En wat is jóú verskoning?

  • 0

Die week in woorde

2012 was ’n goeie jaar vir lees. Ja, ek sê “was”, want dit raak nou daai tyd van die jaar wanneer mens begin met ernstige nabetragting. Wat het van die jaar geword? Wat het jy met jou ure gemaak? Waarheen is jou goeie voornemens?

Één van my goeie voornemens het heeljaar baie mooi op dreef gebly. Ek besluit byna elke jaar dat dié jaar die een sal wees waarin ek dit uiteindelik regkry om 52 boeke te lees – een vir elke week van die jaar. In 2008 het ek baie ampertjies geslaag, en in 2011 was ek ook goed op pad. Maar teen Desember 2012 lyk dinge beter as ooit tevore, met baie byna een boek op die kerfstok vir elke week, en nog genoeg tyd om noodstappe te doen om in te haal indien nodig.

Ek voel trots op my leeslus: lees is tog noodsaaklik vir enige skrywer, die een ding wat alle skrywers aanbeveel vir ander voornemende skrywers, een van die beste maniere om die “tricks of the trade” te leer.

So waarom dan die narerige kol op my maag? Omdat ek nie skryf nie, dís waarom.

Vandeesweek kom ek op ’n uittreksel uit Susan Sontag se dagboek af, waarin sy ’n lysie maak om haar eie produktiwiteit as skrywer te verbeter. Tussen die vroeër opstaan en die minder lang etensure met vriende, skryf sy: “I will try to confine my reading to the evening. (I read too much – as an escape from writing.)”

Daardie laaste vier woorde, “an escape from writing”, het my naar kol ’n naam gegee. Ek dink ek weet lankal ek soek al wat ’n verskoning is om nie te sit en skryf nie, maar ek dink nie ek is eerlik oor hoeveel van my leeslus eintlik net ’n nie-lus-om-te-skryf-nie-ondertoon het nie. Ek vlug nou al heeljaar vir die wit papier, kruip weg agter blaaie en blaaie, vol gedruk met ander se woorde, en gryp na die naaste boek/koerant/blog/papboks sodra daardie skrywerige gekriewel teen my ruggraat begin opkruip.

Maar noudat ek weet wat gaan vir wat, gaan ek my bes probeer om my vrees vir skryfpapier te konfronteer en my leesdrang te beheer. (Die tydsberekening kon egter nie slegter wees nie – ek is in die middel van die Harry Potter-reeks, en die tyd loop uit vir my lees-uitdaging aan myself. Maar dalk is dit oukei om die mikpunt met ’n boek of wat mis te loop as daar wel een of twee woorde van waarde in ’n notaboek geskryf word? Ek weet nie.)

Hier is my voorneme: ek gaan vandag nog iets skryf. Netnou. Bietjie later. Sodra ek weet wat met Harry gaan gebeur in sy vierde jaar by Hogwarts.

En jy? Wat’s jóú verskoning?


Dis als haar skuld: JK Rowling, skrywer van die Harry Potter-reeks.

 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top