Emma Huismans (1947–)

  • 0

 

 

Sêgoed van Emma Huismans

"Ek skryf met my maag en my maag is Afrikaans." (Beeld, 27 Februarie 1992)

Meen sy Afrikaans het ’n toekoms (in 1992)? "Solank jy iets sinvols in die taal sê, sal hy voortbestaan. Noudat Afrikaans bevry raak, is dit die opwindendste taal op aarde. ’n Mens moet net nie langer amptelik met hom voortdonner nie. Dis nie nodig nie. Ek vermoed daar is genoeg ander mense wie se mae ook Afrikaans is." (Beeld, 27 Februarie 1992)

"Ik begrijp nu dat ik hartstikke Zuidafrikaans ben. Met mijn gevoelsleven zit ek enorm aan Afrika vast, aan dat temperament: het directe, het niet nadenken, to display what you are. Het leven is hier veel verstandelijker. Ze vinden emotionaliteit ook wel een beetjie lastig. De combinatie van die twee is voor mij van grote waarde. Ik denk soms echt dat mijn hart en mijn maag in Afrika zitten en mijn verstand hier in Nederland. Pas nu vind ik dat een vruchtbare tegenstelling." (De Groene Amsterdammer, 15 Februarie 1995)

"Alleen al om die ervaring van grootsheid weer op te halen moet ik Nederland regelmatig uit. Ik ben ermee opgegroeid; als alles fout gaat in je leven, kijk je naar een berg. Dan weet je dat er iets bestaat dat veel groter is dan jij ... Ik heb dat perspectief van nietigheid absoluut nodig voor het perspectief van mijn bestaan." (Die Burger, 7 Maart 1995)

Gebore en getoë

Emma Dieuwke Rosalina Huismans is op 10 Julie 1946* te Bennekom in Nederland gebore. In 1952 emigreer haar ouers na Suid-Afrika en moes sy as vyfjarige kind ’n nuwe taal aanleer. Sy het ’n broer.

Emma vertel aan Linda Huijsmans (Trouw, 6 Februarie 1995) dat sy as kind skaam was omdat sy van ’n ander land gekom het, en haar behoefte was om opgeneem te word in die Suid-Afrikaanse lewe. "Het was superbelangrijk voor mij om niet opgemerkt te worden en daarvoor moest je de taal spreken. Daardoor heb ik veel snel Zuidafrikaans geleerd.

"Die Afrikaners hadden een aangeboren afkeer van alles wat van buiten kwam en dus onderdrukte ik alles wat Nederlands in mij was. Al mijn slechte eigenschappen schreef ik toe aan mijn Nederlandse kant."

Emma het aan Xandra Schutte van De Groene Amsterdammer (15 Februarie 1995) vertel dat sy baie gesukkel het met haar ouers nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het. Hulle het redelik Nederlands gebly. "Hun woonkamer in Afrika was volkome Nederlands. Na hun dood belandden al die attributen in mijn kamer en ik richtte hem precies in volgens de traditie, met de eettafel in het midden. Maar ik onderdrukte verder alles."

Verdere studie en werk

Toe Emma 17 was, was daar net een ding wat sy na skool wou doen en dit was om ’n joernalis te word, vertel sy aan Huijsmans in Trouw. Haar pa het haar egter verbied, want hy wou hê sy moes universiteit toe gaan. Sy het weggeloop van die huis, maar haar pa het die polisie agter haar aangestuur en hulle het baie mooi aan haar verduidelik dat totdat sy 21 is, haar pa die baas is. Só is sy toe universiteit toe, maar nadat sy 21 geword het, het sy met ompaaie tog uiteindelik ’n joernalis geword.

Emma se eerste werk as joernalis was vir ’n jeugtydskrif. Daarna was sy redakteur van enkele vrouetydskrifte. Later verhuis sy na Kaapstad en vanaf 1984 tot 1989 het sy vir Crisis News gewerk, die tydskrif van ’n kerkgroep wat geweldloosheid gepropageer het.

Emma se eerste verhale is in tydskrifte soos De Kat en Stet gepubliseer. Sy het verhale begin skryf van die mense in die townships om hulle stories en lewens aan die buitewêreld bekend te stel. Dit was ook gedurende hierdie tyd dat sy die eerste keer ’n klip opgetel en na die polisie gegooi het, vertel sy aan Huijsmans. En dit was die oomblik wat sy committed geword het: vanaf daardie moment was daar geen terugdraai nie en het geweld deel van haar lewe geword.

Haar baas is gevange geneem en hy het ’n boodskap aan Emma uit die tronk gestuur dat sy moet sorg dat sy nie gevang word nie, aangesien hulle tydens die verhore die een teen die ander afspeel. Toe sy ondergronds begin lewe en werk het, het sy die eerste vier hoofstukke van Requiem op ys begin skryf. Maar dit het nie maklik gegaan nie, aangesien dit ’n baie persoonlike verhaal was en sy só betrokke by die stryd was dat sy niks persoonlik wou skryf nie. Sy het daarmee opgehou en aan Berigte van weerstand, ’n kortverhaalbundel, begin werk.

Uiteindelik het die geweld vir Emma te veel geword, vertel sy aan Huijsmans. "Het geweld, mijn eigen geweld, begon mij op te vreten. Ik geloofde vast en zeker dat een stelsel dat van binnen totaal verrot is, verkeerd is, dat je dat niet kan hervormen. Vernietigen wel, hervormen niet. Ik dacht toen dat je de Zuidafrikaanse toestand niet kan hervormen. Alleen afbreken.

"En afbreken betekent geweld. An als je aan geweld mee gaat doen, vernietigt het je, fysiek of mentaal. Er is niets positiefs aan geweld. Ik begrijp geweld, ik begrijp waar het vandaan komt, ik begrijp waarom jy er soms aan meedoet, maar dat wil nog niet zeggen dat het een oplossing is. Toch kun je ervoor kiezen en ik koos in dat stadium direct en indirect voor geweld. Dat was vernietigend voor mezelf. Toen besloot ik een poosje naar Nederland te gaan, om een ander perspectief te kunnen krijgen."

En so het Emma in 1990 na Nederland teruggekeer, waar sy haar in die Schilderswijk, ’n "volksbuurt" van Den Haag, gevestig het. En behalwe die enkele kere wat sy Suid-Afrika besoek het, is dat waar sy nog altyd woon.

Emma se eerste gepubliseerde werke was kinderboeke. In 1980 het Die draak se verjaarsdag by Van der Walt verskyn, met illustrasies deur Annette Stork. Anton is ’n seuntjie wat baie van stories hou – só baie dat hy sommer sy eie opmaak. En toe ontmoet hy vir Jacobzoon van het Rheede ten Bosch by die vlei. Hy is ’n baie ongelukkige draak, want hy vier sy 400ste verjaardag en het laas partytjie gehou toe hy 40 geword het. Emma het ook in 1979 ’n verwerking van Pinokkio die lig laat sien by Daan Retief, en in 1984 ’n verwerking van Donker spore van Langenhoven vir kinders, getiteld Prins se spook.

Emma het die manuskrip van Berigte van weerstand klaargemaak terwyl sy nog in Suid-Afrika was en is met die manuskrip onder haar spreekwoordelike arm na Nederland. In Berigte van weerstand doen Emma verslag van die geweld en die stryd in die townships in die Kaapse Skiereiland. In Die Transvaler van 30 Julie 1990 skryf Fanie Olivier dat dit ’n "séér en genadelose verkenning en blootlegging is van wat op die Kaapse Vlakte gebeur het met swart Suid-Afrikaners die voorafgaande tien jaar".

Daar is agt verhale in Berigte van weerstand en vir Olivier is die verhale ’n eenheid wat byna ook as ’n novelle gelees sou kon word. Die verpligte en gedwonge verhuisings vorm die agtergrond vir die verhale en die verhale word almal deur dieselfde verteller vertel.

Olivier sluit af: "Berigte van weerstand is ’n debuut waaroor ’n mens opgewonde moet wees: knap vertelling, oortuigende taalgebruik en netjies karakteriserings. Maar al die vreugde daaroor word ondermyn deur die stuk werklikheid wat sy in die leser se hand kom plaas. Watter verskriklike storie was apartheid nie!"

In Weekly Mail skryf Shaun de Waal dat die spanning van die plot, Huismans se droë humor en haar taalgebruik maak dat die leser wil aanhou lees, ten spyte van die aaklige realiteit wat beskryf word. Vir De Waal is daar egter nie genoeg verskeidenheid in die bundel nie.

André P Brink skryf in De Kat van September 1990 dat Huismans se "hele vertelwêreld (...) beperk (is) tot die struggle: maar dit word só hanteer dat die struggle net die slagveld is waarop groter, durende waardes oor en oor getoets word. En ook die struggle sélf word getoets; die vele vorme van geweld en die vele vorme van verraad is nooit eensydig nie, maar waaier in ’n hele breë spektrum oop. Deur die kompromisloosheid verkry Berigte van weerstand ’n omvattende geldigheid. Dit strek verby ’n demonstrasie van 'die euwels van apartheid': dit word ’n pleidooi en ’n kreet vir ’n onuitroeibare menslikheid."

Charles Malan was nie heeltemal so positief soos baie van die ander resensente nie. Vir hom was die taalgebruik van die "verteller-as-skrywer" een van die belangrikste dinge wat hom geïrriteer het. "Die leser moet aanvaar dat dit vir die gefikseerde verteller wat deurentyd as dieselfde soort karakter optree, doodnatuurlik is om as ’n joernalis-tipe voortdurend tussen gesofistikeerde, beeldende Afrikaans en die onwaarskynlikste Engelse radbraaksels rond te spring. ’n Werklik ongesofistikeerde stereotipering en satire is ’n verdere voorbeeld van die verteller se selfkoestering. (...) Dit is werklik jammer dat ’n mens rondom so ’n belangrike bundel nie oor die gruwels van apartheidsonderdrukking skaam word nie." (Beeld, 4 Maart 1991)

In Insig (September 1990) het Jeanette Ferreira geskryf: "Huismans se teks bied ’n ander soort uitdaging: ’n Wit vroulike Afrikaner wat weerstand bied teen geykte opvattings omtrent geslag, kleur, skuld, smetloosheid en suiwer estetiek in die struggle."

Welma Odendaal skryf in Die Suid-Afrikaan (Augustus/September 1990): "Die verteller in Berigte van weerstand is nie ’n onaangeraakte, afstandelike individu nie, maar integraal déél van elke ervaring. Sy loop en doen mee in die elke dag se stryd van mense; sy huil, sy lag, sy spot, sy soek troos, sy kies kant. Dis met boeke soos Huismans se Berigte van weerstand, Ivan Vladislavi? se Missing persons en Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, dat mens bewus word dat daar iets opwindend aan die gebeur is in Súíd-Afrikaans."

En Riana Scheepers in Die Burger (6 September 1990): "Die waarde van Huismans se verhale lê hoofsaaklik in die direkte, onpretensieuse styl en sterk dialoog. Die genadelose inhoud word sonder idealisering of romantisering aangebied. ’n Tema is oopgeskryf en dit sonder schmaltz of literêre goëltoertjies. [My] vermoede is ook dat dié bundel verhale ’n dramatiese begin is van ’n meer Suid-Afrikaans georiënteerde literatuur; dat hierdie verhale (...) ’n protesvuis gaan word.

"Met Berigte van weerstand het Emma Huismans nou literêre definisie aan ’n besondere deel van die Suid-Afrikaanse politiek gegee. Sy skryf met ’n mean hand."

In 1991 is Berigte van weerstand deur Gerrit Olivier in Nederlands vertaal en deur die uitgewery Amber gepubliseer.

En toe in Nederland, twee jaar na Berigte van weerstand, verskyn Requiem op ys uiteindelik. Emma vertel aan Linda Huijsmans dat die verhaal van Requiem te persoonlik was en nie eintlik goed opgeweeg het teen dit wat om haar gebeur het nie. "Jou eigen verhaal is zó klein, zó onbelangrijk. Ik hield er mee op toen ik zo ’n vier hoofdstukjes bij elkaar gekrabbeld had. Ik heb het weggelegd en ben begonnen aan Berigte van weerstand.

"Pas in Nederland kon ik Requiem afmaken. Ik ben hier veel creatiever en vrijer geworden. Nederland geeft mij de afstand en de ruimte om schrijver te zijn, in plaats van journalist. En dat was presies wat ik hier zocht. Ik schreef heel anders."

Nadat Requiem verskyn het, was Emma op besoek in Suid-Afrika en het Elfra Erasmus met haar gepraat (Beeld, 27 Februarie 1992). Sy het aan Erasmus gesê dat sy weer Suid-Afrika toe moes kom, want sy het die "stof, modder en die mean Afrikanerbeeste nodig". In Nederland is daar ook beeste, maar daar "staan die Frieskoeie ’n mens so besadig en aankyk. Hulle is bloot deel van ’n stelsel. Ek veronderstel die Afrikanerbeeste is ook deel van die produksiemasjien, maar hulle lyk minstens nie so gedwee daaroor nie," verduidelik Emma aan Elfra.

Sy het ook aan Erasmus vertel dat sy nie in Nederland baie betrokke is by die letterkundige gemeenskap nie, en oor haar skrywersvriende in Suid-Afrika het sy vertel: "Ek dink nie intellektueel oor skryfwerk nie. As ons bymekaar is, praat ons nie oor letterkunde nie. Ek vang saam met hulle vis en drink saam met hulle. En ons praat oor die kool wat ons gekweek het."

En oor feminisme het sy haar as volg uitgelaat: "Ek is (‘n feminis), maar is nie ten gunste van die manier waarop dit in Suid-Afrika (in 1992) gepraktiseer is nie. Westerse én Afro-Amerikaanse feminisme moet uit die land geweer word. Ons moet versigtig wees om nie met ons geartikuleerdheid en kennis die vroue van die land te domineer nie – al word dit met die beste bedoelings gedoen. Ons moet in ’n hoek sit en wag totdat ons hulp gevra word. Dis eintlik al wat vir wittes in die algemeen hier oorbly.

"Die vroue op die platteland en in die townships het ’n groot rol in ’n oplossing vir vrede te speel. Hulle sal self die prioriteite stel. Swart vroue weet wat hulle wil hê. En dit het niks met westerse feminisme te make nie. Kruispad (Township) het ontstaan omdat dit die vroue was wat besluit het hulle wil by hul mans bly. En dit was die vroue wat die plek ná die platstotery destyds opgebou het. Toe die mans oorgeneem en belastings ingestel het, het die magspeletjies begin ..." (Beeld, 27 Februarie 1992).

Oor Requiem op ys het Louis Venter in Volksblad (15 Junie 1992) geskryf dat dit ’n roman is wat "van vele reise vertel". Daar is die reise van Chris Bouman deur Europa as toeris en ook later deur Suid-Afrika, weer as toeris. Dan is daar die reis wat haar pa onderneem het toe hy na Suid-Afrika gekom het en dan ook die reis van haar broer vanaf Suid-Afrika na Engeland, waarheen hy geëmigreer het.

Op die sielkundige vlak is daar ook die reis van ’n kind wat lesbiese tendense toon, "na ’n identiteit wat haar as vrou sal toelaat om te wees wat sy is. Geleidelik kry die reismotief ook ’n simboliese waarde. Dis die mens wat hier soek na lewe en sy angs vir die dood." (Volksblad 15 Junie 1992)

Vir Joan Hambidge is Requiem op ys nie goed geskryf nie, want sy meen dat Huismans nog nie die "langasem" het vir ’n roman of novelle nie. "En ai, die karakters praat so staccato-rig. ’n Mens mis eweneens sub-teks hier. (...)

"In haar debuut het sy reggekry om uit die politiek ’n meer durende teks te skryf en vir ewig en altyd die mite die nek in te slaan dat ’n skrywer nie ’n literatuur kan maak uit die vervlietende nie. In die méér universele vertellings oortuig sy nie. Die liriese uitstulpings word myns insiens nie genoegsaam deur ’n sub-vertelling gesteun nie. Of minder deursigtige simboliek nie. (...)

"Maar van ’n meesleurende vertelling is hier nie sprake (...) nie. Daarvoor staan alles nog vermoedelik té na aan die skrywer. Is die outobiografie stellig hier die teks se grootste vyand?" ? bron?

Vir Fanie Olivier (Die Burger, 28 April 1992) skakel die veral baie goed aaneen deur die integrasie van etlike ontdekkings op musiekgebied van Chris en die "terugspeel na die Suid-Afrikaanse agtergrond word eweneens intermezzo's waarmee die karakter van Chris toegelig word". Daar is egter dele van Requiem waar die vertelling "introspeksie verloor", en die sentiment begin oorheers of selfs "toeristies" is. Maar vir Olivier kan die verskyning van Requiem "veel goeds vir die skryfster voorspel".

In Die Republikein (21 Augustus 1992) het Emma Kirchenergeskryf dat die titel (Requiem op ys), asook die voorblad, iets oor die roman te kenne gee, naamlik dat dit ’n probeerslag is om vrede te maak met die dooies en die stryd met die dood. "'n Requiem spesifiek omdat musiek as ’t ware gedurig in die agtergrond van die roman weerklink. (...)

"Hierdie roman voer die leser mee, veral vanweë die fyn balans tussen gemoed en landskap. (...) Hierdie roman is ’n belangrike toevoeging tot die stewige aantal homoërotiese tekste in Afrikaans."

 

In 1994 word Sonate vir wraak uitgegee. En waar die hoofkarakter in Requiem op ys nooit heeltemal kies waar sy wil wees nie, het sy uiteindelik op Suid-Afrika besluit, vertel Emma aan Xandra Schutte, maar in Sonate vir wraak is dit baie duidelik dat daar nie gekies hóéf te word tussen die twee lande nie. "Ik ben gewoon in beide," sê Emma aan Schutte. "Op dit moment van mijn leven ervaar ik ontheemdheid niet langer als een negatief etiket. Ik begin ontheemdheid als een waardevol instrument te gebruiken. Ik weet niet wat het tegenovergestelde is van ontheemdheid. Geheemdheid? Maar ik word nooit in mijn leven meer niet-ontheemd.

"Als ik op de Veluwe, in Bennekom, waar ik geboren ben, was opgegroeid, was ik waarschijnlijk niet ontheemd. Maar ik ben op vijfjarige leeftijd hier weggegaan en dat maakte mij al ontheemd. Vanaf de eerste schooldag, toen ik in die gemeenschap begon te functioneren, was ik anders. Mijn leven lank zit ik met dat anders-zijn. Dat is niet alleen het verschil van zwart en wit, ik was ook anders in mijn eigen gemeenschap. Het eerste deel van mijn jeugd heb ik gebruikt om niet opvallend anders te zijn, maar het heeft mij ingehaald, mijn ontheemdheid was sterker dan mijn neiging tot aanpassing, ik werd toch de dwarse in Zuid-Afrika.

"Ik zit nu met hetzelfde in Nederland. Het zou voor mij makkelijker zijn geweest als ik verschrikkelijk Nederlands kon zijn. Ik begin te merken dat ek veel effectiever kan zijn door gewoon allochtoon en autochtoon tegelijk te zijn, en de een voor de ander te laat werken."

In Insig van Februarie 1995 skryf Gunther Pakendorf dat Emma Huismans deel vorm van ’n groep Suid-Afrikaanse skrywers wat oorsee leef en skryf. Hulle belewenis van hulle ballingskap is dan ook die bepalende faktor van die rigting en benadering van hulle werk. Soos in Berigte van weerstand is vervreemding en weerstand weer die twee belangrikste temas van Emma se kortverhaalbundel Sonate vir wraak.

Daar is agt verhale in die bundel wat as ’n eenheid gelees en ingesien kan word. In die eerste verhaal kan die vreemdheid en wanaangepastheid van die nuwe aankomeling in Nederland gevoel word, terwyl daar in die laaste verhaal tog ’n erkenning dat Nederland haar begin roer, deurskemer.

Vir Pakendorf skryf Huismans "reguit en op die man/vrou af. Sonate vir wraak is in sy joernalistieke trant ook ’n bundel berigte van weerstand en ’n kroniek van die jare tagtig. (...) "Terwyl die verhale stilisties onopgesmuk voorkom, lê die bundel se krag veral in die subtiele verbandlegging tussen die gewone gegewe en ’n dieper betekenis, of tussen skynbaar uiteenlopende dinge met mekaar."

Dit sou vir Pakendorf interessant gewees het om te weet wat Europese lesers se reaksie op Sonate vir wraak gaan wees, want die boek is vir hom oorwegend Afrikaans, "nie net in sy beswering van die wye en droewe land, sy mense, sy klippe en stof nie, maar ook in sy behandeling van die verskeurdheid wat ten slotte alles bepaal, die land én sy mense. Dis ’n indrukwekkende boek en ’n getuienis dat die stryd nog voortduur, al het so baie anders geword."

PC van der Westhuizen (Beeld, 3 Oktober 1994) noem Sonate vir wraak ’n "belangrike literêre dokument vir die (self)destruksie van magsmisbruik in sy ergste vorm. Boonop skryf Huismans toeganklik, berekend en sonder om enige steen onaangeraak te laat."

Oor die titel van Sonate vir wraak het Emma aan Christell Stander in Die Suid-Afrikaan (Oktober 1994) vertel dat dit eintlik ironies bedoel is. "Iewers dink jy op ’n stadium is daar behoefte aan wraak. Maar as jy wraak deurdink het, is dit nie meer nodig nie. ’n Sonate is nie musiek vir wraak nie. Die verhale wys dit vir jou: elke keer as jy ’n poging aanwend, dan duik versoening, of liefde op, of eiewaardigheid."

Vir Stander was een van die belangrikste dinge in Sonate vir wraak die verskuiwing van genre-grense en die feit dat so baie van die kortverhale nie net "staan as kortverhale nie". Hierop het Emma geantwoord dat sy eintlik twyfel of sy regtig ’n kortverhaalskrywer is en sy weet ook nie of sy ’n romanskrywer is nie.

Vir Stander is daar meer "integrasie" in Emma se verhale in Sonate vir wraak. Emma se reaksie op hierdie opmerking was dat dit as gevolg van die ruimte is wat sy in Nederland kry. "Ek mag in al die hoeke van die kamer gaan sit. In die middel van daai stryd hier, is jou vermoë om krities rond te beweeg, beperk deur alles – deur die hele onderdrukkende sisteem, deur solidariteit, deur veel hoër prioriteite as ’n simpel skrywertjie se wens om ’n ding van alle kante te bekyk. Ek word nog steeds met fire kwaad vir alles, ek het nie my pit verloor, my emosionaliteit nie, ek het geleer om dit te treasure. Maar ek voel nie meer magteloos woedend nie."

Al Emma se werk het ook in Nederlands verskyn. Oor Sonate vir wraak was die Nederlandse kritici oor die algemeen positief en hulle het die posisie van Emma Huismans as skrywer tussen twee kulture beklemtoon. Hulle het dit egter teen haar didaktiese toonaard gehad ("Meer dan eens klinkt haar stem als die van een linkse student uit het Amsterdam of Nijmegen van de jaren zeventig" (Zwier 1994)).

Oor Emma se werk as "Afrikaanstalige (post)koloniale literatuur" word op http://www.let.leidenuniv.nl/Dutch/ModerneLetterkunde/Huismans1.html geskryf dat Emma die Afrikaanse taal as ’n probleem ondervind in haar verhale. Vir haar is Afrikaans ’n taal wat belas is, aangesien dit die taal van die "koloniseerder" was; dus is sy altyd bewus daarvan as sy Afrikaans praat, en is sy eerder skaam vir haar taal as trots daarop.

Maar toe sy eers terug is in Nederland, verdedig sy Afrikaans in haar verhale wat sy in Nederlands skryf en sy hou ook nie daarvan dat Afrikaans ’n "babytaaltje" genoem word nie, maar dan gebruik sy woorde met ’n politieke betekenis om die idee van Afrikaans as ’n "babytaaltje" af te skiet: "Zo ’n babytaaltje is toch makkelijk te begrijpen. Zo grappig, lief en leuk. Maar bloed is bloed en dood blijft dood." (Uit Sonate vir wraak)

In Tydskrif vir Afrikaans en Nederlands (1996) het Louise Viljoen in haar artikel "Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde" Berigte van weerstand gesien as verteenwoordigend van die "gemarginaliseerde diskoerse in die Afrikaanse letterkunde. Berigte behoort tot die gemarginaliseerde diskoers van dié van vroue en gays. Omdat dit in Afrikaans geskryf is deur en oor die groepe wat deur die gemeenskap as gemarginaliseerd beskou word, is dit ’n bewys dat Afrikaans ook ’n postkoloniale literatuur kan voortbring. Viljoen se artikel ondersteun die standpunt dat Huismans se verhale van literêr-historiese belang is, omdat sy die ingewikkeldhede van verhoudings verteenwoordig.

In Emma se verhale is die spanning tussen verskillende bevolkingsgroepe voelbaar. En ook dit is ’n kenmerk van die postkoloniale letterkunde, en Emma is altyd besig om haar posisie te bepaal – nie net toe sy nog in Suid-Afrika gewoon het nie, maar ook sedert sy terug is in Nederland.

In 1994 was Emma in Suid-Afrika om ’n reeks videoprogramme, iKapa kunjani, vir Nederlandse televisie te maak. Die doel van die programme was om te kyk wat in die land verander het en wat nie. Oor haar indrukke van Suid-Afrika na die verkiesing het sy aan Christell Stander in Die Suid-Afrikaan (Oktober 1994) gesê dat die mooiste verandering by swart mense was. "Daar is ’n rustige selfversekerdheid en ’n geduldige afwagting. Ek dink hulle het vir die eerste keer besef wat ’n stem beteken. (..) Ek het weinig mentaliteitsverandering onder die blankes bemerk. Daar is hier en daar gepraat, maar as jy ’n bietjie krap, dan kom alles van vyf jaar gelede nog steeds na vore."

Publikasies

 Publikasie

Pinokkio. Oorvertel deur Emma Huismans

Publikasiedatum

  • 1979

ISBN

0909067783 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die draak se verjaarsdag

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

07993 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Prins se spook: Langenhoven se Donker spore

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1989

ISBN

  • 0908382170 (hb)
  • 0908382291 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Boekateljee

Literêre vorm

Fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Berigte van weerstand

Publikasiedatum

  • 1990

ISBN

0947046275 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands uitgegee deur Amber, 1991; vertaal deur Gerrit Olivier

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Requiem op ys

Publikasiedatum

  • 1992

ISBN

0798630353 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Kagiso-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Werken met werkelijkheid: verhalen over Zuid-Afrika. Saam met Kees Neefjes

Publikasiedatum

  • 1993

ISBN

9789070331047 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Komitee Zuidelijk Afrika

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sonate vir wraak

Publikasiedatum

  • 1994

ISBN

0798625201 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands, Nijgh & Van Ditmar 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Emma Huismans as vertaler:

Artikels oor Emma Huismans beskikbaar op die internet:

Artikels deur Emma Huismans beskikbaar op die internet:

Nota
*       Bronne verskil oor Emma Huismans se geboortejaar; sommige gee dit as 1947 of 1948 aan.

 

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-10-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top