En vergewe ons ons wonde

  • 1

“En vergewe ons ons wonde” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

En vergewe ons ons wonde
(Aan Erika, op haar twee en veertigste verjaarsdag)

Deesdae is my knie dikwels styf, met ’n pyn wat al hoe dieper aan die binnekant sny as ek ver stap. ’n Handvol lekker pilletjies of ’n kortisooninspuiting bring tydelike verligting, maar dit sal mettertyd net erger word, weet ek. Die littekens het goed geheg, netjies deel van my lyf geword, behalwe dáár waar die vel dun gerek is, asof die wond met moeite bymekaar getrek en toegewerk is.

Wanneer ’n geliefde of nuuskierige daaroor vra, vertel ek enige losgat storie wat ek wil. ’n Motorongeluk, ’n sportbesering, ’n valskermsprong met ’n skewe landing. So kry elke terapeut ook ’n ander weergawe – hoe meer Freudiaans, hoe meer geniet hulle dit. Maar nooit, nooit die regte storie nie.

Aan Erika, wat dié dag van die ongeluk saam met my was, dink ek selde. Familie dra soms stories aan oor hoe sy deesdae net ’n skaduweetjie is, dat sy by ’n man bly wat haar tot in die hospitaal gebliksem het, en toe vat sy hom wragtig terug. Toe Oom Tom, Erika se pa en my pa se halfbroer, aan ’n vinnige hartaanval sterf – of só het Erika se ma, Tannie Suzanne, beweer terwyl almal natuurlik weet hy het in sy eie braaksel verstik – was niemand verbaas dat my pa nie die begrafnisdiens bygewoon het nie.

Ek voel dus half gedisoriënteerd toe ek vanaf ’n vreemde nommer ’n stemboodskap op my selfoon kry. “Alida, dis Tannie Suzanne, Erika se ma. Jy onthou seker? Kan jy my asseblief tog by dié nommer kontak?” Ná twee verdere boodskappe – “Alida, asseblief?” – is ek nuuskierig genoeg om terug te bel.

“Erika is weer opgeneem. Dieselfde ou storie, maar nou ja. Sy het mooi gevra of sy jou dalk kan sien.”

Ons skep albei hoorbaar asem.

“Alida? Ek sal verstaan as jy nie wil nie, regtig. Dink net daaroor.”

Daardie nag word ek gereeld wakker, elke keer met ander herinneringe aan Erika.

Een maal droom ek dat ek weer in ’n rolstoel is.

***

Ek is twaalf jaar oud.

“Jy gaan die skoolvakansie ’n maatjie hê,” vertel my pa terwyl hy die spieëltafel in my kamer teen die duskantste muur skuif, en dan vra ek moet help om die bunkbed vanaf die sonstoep in te dra. My wêreld lyk dadelik anders. “Sy is net so oud soos jy en haar naam is Erika, soos die liedjie oor ’n heideblom,” neurie hy.

Dit is sy halfbroer, Oom Tom, se dogter wat by ons kom kuier, vind ek uit. My ma noem Oom Tom ’n gladdebek gomgat wat bakhand deur die lewe ploeter, en sy merrie van ’n vrou Susan, kastig nou Suzanne, wat net stil is as sy slaap of uitgepass het.

My pa steur hom nie aan my ma nie.

“Ons het ’n groot huis en dit is wat familie vir mekaar doen.”

“O, en van wanneer af?”

“En dit sal vir Alida goed wees om nie meer heeltyd so op haar eie te wees nie.”

Laat die aand hou ’n motor met ’n skraperige onderstel voor ons huis stil, half oor die sypaadjie, en laat waai met ’n toeter wat soos ’n verbouereerde eend hyg. My pa, wat heeldag ongeduldig was, stap vinnig uit. Kort daarna kom hy terug met ’n tas, ’n paar winkelplastieksakke en Erika.

Erika lyk vir my meer na ’n rietrot as die mooie heideblom waarvan my pa gesing het – reguit strepiesbene, ’n spitsgesiggie, vaal stringhare wat verlep met ’n rekkie vasgemaak is, ’n aartjie wat oor haar voorkop bult en spleetoë waarmee sy ons een ná die ander dophou. Alles aan haar is skraal, selfs haar lippe. Haar rok is te klein en terselfdertyd te groot – heeltemal te kort om haar boudjies en dan vormloos los om haar skouers.

My ma, steeds stram, neem vir Erika na my kamer om haar tas uit te pak. “Ons moet môre vir die kind gaan klere koop,” sê sy later aan etenstafel. “En iets aan haar hare probeer doen. ’n Mens kry nie ’n kam deur al die koeke nie.” Erika sit terug in haar stoel en trek haar mond nog dunner, haar kos koud en vetterig.

Teen bedtyd het ek en Erika skaars ’n woord met mekaar gepraat, maar ek kan my oë nie van haar afhou nie. Haar slaapklere is ligblou met valletjies om die some en ruik na swaar parfuum. Sy is stil – geen kug, snuif of sluk, geen sug of gaap nie.

Deur die muur van hul slaapkamer hoor ek my ouers in hul geïrriteerde aandstemme praat. Soms slaan my ma se stem hoog deur. Ek is al gewoond dat hulle meestal kwaad en ongelukkig is, maar voel verleë toe ek sien Erika luister ook.

Nadat dit stil raak, net voor ek slaap, praat Erika.

“Ons moet ’n bende maak,” sê sy. “Ons moet ons duime sny en ons bloed meng en ’n bende maak.” Met ’n knipmes wat sy onder haar kussing uithaal, sny sy ons duime en druk dit teen mekaar. ’n Straaltjie bloed loop tussen ons vingers deur.

En net so maak sy vir ons ’n nuwe lewe, ’n wêreld wat oopgaan en aan ons behoort. Fluister-fluister, net ons twee. Ek sal haar volg, orals waar sy gaan, het ek dadelik geweet.

In ’n seringboom, met behulp van my pa, slaan ons planke kruis en dwars tussen takke, bessies en verwilderde spreeus vas vir ’n vloer, met ’n sinkplaatdak hoër op tussen soet, pers blomme. ’n Slordige nes waar ons vir mekaar stories van rykdom en roem vertel, van mooi mans en ewige liefde en ’n lang reis weg van alles en almal. Haar ma is beste vriende met Anneline Kriel en drink heeldag saam met haar cocktails, en haar pa lyk soos die cowboy in Bonanza, vertel sy terwyl ons spoeg-spoeg my pa se Lexingtons suig.

Wanneer my ouers nie tuis is nie, neem ons oor en vat wat ons wil. Kleingeld, naelpolitoer, You’re the Fire-parfuum, ’n pak Kotex uit my ma se onderste laai en ’n bottel Black Label uit die yskas. Niks is meer verbode nie. Ons nes word ’n huis, later ’n paleis soos ons alles boom-op sleep, meestal skatte wat Erika met haar stil rotlyf by OK Bazaars gaps – stringe plastiekpêrels, blikkerige ringe met vals edelstene, haarknippies met skoenlappers, fyn onderklere wat te groot vir ons is, ’n paar witraamsonbrille en ’n helder lipstiffie. By CNA vat sy ’n Springbok Hit Parade Top 20-kasset wat ons speel totdat die stemme in die middaghitte smelt.

Ek onthou hoe gelukkig ek was.

Die eerste keer is dit onverwags.

“Kom, kom,” sê Erika terwyl sy oor die bure se heining klim om klippe in hul swembad te gooi. Ek sukkel, kry myself nie oor die heining gelig nie, my elmboë nerf-af probeer. Toe sy terugklim, praat sy nie met my nie. Sy stap vooruit huis toe, draai haar kop weg en spoeg.

“Jy het my op my eie gelos.”

“Ek kon nie …” probeer ek verduidelik, maar sy luister nie.

Ou bangbroek, ou vettie, ou piepie-in-die-kooi, en selfs toe ek huil hou sy nie op nie. Dit voel soos ’n dood, ’n einde aan alles, tot die volgende dag wat ons weer boomklim en nuwe stories opmaak asof niks gebeur het nie.

Mettertyd word ek versigtig, leer dat ’n gewone dag binne sekondes kan draai – ’n skewe kyk, ’n halwe sin, ’n vals noot, en skielik doen ek alles verkeerd. Al my sondes word opgenoem; ek praat te hard, ek lieg vir haar, ek praat nie genoeg met haar nie. Ek dink ek is beter as sy, ek dink ek is mooi, ek hou my slim. Daar is heeltyd onheil.

Laat een nag maak sy my wakker met ’n skêr in haar hand. Ek keer vir my keel, maar sy kry my aan die hare beet en sny ’n happerige halfmaan uit my kuif. “Nou is jy nie meer mooi nie.” Vir die res van die aand slaap sy langs my en hou my vas, my hand steeds teen my keel.

My ma huil toe sy my sien. “Hoekom moet julle só wees?”

Geen wonder, sê ek later vir ’n terapeut, dat die emosies wat ek met liefde assosieer meestal met vrees en vernedering gepaard gaan. Vir dieselfde terapeut vertel ek hoe Erika my by die diep kant van die swembad instamp. Ek kan nie swem nie en ná ’n snot-en-water gespartel kry ek uiteindelik die swembadrand beet. Sy hou haar hand na my om my uit te help. Ek neem haar hand en sy help my uit die swembad.

Erika is ook die eerste mens wat my oopmond en met ’n stywe tong soen, die eerste een wat met my klein, seer borsies speel en die eerste maar beslis nie die laaste een wat my ’n oorveeg deur my gesig gee nie.

Ek sê nooit iets nie. Ek is nie ’n klikbek nie en sy is my geliefde boelie.

***

Kort voor my besoek aan Erika bel Tannie Suzanne weer en vra of ek asseblief vir Erika ’n pakkie sigarette en sjampoe kan saamneem? En ek moet tog onthou dis amper haar verjaarsdag, presies ’n week ná myne. Ons ouma het destyds gehoop ek en sy word op dieselfde dag gebore, maar nou ja, toe is Erika ’n week laat. “Sy het mos altyd net gedoen wat sy wou, nè,” lag Tannie Suzanne.

’n Verpleegster stap saam met my deur die wit gange met reuke van gestrykte ou lakens en groen tandepasta. Ek hoor iemand smeek en dit voel asof ek afluister. “Net vyftien minute,” sê sy. “Die pasiënt moet baie rus kry.”

Erika wag onder ’n koelteboom in die agtertuin

“Hel, dit lyk soos ’n hotel hier,” groet ek en tree doelbewus terug sodat ons nie hoef te omhels nie.

“Ja, jong, ek is al ’n eregas.”

Ons lag, dankie tog. Sy is bly oor die sigarette en steek dadelik een aan.

“Vir jou?” en sy hou die pakkie uit.

“Nee, nee, dankie.”

“Ah, jy is reg soos altyd. Duiwelse gewoonte; ek moet ophou. Jy het nie dalk ’n biertjie ook gebring nie?” Ek lag, maar vermoed dis nie ’n grap nie.

“Dis so goed om jou te sien, Alida. Was dit regtig dertig jaar gelede? Hoeveel het ek al oor jou gewonder, hoe dit met jou gaan en met jou ouers?” Haar stem is hees en sag.

“My pa is okay. Ons praat darem nou met mekaar. En my ma is weer getroud. Sy stuur vir jou groete,” sê ek.

“O hel, jou ma het my gehaat en ek wou nooit haar kos eet nie. Kyk nou net.”

“My ma het almal gehaat.”

Ek wil nie te veel vra nie, luister net.

Hierdie keer sal sy beter word, gesond word, nie weer vir sy stories val nie. Sy sal dalk soos ek studeer en iets van haar lewe maak; dis nog nie te laat nie, ’n mens kan enige iets doen as jy wil, of sy wil ’n fotografiekursus neem, ’n klein besigheidjie begin, deur Amerika reis en au pair, en alles sal tog regkom. Ek luister na haar uitasem rympie van terapieclichés wat ek so goed ken, en vir ’n oomblik word ek oorweldig deur hoe lief ek eens vir haar was. Dan raak haar stem weg. Jammer, sê sy, die pyp het haar keel seergemaak. Ek kyk op my horlosie na hoeveel tyd ons oor het.

“Jy het toe ’n skrywer geword, nè?” vra Erika. “Jy was altyd ’n beter storieverteller as ek.”

“Jy kon vinniger hardloop.”

Sy lag nie dié keer nie.

“Jy moet eendag ons storie skryf, sal jy? Oor hoe jammer ek is.” Hier kom die nabetragtingsdiens nou wat ek so graag wou vermy.

“Nee man, ons was snotkinders. Sulke dinge gebeur.”

Erika steek nog ’n sigaret aan, hou weer die pakkie na my uit asof sy nie onthou sy het al voorheen nie. Haar hand bewe.

“Ek het nou die dag vir my psigiater van daardie dag vertel en dis toe ek geweet het ek moet jou sien.”

“Dis nie nodig om daaroor te praat nie, Erika, regtig.”

“As kind het ek hoeveel keer gebid dat God, enige God, my moet vergewe. Asof die vergifnis van ’n onsigbare wese alles sou regmaak. Daar is min mense so selfbejammerend soos iemand wat om vergifnis bid, glo my. As jy ons storie skryf, moet my asseblief nie vergewe nie, Alida. Skryf net hoe jammer ek is.”

Sy leun vooroor, sit haar hand op my knie. Ek kan sien waar ’n binneaarse drip tot onlangs in haar arm was.

“Sal jy my wys hoe jou wond nou lyk?”

Ek draai skuins, weg van haar.

“Watter storie moet ek skryf, Erika?” vra ek, en ek luister aandagtig terwyl sy vertel.

***

My pa neem ons begraafplaas toe om blomme op ons grootouers se graf te sit. Dis my ouma en oupa aan my pa se kant. Erika wil nie saamgaan nie en is die hele tyd kort-af en nors. Hulle is langs mekaar begrawe, maar dit was blykbaar ’n groot familieoorlog oor waar Ouma begrawe wil word. Sy het hom gekies, haar eerste man.

“Die slag was hard, die skok so groot. Hoe skielik was hy dood,” staan op sy grafsteen. Hy het op die spoorweë gewerk en tussen twee treintrokke ingeval.

Erika kyk nie eens nie. Sy tel ’n paar klippe op en gooi dit anderkant toe.

“Sy is jou ouma ook, Erika,” sê my pa.

“Ja, maar hy is niks van my nie,” sê sy.

Later in ons nes trek sy haar oë op splete en lek haar lippe af.

“Jou oupa was ’n rondloper en ’n dronkgat, nes jou pa. My pa sê so. Hy was poepdronk toe hy tussen die treintrokke ingeval het. En ná ons ouma dood is, was jou fokken pa voor in die koor en het alles gevat. Dis waarom ons so arm is. ”

Ek is verslae oor hierdie inligting.

“Jou pa gaan jou ma ook los. Jy sal sien,” en haar bo-lip lig oor haar rottandjies.

Ek wil nie weer huil nie; ek wil nie meer ’n bangbroek wees nie.

“Hulle gaan jou nie kom haal nie, Erika,” sê ek. “Jou gomgat Bonanza-pa en jou ma wat kamtig saam met Anneline Kriel drankies drink, wil jou nie hê nie.”

***

En hier is wat Erika vir haar psigiater, en nou vir my, vertel: Sy kan nie onthou wie eerste begin huil het nie, maar sy weet sy het haar hande gelig en my teen die bors gestamp, so hard dat sy gedink het sy kan vir ’n oomblik my hart voel klop. Toe sy weer stamp, gee ek mee en val agteroor, probeer tussen hemel en aarde ’n tak gryp, maar gryp net blare. Sy het dadelik geweet dit is ernstig, want ek het soos ’n dier geskree.

“Erika,” sê ek toe sy hierdie storie in die goedversorgde tuin van ’n psigiatriese kliniek aan my vertel, “jy is die enigste een wat toegang het tot daardie paar sekondes van daardie dag in my lewe. Is dít wat jy onthou?”

Vir geruime tyd daarna wonder ek of dit ’n triek is wat Erika op my speel om soos altyd met my kop te fok. Is dit hoe sy daardie dag onthou en hoe is dit moontlik? Ek het altyd gewonder waarom sy niks gesê het nie, maar nou besef ek dat sy dalk nie weet nie.

***

Ek is jammer dit het my so lank geneem om hierdie storie te skryf, liewe Erika. Ná ons vyftien minute het die verpleegster my kom haal en deur die wit gestrykte pepermentgange na buite geneem, maar halfpad wou ek omdraai en teruggaan na jou toe, na daar waar ek jou onder die koelteboom in die tuin gelos het, en vir jou my storie vertel. Dalk sou jy dan onthou en alles sal tog regkom.

Ek wou jou vertel dat jy my nie agteroor gestamp nie, Erika. Jy het nie eens aan my geraak nie. Jy het jou hande gelig om jou gesig toe te hou sodat ek nie kon sien jy huil ook nie. Dit was ék wat my liggaam vooroor gegooi en gespring het. Dit was nie hoog nie; ek sou val en almal sal dit sien, ek sou huil en jou blameer. Ek was moeg om ’n bangbroek piepie-in-die-kooi te wees. Dan sou jou ouers jou moes kom haal en ek sou weer ’n alleenkind wees. Natuurlik was die plan nie dat ek moes seerkry nie. Ek kon nie weet dat my knie sou draai en meegee nie. Vir ’n oomblik, onthou ek, was my gevoel van oorwinning sterker as die pyn, en bo in die boom het jy soos ’n verskrikte rot sit en bewe.

Die dokter het meer as een maal opereer om als in my knie bymekaar te hou. My ma het dae langs my hospitaalbed gesit. Hoe kon ons dit ooit aan jou doen, het sy oor en oor gevra. My pa het sy arm om haar skouers gesit. Hulle was weer saam. En jy is weg, van een huiwerige familielid na die ander aangegee totdat jy in pleegsorg geplaas is.

Wie se verdiende loon, wie se straf en wie se skuld ons steeds aan dra, weet ek nie. Maar ek skryf uiteindelik hierdie storie vir jou op jou twee en veertigste verjaarsdag. Jou ma het vanoggend weer gebel. Jou hart kon nie meer nie.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Roela Hattingh

    Wat 'n storie! Ek moet dit meer as eenmaal lees om als in my hart en kop bymekaar te hou. Baie geluk, Mercia!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top