Engele om ons

  • 0

Die oggend toe ek haar ontmoet het, sal ek nooit vergeet nie. Dit was nog skaars lig buite, seker so sesuur. Ek het my op my gewone bankie by die bushalte neergeplak en in die verte in getuur. Dit sou die eerste dag wees wat ek teruggaan skool toe. Teruggaan na die werklikheid toe. Teruggaan en probeer maak of alles nou weer skielik oukei is. Ek het diep gesug met die wete dat ek almal in die oë sou moes kyk. Dan sal hulle seker iets simpatieks kwytraak asof hulle presies verstaan hoe dit voel. Asof hulle dit self moes deurmaak. Maar niemand kan ooit weet hoe ek gevoel het nie, daardie oggend, nog so rou van die seer. Op my pa se aandrang moes ek teruggaan skool toe. My pa is nou my enigste versorger. En ek, sy enigste dogter, is aan sy genade oorgelaat.

My ma was op daardie stadium net twee weke nie meer met ons nie.

Die gedagte daaraan het my weer yskoud laat word van binne en ek het dit vinnig weggedruk en gekonsentreer op die klank van die verkeer wat met ’n ritmiese, rustige tempo verby die bushalte gevloei het. Die weer was ook nie juis lekker nie. Dit was een van daardie pannekoekdae, waar die son wegkruip agter die wolke en die lug met ’n dowwe grys kleur laat. Die weer het my bui presies omskryf.

Ek wou nie teruggaan nie! Nie daardie dag al nie. Dit was nog te vroeg. Ek was nog glad nie reg daarvoor nie. Maar my pa was ook nog so verpletter dat hy my seker nie dag en nag in die omtrek wou hê sodat ek moes sien hoe hy swaarkry nie. Ek wou in elk geval nie meer in die omtrek wees nie. Die asblik was vinnig besig om te begin oorloop van al die drankbottels. Leeg tot op die bodem, party stukkend geslaan.

Dit was vir ons al twee ’n baie groot verlies. Iets wat ek nie toe, en ook nie nou, aan enigeen sal kan beskryf nie.

’n Traan het gedreig om op daardie oomblik oor my wang te begin loop, maar ek het dit darem betyds gekeer. As ek die dag só moes begin, hoe sou ek dit by die skool uithou vir ses ure? Ek het ongeduldig na my horlosie gekyk en gewens die bus wil tog nou opdaag sodat ek die dag oor en verby kon kry.

Maar net toe ek weer opkyk, het ’n vreemde gevoel oor my gespoel. En toe besef ek daar sit skielik iemand langs my. Met die eerste oogopslag voel ek hoe ek koud word. Sy het lang, krullerige blonde hare en is baie skraal. My oë het uit hulle kaste gerek. Van die kant af het sy presies soos my ma gelyk ...

Of soos my ma gelyk het voor ... nee, ek het myself nie toegelaat om daaroor te dink nie. Terwyl ek besig was om te verwerk dat dit onmoontlik my ma kon wees, het die vrou na my toe gedraai. Sy was beeldskoon. Haar oë was diepblou, soos die see, en haar vel was glansend. Sy het dadelik vir my geglimlag, so ’n sagte, simpatieke glimlag, asof sy kon raai dat iets nie lekker was nie. As sy maar  net geweet het. 

As dit enige ander dag was, sou ek seker teruggeglimlag het. Miskien selfs gegroet het. Maar dit was nie enige ander dag nie. Dit was ’n baie moeilike dag. Dit spyt my nou, maar op daardie oomblik  het ek besluit om haar pleinweg te ignoreer. Net vir ingeval sy dalk ’n gesprek wou aanknoop. En dit was iets waarvoor ek beslis nie kans gesien het nie. Dit sou al klaar erg genoeg wees dat ek dit seker by die skool sou moes doen.

Ek het my kop weggedraai en besluit om te maak asof sy nie daar is nie. Gelukkig het die bus gekom en ek het opgestaan en my skooltas gegryp.  Toe die deure oopgaan, het ek vinnig teen die trappe opgeklim en my heel agter in die bus by die venster tuisgemaak. Daar was gewoonlik maar min mense op die bus daardie tyd van die oggend. ’n Paar ander skoolkinders, ’n ou tannie of twee en ’n paar jong mense op pad werk toe. Die bus het begin wegry en sonder dat ek my kon keer, of eens geweet het hoekom, het ek vlugtig omgedraai om te kyk of die vrou nog daar sit. Maar die bushalte was leeg. ’n Koue rilling het teen my ruggraat afgeloop. Hoekom sou die vrou dan by die bushalte kom wag as sy nie die bus wou haal nie? En dan verdwyn sy net? Ek het maar my kop geskud en reg gedraai op my sitplek.

Teen die einde van daardie skooldag het ek al heeltemal van die gebeurtenis vergeet, want ek is die hele dag gebombardeer met simpatieke kyke en vrae. Daardie middag by die huis het ek op die rusbank neergeval en my skoolskoene uitgeskop, agteroor gelê en my oë toegeknyp. Ek het nie gedink dat ek die volgende dag sou oorleef ná daardie een nie. Op daardie stadium was dit net te erg. Dit het gevoel of ek eerder nog ’n paar dae se slaap nodig gehad het. Miskien nog ’n paar weke. Ek onthou hoe ek gewens het dat ek vir ewig in die bed kon klim en net my oë toe kon hou sodat ek nie teen die verskriklike moegheid hoef te veg nie.

My pa het eers laat by die huis gekom, en nugter weet waar hy was. Beslis nie by die werk nie. Hy het sterk na drank geruik en ek het nogal ’n vermoede gehad waar hy was.

Ek het vroeër die TV aangeskakel in die hoop dat ek iets kon kyk om my aandag af te lei, maar ek het nooit regtig gekyk nie. Eers toe my pa inkom en vir my sê ek beter gaan slaap, het ek in die verbygaan agtergekom wat op die skerm was. ’n Heruitsending van die ou reeks Touched by an angel. ’n Vreemde gevoel het weer eens oor my gekom en die hele nag was ek rusteloos.

 Die volgende oggend is hierdie gevoel weer eens versterk toe ek net so ’n rukkie nadat ek by die bushalte aangekom het, merk dat die vrou skielik weer op die bankie langs my sit. Maar dié keer het sy nie na my toe gedraai nie. Ek het ook maar weggekyk sodat sy nie moet dink ek staar haar aan nie. Dit was vreemd, maar die hele tyd wat ek daar langs haar gesit het, het ’n kalmte oor my gekom. So asof ek besig was om te vergeet van al my hartseer. Maar toe ek later op die bus klim, was dit weg. Weer het ek omgedraai sonder om te weet hoekom, en vir die tweede keer was sy nie meer op die bankie nie. n Paar dae het verbygegaan, maar die vrou het nie weer opgedaag nie. Die dae het vir my soos eeue begin voel, omdat almal by die skool probeer maak het of hulle presies weet hoe ek voel en heeltyd gekarring het. Wel, hulle het dit seker nou nie aspris bedoel nie. Dit was maar net vir my moeilik as almal elke nou en dan vra of ek nog oukei is en hoe dit nou met my gaan, ensovoorts. Ek het begin wens almal wil my uitlos. Dit sou beter wees só, vir my en vir hulle, voordat ek dalk iemand se kop afbyt of in’n tranedal verval.

 Ek het die vrou uit my gedagtes uitgeskakel, want ek kon nie die vreemde gevoel omtrent haar verstaan nie. Teen die volgende week het ek dit reggekry om heeltemal van haar te vergeet. Tot een stormagtige Vrydagoggend.

My pa het die vorige aand baie laat by die huis gekom, en hy het al skellend die bottel in sy hand teen die muur stukkend geslaan. Ek kon niks anders doen as om hom te los en in die bed te gaan klim nie. Ek het nie kans gesien vir sy probleme nie; ek het genoeg van my eie gehad. My skoolwerk was baie agterstallig, maar om een of ander rede kon ek my net nie so ver kry om daaroor gepla te wees nie. Elke dag het ek vir myself gesê ek sou later daarby uitkom. Maar later het nooit gekom nie, want sodra ek ’n poging aanwend om te begin, sou ’n gedagte my kop skielik binnedring en ek sou dit weer uitstel. Herinneringe oor hoe my ma my gehelp het met Algebra of Geskiedenis. Vakke waarmee ek nie goed was nie. Sy was ’n boffin. My ma was goed met alles. In elk geval, ek het so laat in die bed gekom dat ek die volgende oggend heeltemal verslaap het.

Dit was erg bewolk en mistig. Natuurlik het die eerste reëndruppels al begin val die oomblik toe ek my voet by die deur uitsteek. Ek moes bushalte toe haas om die bus betyds te haal en het nie tyd gehad om ’n sambreel te gaan soek nie, wat wie weet waar in ons deurmekaar huis was. Die bus was gelukkig – of ongelukkig – nog nie daar nie. Ek moes maar so in die reën op die bankie sit en wag. Maar na ’n ruk het ek gemerk dat ek glad nie besig was om nat te word nie. Dis toe dat ek besef iemand sit langs my, besig om ’n sambreel oor my kop te hou. Ek het byna verstar toe ek sien dat dit sy was. Die vrou het weer langs my gesit. Sy het die sambreel oor my gehou; net ’n klein stukkie daarvan was oor vir haar. Maar dit het nie gelyk of dit haar pla om nat te word nie. Die bus het op daardie oomblik gekom en ek was te verbaas om iets te sê. Ek het vinnig opgeklim en nie agtertoe gekyk nie. Daardie vreemde gevoel het die res van die dag by my gespook. Om watter rede sal ’n wildvreemdeling haar sambreel vir my hou en self nat word? Dit het net nie sin gemaak nie. Ek het half skuldig gevoel dat ek nie dankie gesê het nie, maar ek het nooit eens agtergekom dat sy besig was om dit te doen nie.

Daardie aand het ek weer gesukkel om aan die slaap te raak. Alles in my kamer het my gedurig aan my ma herinner: die gordyne wat sy ’n paar jaar terug vir my gemaak het, die mure wat sy as verrassing vir my verjaardag geverf het. Selfs die kussing wat uit die hoofslaapkamer kom, het nog soos sy geruik. Die trane het gedreig om te kom, maar ek het dit soos gewoonlik weggesluk. Dit sou niks verander nie. Op daardie staduim het ek so alleen gevoel. En soos die dae verbygeloop het, was daar ’n diep holte in my hart. So asof ek regtig heeltemal alleen was. Die kinders by die skool het al hoe minder met my gepraat. Miskien oor ek hulle begin ignoreer het. Of miskien was dit oor niemand meer geweet het wat om vir so iemand, iemand in my situasie, te sê nie. Die onderwysers het my seker te jammer gekry om my uit te haal oor agterstallige werk, want al was my huiswerk byna nooit gedoen nie, het hulle net verbygestap en niks gesê nie. My pa was al hoe minder by die huis. En elke aand as ek in die bed gelê het, het ek hom al skellend hoor inkom. En in die oggend was ék die een wat sy drankbottelgemors moes skoonmaak en optel.

Só het ’n hele paar maande verbygegaan, todat dit al amper drie maande was vandat my ma oorlede is. En in daardie hele tyd kon ek glad nie van haar vergeet nie. Ek kon nie gelukkig voel nie, al het ek probeer. Ek was net die heeltyd lus om liewer te slaap. ’n Hele paar oggende in daardie tyd het die vrou by die bushalte opgedaag sonder dat ons ooit enigiets vir mekaar gesê het of selfs na mekaar gekyk het. Ek het niks gesê oor die sambreelvoorval nie, en sy ook nie. Sy het ook maar net voor haar gekyk, en ek het besluit om dieselfde te doen. Ek kon nog steeds nie uitpluis hoekom sy my so eienaardig laat voel het nie. Dit was baie vreemd, maar sy het ook nooit op die bus geklim nie, en as ek soms teruggekyk het, was sy soos daardie eerste twee kere ook nie meer by die bushalte nie. 

En dit was hoe my tyd begin verloop het. Half ’n roetine, amper. Tot een dag, toe die roetine heeltemal omvergegooi is. Vir die hoeveelste maal het ek in die kombuis ingekom om die drankbottels op die vloer te sien lê. Ek het gebuk om dit op te tel. Skielik het iets my aan my hare teruggeruk. Dit was my pa. “Wat doen jy!” het hy geswets. Ek het weggeruk en na hom toe gedraai. “Ek maak die gemors skoon,” het ek geantwoord. Hy was natuurlik nog dronk.

“Los dit uit; dis myne!” Hy het my aangegluur.

“Dis leeg en stukkend, Pa.” Ek was half huiwerig om te antwoord.

“Los dit nog steeds uit. Loop nou net; toe, loop.” Hy het my voordeur toe gestamp. Ek het maar my tas by die deur gegryp en bushalte toe gestap, al was dit nog heeltemal te vroeg vir die bus. Ek het nie juis omgegee nie. Ek wou in elk geval nie in die huis wees as my pa in so ’n bui was nie. Dit het my half bang gemaak om hom so te sien. Hy was glad nie meer dieselfde man as drie maande gelede nie. Toe was alles nog reg. ’n Gedagte wou net by my opkom oor hoe lekker ek en my ma en pa saam kon lag en grappies vertel en aandete maak, toe ek skielik voel hoe iemand ’n hand op myne plaas. Verskrik het ek opgekyk. Dit was sy, natuurlik. “Wat’s fout, kind?” het sy gevra en my met ’n simpatieke frons aangekyk.

Skielik het iets binne my gebars en ek kon nie meer die trane inhou nie. Dis asof die vrou my geken het, asof ek geweet het ek kon maar met haar praat. “Ek kan sien jy is hartseer. Vertel my asseblief –miskien kan ek jou help.” Sy het so ’n sagte, rustige stem dat al my pogings om bedaard te bly, tevergeefs was. Sy laat my so aan my ma dink. En voor ek my kon kry, was ek besig om my hartseer verhaal aan hierdie vreemde – alhoewel nie wildvreemde – vrou te vertel. Van hoe my ma met breinkanker gediagnoseer is en die dokters niks vir haar kon doen nie. Hoe sy haar hare verloor het en brandmaer geword het van die chemo. Hoe dit op die ou end nie gehelp het nie. Die ergste was dat ek nie eens kon totsiens sê nie. Toe ek en my pa daardie nare oggend by die hospitaal aangekom het, was dit reeds te laat. Sy was weg. Vir ewig.

Die vrou, wie se naam ek nog steeds nie geken het nie, het stil na my geluister. Toe ek klaar was, het sy weer my hand in hare geneem. ’n Gevoel van kalmte het oor my gekom. “Jou ma wil nie hê jy moet hartseer wees nie, Katryn. Sy is baie lief vir jou en jou pa. Geniet jou lewe – jy's nog jonk. En onthou, sy is baie lief vir jou.” Op daardie selfde oomblik het die bus gekom. Vandag wou ek nie juis opklim nie. “Jy moet nou gaan.” het die vrou vir my gesê en self opgestaan. Verdwaas het ek haar toegelaat om my na die bus toe te lei en ek het opgeklim. Toe ek omdraai om haar te groet, was sy reeds weg. Ek het op my gewone plek gaan sit en by die ruit uitgestaar. Toe eers besef ek wat sy gesê het. En sy het my op my naam genoem. Hoe het sy dit dan geweet? Ek het dit nooit vir haar gesê nie. En sy't gesê my ma is lief vir my. Dit het nie voorheen by my geregistreer nie. Tot vandag toe het ek haar nog nooit weer gesien nie, dink ek terwyl my meisiekind sorgeloos in die tuin rondhardloop. Haar woorde het altyd by my gebly en mettertyd het ek beter begin voel. Dis snaaks dat sy my só beter kon laat voel, so asof sy my gehelp het om oor alles te kom sonder om regtig veel te doen, en sonder dat sy my eens geken het.  Ek het ’n baie sterk gevoel dat ek weet wie sy regtig was ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top