterk te betwyfel (ek wil eintlik sê totaal onwaar), maar miskien het hulle onder mekaar wel vryhede toegelaat. Elke Engelsman kon doen wat hy wou (?) en elke Afrikaner/Boer ook, solank hy eers 'n Engelsman word!
Ons weet dat ook Nederlands talle woorde tot die Engelse woordeskat bygedra het, ek gee 'n kort lysie van 'n paar waarvan ek weet:
boom (op 'n skip of sperboom)
yacht
deck
coleslaw
caboose (Amerikaans)
dollar (Deur Vlaams vanaf Duitse Joachimsthaler, na die silwer myn van Joachimsthal wat nou in die Tsjeggiese republiek geleë is, volgens die Encarta Dictionary).
Die vraag ontstaan by my, ons, wat so sterk daarteen gekant is en die ritteltits kry as mense hulle tale meng: moet ons nie 'n bietjie meer toeskietlik wees nie? Indien wel, moet daar darem ook sekere perke gestel word, soos om nie sondermeer goeie Afrikaanse woorde oorboord te gooi en die Engelse aan te gryp nie. Nog 'n ding: moet die Engelse woorde wat so gebruik word nie summier ver-Afrikaans word nie? So kan ons dalk ons taal verryk, ek weet nie, wat sê die slimmes?
In elk geval, ek het daar geen skaamte oor dat ons, wat bv die wetenskap en tegnologie betref van Engels leen nie, want hulle het dit self iewers geleen, of sommer opgemaak! Daarom glo ek hoef ons op geen gebied vir Engels of enige taal terug te staan nie, ons kan net so goed "borrow" as hulle!
Groete,
Tiens


Kommentaar
Hallo Tiens
'Dollar' kom bloot van 'daalder' af (en die uitspraak is dieselfde!).
Die mense wat Gallies, Iers en Wallies gepraat het was, en is nou nog, Kelte.
Hulle is eintlik 'n ander ras as die Engelse en daardie tale wat hulle praat toon weinig ooreenkoms met die Germaanse tale (waarvan Engels een is). Daardie tale het wel in 'n mate oorleef maar is al meestal deur Engels verdring.
Die invloed van daardie tale op Engels is ook maar baie skraps (benewens nou vir aksent). Die 'inspuiting' wat Engels dus van die Saksers sou kry maak dus nie sin nie. Engels - die taal wat die Engelse gepraat het voor 1066 was maar 'n soort Nederduitse taal - soos Chaucer gesê het, "old English was more like to Dutch than to English." 'Window'', byvoorbeeld, kom van 'windoghe' af, ook het hulle gepraat van 'eyeren' ipv 'eggs'.
Engels is dus nie 'n mengsel van Gallies, Iers, en Wallies met inspuitings van Saksies en Frans nie.
Die analoog tussen die ontwikkeling van Engels en Afrikaans bestaan nie daarin dat, soos Engels, sal Afrikaans verryk met die meng van Engels nie maar wel daarin dat Iers, Wallies en Gallies deur Engels verdring is.
Afrikaans is wel verryk deur die opneem van vreemde woorde uit baie ander tale (insluitend Engels) maar wat op die oomblik gebeur is dat Afrikaans deur Engels verdring word.
Groetnis
Jan Rap
Oom Jan,
Waar kom die woord "daalder" vandaan?
Tiens
Vanaf 'rijksdaalder'.
Die oumense het gepraat van 'riksdalers'.
Tiens
'n Baie interesante en insiggewende uiteensetting wat waardeer word.
Beste Tiens
Baie dankie vir die inligting.Dit het my nuuskierigheid geprikkel om te kyk wat
die Encyclopaedia Britannica daaroor te sê het.
Daar is 'n lang artikel met baie verwysingsbronne en dus ongeskik vir plasing hier.
Die volgende met erkenning is 'n kort uittreksel.
"Introduction
West Germanic language of the Indo-European language family that is closely related to Frisian, German, and Netherlandic languages. English originated in England and is now widely spoken on six continents. It is the primary language of the United States, the United Kingdom, Canada, Australia, Ireland, New Zealand, and various small island nations in the Caribbean Sea and the Pacific Ocean. It is also an official language of India, the Philippines, and many countries in sub-Saharan Africa, including South Africa.
Origins and basic characteristics
English belongs to the Indo-European family of languages and is therefore related to most other languages spoken in Europe and western Asia from Iceland to India. The parent tongue, called Proto-Indo-European, was spoken about 5,000 years ago by nomads believed to have roamed the southeast European plains. Germanic, one of the language groups descended from this ancestral speech, is usually divided by scholars into three regional groups: East (Burgundian, Vandal, and Gothic, all extinct), North (Icelandic, Faeroese, Norwegian, Swedish, Danish), and West (German, Netherlandic [Dutch and Flemish], Frisian, English). Though closely related to English, German remains far more conservative than English in its retention of a fairly elaborate system of inflections. Frisian, spoken by the inhabitants of the Dutch province of Friesland and the islands off the west coast of Schleswig, is the language most nearly related to Modern English. Icelandic, which has changed little over the last thousand years, is the living language most nearly resembling Old English in grammatical structure."
Beste Jan,
Ek sien jy probeer ander mense hier op SêNet boelie, as jy dink ek kyk nie.
Groete,
Angus
Jy het nogal 'n sin vir humor.
Beste Tiens Pretorius
Aangesien niemand nog jou vraag beantwoord die volgende:
Ek kon die volgende vind op die internet:
https://nl.wikipedia.org/wiki/Daalder
In Encyclopedia Britannica verskyn die volgende inskrywing: Dollar.
https://www.britannica.com/topic/dollar