Empire of Desire: "Ek dink ons het nie meer so baie illusies nie"

  • 0

Empire of Desire, met ’n voltal hoogs ervare musikante, maak golwe sedert hul debuut-EP verlede jaar vrygestel is. Yaki Naudé, hulle voorsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Yaki. Hoe’s dinge?

Hallo, Henry. Gaaf om jou te ontmoet hier in cyberspace! Dinge gaan fantasties. Ons is lekker besig. Het drie gigs in die volgende vier dae en ’n photoshoot. Ek sien uit!

Empire of Desire se eerste EP, “When Life Begins”, is einde verlede jaar vrygestel. Hoe ervaar julle die reaksie op die EP tot dusver? Kry julle genoeg kans om te gig en te toer met die songs?

Die EP is verlede jaar onafhanklik vrygestel en vanaf Februarie hierdie jaar ook op iTunes, Beatport en Amazon – kry dit hier. Ons het wonderlike reaksie sover ontvang en verkoop nogal baie CD’s by gigs ook. Ons gig heavy baie in Gauteng, maar het ook al in Mosambiek opgetree verlede jaar by FORR, asook in Bloem. Ons reël alles self, so dit sal awesome wees om ’n manager te hê eendag as ons groot word, maar almal in die bedryf weet in Suid-Afrika is goeie managers so skaars soos hoenertanne!

Jy en die ander twee lede van EoD, Andries Bruyns en Simon Kruger, is almal al lank op die plaaslike musiektoneel te sien. Hoe het julle almal met mekaar opgeëindig en besluit om EoD te stig? Hoe het jul ervarings uit jul vorige bands bygedra tot hoe julle die musiek en als wat daarmee saamgaan, nou aanpak?

Ek en Simon (bassist en producer ) was saam in sShhh … Hy het ook al vir ander bands, soos Dan Patlansky, Die Naaimasjiene en Nul gespeel. Andries, ons percussionist, was in Chiba Fly en ’n gemeenskaplike musikant-vriend, Greg Georgiades, het ons aan mekaar voorgestel. Ons het ook twee guitarists wat ons soms join: Dawid Kahts (Thys Nywerheid) en die infamous Jaco Mans (Die See, Ultra Natives, Black Cat Bones, Coelacanth en vele meer). So ons is almal veteran muso’s. Ek dink ons het nie meer so baie illusies soos wat mens het as jy jonger is nie, en ons maak nou musiek om musiek te maak en omdat ons dit geniet, geen ander rede nie.

Jy was die sanger van die groep sShhh – in die ’90’s. Dit moet vrek interessant wees om met daardie agtergrond in gedagte te kyk hoe die plaaslike musiektoneel vandag verskil van hoe dit destyds was. Wat moet ’n mens anders doen om ’n impak te maak? Hoe het die algemene gehalte ontwikkel (of gedaal)?

Daar gee jy my ouderdom weg! He-he. Ja, dinge het baie verander. In die nineties was daar baie minder bands en net ’n handjievol “famous” local bands. Dit was toe mense regtig local begin ondersteun het soos nooit vantevore nie en festivals en venues opgepop het soos sampioene! Daai tyd het ons ook fisies flyers uitgedeel en met muurpapiergom posters opgeplak, verbeel jou! Nou post ons banners op facebook en stuur e-mails vir advertensie! So tegnologie het dinge baie verander. Nie net ten goede nie, want mens kompeteer met home entertainment en internet wat dit moontlik maak vir mense om vermaak te word sonder om die huis te verlaat! Maar terselfdertyd gee dit ons ’n wonderlike platform van waar ons kan musiek verkoop en onsself blootstel aan geleenthede.

Die snitte op die EP klink “mellow, ethereal, edgy”, soos julle dit self beskryf op die Facebook-blad. Dit is natuurlik nie ’n maklike genre (as ’n mens dit nou so moet kategoriseer) om onmiddellik mee wyd impak te maak in terme van radiospeellyste en dies meer nie. Of hoe beskou jy dit? Hoe het die klank waarbinne julle werk, gevorm en gegroei, en hoe werk jou liedjieskryfproses daarmee?

Ek verstaan dat mense meestal as hulle by ’n gig is, wil partytjie en op en af spring, maar ek dink wel daar is ook ’n mark vir rustiger musiek; ook op radio. Ek dink wel van ons tunes is edgy genoeg om mense te interesseer. Die ding is, as ek ’n song skryf, vloei dit net natuurlik en ons laat die song voorspel hoe ons dit gaan record. Ek skryf nooit met die oog op kommersiële waarde nie, maar oor die emosies of gebeure of beliefs wat deur my liedjies ’n spreekbeurt kry.

Volgens jul Facebook-beskrywing is julle onlangs gesign deur ’n Brits-Spaanse platemaatskappy, Crossback Records. Hoe het dit gebeur, en wat beteken dit vir julle in terme van toere en verspreiding? Hoe voel jy in die algemeen oor die verhouding tussen skeppende musikante en platemaatskappye?

Dit is ’n Facebook-storie! Ek het een aand net randomly ’n link na een van ons songs in my FB-vriende se inboxes geSPAM. ’n Ou vriend wat ook in die musiekbedryf is en nou in Amerika bly en musiekvideo’s maak, het daarna geluister en dit gespeel vir een van die ouens by ’n Europese dance label, CrossWorld Records. Hulle het dit gelove en vir ons ’n aanbod gemaak om die EP te bemark en te koop aan te bied oral oor die interwebs, via hul “artsy fartsy” afdeling genaamd Crossback Records. Ons het die geleentheid aangegryp, want ek dink in die oseaan van die wêreldwye muskiekbedryf is dit goed om aan ’n “familie” te behoort. Ek gaan in Oktober Europa toe om verder promosie te doen vir “When Life Begins”. Maar ek self en soveel ander musikante is al so opgeneuk deur platemaatskappye, en soos die Engelse spreekwoord gaan: “Don’t mix business with pleasure” – dis presies wat die verhouding tussen kunstenaars en korporatiewe platemaatskappye is!

Jy het ook ’n maand in Amerika spandeer, waar jy aan ’n paar opnames en collaborations gewerk het. Wat het dit alles behels, en watter invloed het dit op jou as musikant en skrywer gehad?

Ja, dit was fantasties. Ek het randomly in New York musikante ontmoet op ’n Sondagaand by ’n partytjie en daai Maandagmiddag het ons record! Nashville was ongelooflik. Ek het gespeel op ’n klavier van Elvis, in ’n studio waar hy gereeld record het. Ek het ’n musiekvideo geskiet vir die liefdadigheidsgroep Bands that Jam for Africa en ek het opnames gemaak vir ons opkomende album by Vohnic Studios op Music Row. Ek het ook gegig by die bekende Bluebird Café en ’n hip-hop music gathering bygewoon waar mense soos besetenes freestyle (daar is ’n groot hip-hop- en rock-teenwoordigheid in Nashville – dis nie net country nie). Ek het besef mens kry wel funky country-musiek en het my eerste (en probably laaste) country-liedjie opgeneem.

Soos genoem, is jy en jou kollegas al lank op die toneel, en in verskeie hoedanighede … Enige hoogtepunt-herinneringe wat jy koester? Enige gevalle wat jy eerder sal wil vergeet, of plekke waar jy nie gou weer wil optree nie?

Een van my gunsteling-herinneringe was dat ons met sShhh vyf jaar opeenvolgend in die laat negentigs by Oppikoppi gejol het. Vir my is elke gig so spesiaal, en as ons net een fan bykry, is dit worth it! Nashville was vir my ’n persoonlike hoogtepunt. Die gevalle wat ek sou wou vergeet, het ek reeds vergeet!

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Empire of Desire?

Ons beplan om te hiberneer hierdie winter en te fokus op nuwe materiaal, want ons beoog om begin 2015 ’n vollengte-album uit te gee. Ons beplan ook om ’n musiekvideo te skiet binnekort en dit sal vrek lekker wees om ’n Kaapse draai te kom gooi en bietjie in die Wes-Kaap te toer, want baie min mense weet van ons daar en ek dink daar sal dalk mense wees wat ons vibe geniet. Maar in die meer nabye toekoms speel ons by Tings & Times in Pretoria Sondagmiddag 22 Junie. Kom checkit uit!

Wat is die sin van die lewe?

Regtig? 🙂

Maya Angelou, wat gister die hiernamaals betree het, het gesê: “We are here to love each other. That is why you are alive. That is what life is for.”

You asked! Ek kan wel ook net byvoeg dat die lewe vir my geen sin sou hê sonder musiek nie!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top