En as die verkoopsman jou 'n rat voor die oë draai?

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Bron: pretraveller.com

Jare gelede moes ons ons gesinswoning in Johannesburg verkoop toe ons na die Suid-Kaap verhuis het. Ons het 'n eiendomsagent genader om die huis in die mark te plaas en toe dit die Sondag in 'n koerant geadverteer is, het ons gelê soos ons lag oor die agent se ophemeling van ons betreklik beskeie woonplek. Die gebou was wel van klinkersteen, en daar wás 'n dubbele glasskuifdeur – wat, terloops, 'n lekker inbreekplek was – maar ons almal het gevoel dat om die huis te beskryf as "a fantasy of brick and glass" 'n bietjie dik vir 'n daalder was.

Maar die huis is uiteindelik verkoop, en na al die jare het die koper my nog nie kom aanskryf vir wanvoorstelling of so iets nie.

Die Engelse het 'n baie beskrywende woord vir dié ou laai van verkopers om hul ware op te vysel: hulle noem dit "puffing", 'n gebruik waaraan die reg normaalweg nie gevolge heg nie. As die gebruikte motor wat as die "beste transaksie van die eeu" vir jou aangebied is, tog maar 'n paar skete het, of as die druiwe of perskes wat jy by die vrugtestalletjie langs die pad gekoop het, nie heeltemal "die soetste in die Kaap" is nie, kan jy normaalweg nie die transaksie kanselleer en jou geld terugeis nie. Jy sal ook nie maklik slaag met 'n eis om prysvermindering nie.

Gelukkig is daar egter perke aan die opvyseling van produkte: as jy sekere onwaarhede in verband met die produk of koopsaak as feite aanbied, kan jy probleme verwag, soos ene mnr Harilal van KwaZulu-Natal – dit rym nogal – ontdek het. Hy het sy plaas vir 'n agent gegee om per openbare veiling te verkoop. Die agent het nie tyd gehad om die plaas self te besoek nie, maar in oorleg met die eienaar het hy 'n advertensie gepubliseer waarin die stuk grond as "'n uitstekende suikerplaas" beskryf is.

'n Sekere mnr Milne het die advertensie raakgesien en, sonder om die eiendom behoorlik te ondersoek, daarop gebie. Die bod is op hom toegeslaan, en hy is in sy noppies daar weg om sy winskoop te loop deurkyk. Groot was sy ontsteltenis egter toe hy ontdek dat sy "uitstekende suikerplaas" inderwaarheid 'n klipperige stuk aarde was wat plek-plek só steil was dat g'n suikerriet ooit daar verbou sou kon word nie. Trouens, 'n opname het aan die lig gebring dat slegs sowat 500 akker van die totale 1 100 akker waaruit die plaas bestaan het, bewerk kon word.

Intussen is die verkoper, mnr Harilal, bankrot verklaar – wat 'n mens laat dink dat hy rede gehad het om suinig met die waarheid oor sy plaas te wees, in 'n laaste desperate poging om homself van ondergang te red. Die kurator van sy insolvente boedel het mnr Milne aangeskryf om die koopprys te betaal, in ruil vir registrasie van transport in sy naam. Maar mnr Milne was egter só die swernoot in oor die verkoper se slenter dat hy kansellasie van die koopkontrak geëis het.

Die saak is in Durban deur regter Henochsberg verhoor en op 6 Januarie 1961 is die lewering van getuienis afgesluit.

In sy 'n uitspraak 'n paar dae later1 het die regter beslis dat die las op mnr Milne gerus het om die hof te oortuig dat hy deur die verkoper bedrieg is, omdat mnr Milne van mening was dat die beskrywing van die stuk grond as "'n uitstekende suikerplaas" nie alleen bedoel was om 'n sukses van die veiling te maak nie, maar ook om 'n goeie prys te verseker. Dit het dus verder gegaan as blote opvyseling, of "puffing".

"Doodgewone opvyseling en ophemeling van 'n produk wat te koop aangebied word,” sê die regter, "gee nie aanleiding tot 'n regsaksie nie. In so 'n geval geld die spreuk caveat emptor – 'n Latynse regspreuk wat sê die koper van 'n saak moet versigtig wees voor hy koop. Maar dit is iets anders waar 'n verkoper 'n voorstelling maak van 'n positiewe en materiële feit met betrekking tot die saak wat hy wil verkoop. Doen hy dit, kom dit neer op 'n waarborg in verband met die eienskappe van die koopsaak, en as hy so 'n waarborg verbreek of nie kan nakom nie, sal hy aanspreeklik wees.”

Mnr Milne het dus die saak met koste gewen en die kurator van mnr Harilal se boedel moes die oorwegend nikswerd stuk grond aan iemand anders loop afsmeer.

 

1 Milne v Harilal 1961(1) SA 799(D)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top