En toe kom jy deur Nerine le Roux: ’n resensie

  • 2

Titel: En toe kom jy
Skrywer: Nerine le Roux

Uitgewer: Romanza

Ek kan nie glo dat ek nog nooit voorheen ’n boek van Nerine le Roux gelees het nie. En sowaar, ek het sommer baie lekker aan haar jongste Romanza getiteld En toe kom jy gelees. Dit word onder die vaandel “Modern” uitgegee. Nerine woon in Pretoria en is lief vir die natuur, geskiedkundige plekke en stories. Sy hou baie van lees en het glo heelwat stories van haar eie in haar kop. Ek is so bly om dít te hoor, want ek gaan vir seker op die uitkyk wees vir nog van haar boeke. Vorige Romanzas uit haar pen is onder meer: Optelgoed is trougoed (2020) en Een dag op ’n slag (2021). Gaan loer gerus hier na watter ander boeke uit haar pen verskyn het.

In En toe kom jy ontmoet die leser vir Samantha de Wet, ’n skilder, en Zak van Deventer, ’n skrywer wat ook vir ’n internasionale veiligheidsmaatskappy werk. Hulle ontmoet op Kruisklipbaai toe Zak vir Samantha en haar 80 kg-hond, Wolf, uit die see moet red nadat ’n bedrieglike seestroom hulle al nader aan skerp rotse meegesleur het.

Die twee karakters voel dadelik gemaklik by mekaar, maar ... En dit is hier waar die mooi en lekkerte van die teer verhaal ontvou. Albei karakters kom met bagasie en wil nie in ’n verhouding betrokke raak nie. Hulle besluit om net vriende te wees. Maar liefde het ’n manier om soms ongesiens in ’n mens se hart te kom kruip en heling te bring. Dit is wat met hierdie held en heldin gebeur.

Die taalgebruik is mooi keurig en die teksversorging netjies. Die verhaallyn is goed uitgedink en ontplooi teen ’n gemaklike pas. Net so is die karakters goed afgerond en, baie belangrik, menslik. Die leser kan met hulle identifiseer en het begrip vir beide se aanvanklike terughouding en huiwering om tot die volgende stap oor te gaan. Die newekarakters is almal funksioneel en word goed genoeg beskryf dat ’n mens ná die lees van die boek weer aan hulle ook terugdink.

En toe kom jy is nie ’n soetsappige liefdesverhaal nie. Ook word die seer en vertwyfeling van die karakters nie oordryf nie. Hulle is nie slagoffers van hul verledes nie en word nie as afvlerkvoëltjies voorgehou nie. Albei probeer wel hul bes om te oorleef, te bly funksioneer en sin te maak van hul onderskeie verliese. Hulle is suksesvol in hul beroepe en gemaklik in hul eie vel. Beide verkies afsondering op hierdie stadium van hul lewens. Dit is goed en heilsaam tot op ’n punt.

Nou het hulle mekaar ontmoet. Gaan hulle vashou aan hul verledes of gaan hulle die moed hê om ruimte vir mekaar te maak en ’n lewe saam tegemoet te gaan? Op ’n stadium lyk dit nie so nie. Die gebeure wat hulle by mekaar uitbring, is heerlik uniek en spanningsvol.

Ek waardeer die feit dat hierdie ’n skoon storie is. Ja, daar is heerlike fisieke aangetrokkenheid tussen Samantha en Zak, maar dis nie ’n blatante gegryp, gevroetel, gevat en gevry nie. Daar word meer op die emosionele ontwaking gefokus as op die lyflike. Of kom ek stel dit eerder só: Daar is gesonde balans. Ek vind dit verfrissend dat die skrywer nie die karakters in die bed laat beland nie, maar dat hulle hul gevoelens kan uitsorteer sonder dié bykomende komplikasie.

Die afgelope ruk het ek heelwat Romanzas gelees waarin honde as troeteldiere ook sterk figureer. Een so ’n Romanza is Tosca de Villiers se Dubbelspel vir haar hart. Becky is die naam van haar vierpotige karakter wat ’n groot deel van die storie uitmaak. In En toe kom jy is dit die grote Wolf wat pens en pootjies sy plek as volwaardige karakter volstaan. Ek bewonder die skrywers wat dieremaniere, -gewoontes en -emosies so goed ken en verwoord dat dit vir die leser voel asof die storie nie volledig sal wees sonder die dier nie.

Ek is ook baie bly dat die leser vir Samantha en Zak buite Kruisklipbaai leer ken. Dit bring ’n opwindende ander dimensie na die verhaal, verál wanneer die leser die kans kry om ’n kykie in Zak se beroepslewe te kry. Die gevaarlike situasie wat in die later deel van die boek afspeel, word heel geloofwaardig en professioneel hanteer. Ek vermoed die skrywer het advies ingewin oor hoe sulke tipe situasies gewoonlik beredder word. Weer eens is daar balans in haar skryfwerk. Sy belig die erns van die spanningsvolle gebeure en moontlike nagevolge, maar nooit op ’n manier wat die leser laat voel dit raak nou te dik vir ’n daalder nie. Die held bly menslik en ontpop nie skielik in ’n superman wat spesiale effekte nodig het om met sy testosteroonvlakke te spog nie.

Ek beveel Nerine le Roux se En toe kom jy heelhartig aan. Ek het die storie baie geniet. Dit is beskikbaar by goeie boekwinkels en kan ook hier of hier (e-boek) aangekoop word.

  • 2

Kommentaar

  • Petra Pienaar-Nel

    En wat is fout met 'n gegryp, gevroetel, gevat en gevry? Ons swyg maar oor die dubbelsinnige titel van die boek...

  • Nico M Ferreira

    "Ek waardeer die feit dat hierdie 'n skoon storie is." Hoekom het sy nie eerder die sin geskrap nie? Onmiddellik het ek die "resensie" afgegradeer tot op die vlak van 'n "lesersindruk".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top