Engel op besoek
die vrou is in nirwana, in ekstase van die proe
suurlemoen en vyestroop drup van haar lippe
mascarpone ferweel ’n vanilla-soen
kommas van haar volroomsinne
is deurdrenk met sjerrie, ingelê in geklopte room
vergete woorde vlei hul luiweg teen haar aan
wil week in laventelheuning, sy’s loom
’n lotuseter, wyn en maan
sy’s lus en lek die Amarula, die sjokolade
die dwelm wat teen haar elmboë af loop
in haar bed vind sy steranys-sade
veer en granaatpit op haar sloop
’n engel het die framboos-maan oor die horison laat hang
sodat sy dit daar op ’n someraand kon vang
![]() |
![]() |