Jy is iemand wat die lewe geniet – wyn, gholf, middagetes by Umami, gesels en kuier. Wat put jy uit die skryfproses, of “boekmaak” soos Etienne van Heerden sê?
Ek hou van Etienne van Heerden se beskrywing, want ek put groot genot uit die maak van ‘n boek: om te sien hoe die aantal bladsye in my rekenaar se hardeskyf groei, die eerste weergawe uit te druk, die herskryf en redigeer en skaaf en poleer, die debatte met die redakteur, die proewe te lees en te korrigeer, insette op die voorblad te gee, die eerste eksemplaar van die gedrukte boek in die hand te hou, om by ‘n boekwinkel in te stap en my skepping op die rakke te sien. Ek’s nie ‘n baie handige ou nie, maar dit moet seker dieselfde diep bevredigende gevoel wees wat iemand kry wat iets met sy of haar hande maak, ‘n skildery of ‘n meubelstuk of ‘n beeldhouwerk.
Wat is die dryfveer agter jou skrywery?
Weet nie rêrig nie, maar ek het ‘n paar jaar gelede iets gelees wat William Styron geskryf het wat ‘n snaar in my aangeraak het, naamlik: ‘ " When I’m writing I find it’s the only time that I feel completely self-possessed, even when the writing itself is not going too well."
In haar gesaghebbende onderhoud met jou in Die Burger beskryf Corne Coetzee jou as iemand wat “‘n gesonde 38 of 39” lyk, hoewel jy 45 is. In watter mate dra die skryfproses by tot ‘n jeugdige voorkoms?
Jy glo tog sekerlik nie alles wat jy in die koerante lees nie?
Sou jy ouer gelyk het as jy jou met die postmodernisme bemoei het?
Geen enkele regte antwoord op hierdie vraag bestaan nie, en jy moet dit maar vir jouself besluit.
Jy het ‘n graad in kreatiewe skryfwerk in Londen behaal. Het jy tot die begin hiervan reeds geskryf of het jy, soos wat ‘n rekenmeester sou doen, eers vir jou graad gewag tot jy begin skryf het?
Die eerste. Ek het terwyl ek in Londen gewoon het, ‘n baie lang (en baie vervelige) eerste roman geskryf, wat deur agtien verskillende literêre agentskappe afgekeur is. Ek het egter die idee vir my volgende roman, Nasleep, reeds in my kop gehad, en het besluit dat alvorens ek daaraan begin skryf, ek miskien by die kenners moet gaan kers opsteek, en my toe vir die deeltydse meestersgraad ingeskryf. En jy moenie so neerhalend oor rekenmeesters wees nie – daar is duisende van hulle wat elke dag kreatiewe fiksie pleeg wanneer hulle finansiële state opstel.
In watter mate kan ‘n skrywer geleer word om te skryf?
Ek glo daar is drie groepe mense: die groep wat glad nie samehangend kan skryf nie, die groter groep wat in ‘n mate kan, en die baie klein groep met ‘n aangebore talent. Ek dink nie die eerste of laaste groep kan geleer word nie. Maar ek glo wel dat die middelste groep geleer kan word om beter te skryf.
Wat het hierdie kursus behels en wat het jy daaruit geput?
Ek het geleer beter skryf. Ek het ook geleer dat ‘n mens nie net vir jouself skryf nie, maar dat jy ook ‘n leser se aandag moet kan hou. Die kursus het grotendeels behels dat jy op ‘n gereelde basis jou kreatiewe werk vir jou medestudente moes voorlees, en dat jou werk deur hulle, onder leiding van die lektore, eerlik bespreek en beoordeel is. Ek het gewoonlik sleg geslaap die nag voor so ‘n sessie. Ons moes ook redelik wyd lees, en werkstukke oor spesifieke temas en tegnieke in die voorgeskrewe werke indien.
Jy het ná slegs twee boeke – Nasleep en Geldwolf – ‘n tweebladsy-onderhoud in Huisgenoot, die wêreld se grootste Afrikaanse tydskrif, losgeslaan. Bly daar hierna enigiets oor vir jou om as skrywer te bereik?
Moontlik om soos jy af en toe ‘n artikel in Rapport, die wêreld se grootste Afrikaanse koerant, gepubliseer te kry. En terloops, ek dink dis puik dat Huisgenoot sowel as Rapport besluit het om meer ruimte aan boeke af te staan.
Voel jy nie dat die fokus op jou identiteit as skrywer onder die publiek benadeel word deurdat jy tegelykertyd in Engels en Afrikaans publiseer nie?
"Die fokus op jou identiteit as skrywer” klink darem baie pretensieus. Die besluit om tegelykertyd in Engels en Afrikaans te publiseer is ‘n besluit van my uitgewer, Umuzi, en ek berus my by hul oordeel. Daar is ook baie waarde om in twee tale te skryf, want ek kry die insette van twee verskillende redakteurs, wat ek glo help om al twee weergawes beter te maak.
Dit beantwoord nie die vraag nie. Is jy ‘n Afrikaanse of Engelse skrywer? Niemand wat ek ken, beweer hulle is al twee nie. Jy verwater mos die moontlike impak van die boek deur in al twee te publiseer. Indien dit nie die geval is nie, waarom is die parallelle publikasie nie die norm nie?
Hoekom moet ek die een of ander wees? Ek is eerstens ‘n skrywer, maar een wat toevallig ewe gemaklik in al twee tale voel. Ek hoor jou mening oor die moontlike verwatering van die impak van my boeke, maar my uitgewer huldig ‘n ander mening. En hoekom parallelle publikasie nie die norm is nie, sou ek nie kon sê nie. Moontlik wíl die meeste Suid-Afrikaanse skrywers eenvoudig nie in twee tale skryf nie, en verkies hulle dat iemand anders hul werke vertaal ná die oorspronklike werk reeds uitgegee is.
Hoeveel eksemplare van Nasleep en sy Engelse eweknie is al verkoop?
‘n Paar duisend toe ek laas gekyk het. Definitief nie ‘n topverkoper nie!
Stel hierdie trae verkoopsyfers jou teleur?
Ek sou natuurlik graag meer wou verkoop het (watter skrywer sou nie?), maar die Suid-Afrikaanse boekmark is maar klein, en volgens my uitgewer is die verkoopsyfers heel aanvaarbaar vir ‘n debuutroman.
Is daar geleenthede om Nasleep en/of Geldwolf in die buiteland te publiseer?
Moontlik. My uitgewer het ‘n Londense literêre agentskap aangestel om die waters te toets.
Watter universele temas is in Naspeel en Geldwolf te bespeur? Of is Waarheid-en-Versoening se skuldgevoel en swart bemagtiging beperk tot die Suid-Afrikaanse verwysingsraamwerk?
Die WVK en swart bemagtiging was vir my maar net nuttige kapstokke om my temas aan te hang. Nasleep se temas is onder meer skuld, vergifnis, liefde en verraad, Geldwolf s’n hebsug, morele korrupsie, repressie en vervreemding. Oordeel jy maar self of dit universele temas is, en of dit slegs tot die Suid-Afrikaanse opset beperk is.
Terug by Geldwolf: Is Stephen Winter ‘n produk van die samelewing of is hy die probleem?
Beide.
Is jy teen swart bemagtiging?
Ek is teen die ongeregverdigde verryking van ‘n klein elite-groep met die regte politieke konneksies tot nadeel van die werklik voorheen benadeeldes.
Lê jou wrewel dus eerder in die uitbuiting van swart bemagtiging as by die beginsel daarvan?
Korrek.
So, die beginsel van swart bemagtiging en kwotas in die werkplek is oukei, solank die mense wat die kwotas vul, weet wat hulle doen – al is dit ter uitsluiting van blankes wat ewe goed gekwalifiseerd is?
Daar is ‘n verskil tussen swart bemagtiging, kwotas en regstellende aksie. Ek is teen kwotas, maar ten gunste van regstellende aksie, op voorwaarde dat die mense wat aangestel word, ewe goed gekwalifiseerd is. Ek dink baie min mense sal ontken dat daar historiese wanbalanse is wat moet reggestel word as ons op lang termyn in ‘n stabiele land wil woon.
Soos die karakter in Nasleep, is Winter ‘n buitestander wie se soek na skouspelagtige rykdom tot sy ondergang lei. Tog kan sy soeke bloot as kapitalistiese dryfkrag beskou word. Waar lê die grens tussen gesonde kapitalistiese beginsels en onverskrokke uitbuiting, wat op sy beurt tot korrupsie en misdaad kan lei?
Paul du Toit, die hoofkarakter in Nasleep, is wel ‘n buitestander, maar sy soeke is nie na rykdom nie, maar na vergifnis. Kapitalisme is ‘n mensgemaakte ekonomiese sisteem, en as sodanig moet daar reëls wees wat onpartydig toegepas moet word om te verseker dat daar ‘n gesonde balans tussen die belange van aandeelhouers, werknemers en die samelewing gehandhaaf word. Die grens na korrupsie en misdaad word oorgesteek wanneer sakelui saamspan om die reëls te verbreek, of politici en staatsamptenare hul posisies misbruik om hulself te verryk, en daar nie behoorlike waghonde is wat hulle vasvat nie.
Winston Churchil het die volgende oor demokrasie te se gehad: “It has been said that democracy is the worst form of government, except all those other forms that have been tried from time to time.” Vervang democracy met capitalism, en government met economic system, en dan het jy my mening oor kapitalisme.
Daar is skrywers wat verkies om agter die skerms te skryf en deur hul boeke te praat. Al hoe meer skrywers – veral Afrikaanse skrywers – doen egter lustig mee aan die publisiteitsmasjien. Waarom doen jy aan laasgenoemde mee?
My deelname aan hierdie onderhoud is seker vir jou verdere bewys van hierdie sogenaamde tendens. Maar ek stem glad nie saam met jou stelling dat dit veral Afrikaanse skrywers is wat “lustig” deelneem nie. Uit die aard van wat hulle doen, en die hoeveelheid tyd wat hulle noodwendig op hul eie moet deurbring, is die meeste skrywers introverte, wat dit sekerlik sou verkies om in die skadu’s te bly.
Maar deesdae het skrywers (behalwe as jy nou iemand soos JM Coetzee of JD Salinger is) nie die luukse om agter hul boeke te kan wegkruip nie, want daar word deur hul uitgewers van hulle verwag om hul boeke te help bemark. In my geval (en ek’s seker die meeste ander) bevat my kontrak ‘n bepaling dat “the AUTHOR shall make himself available and shall fully co-operate in promoting the Work.” En ek kan dit verstaan: uitgewers neem ‘n finansiële risiko om ‘n onbekende of minder bekende skrywer uit te gee, en sulke skrywers moet dus ook help om die uitgewer se produk te bemark. En dit is wat ‘n boek is wanneer die skrywer daarmee klaar is, ‘n produk wat met ander produkte in die markplek vir die verbruiker se besteebare inkomste moet meeding.
Ek het onlangs iets hieroor in Graham Swift se boek oor skrywers en die skryfproses, Making an Elephant: Writing from Within, raakgelees: “A writer has to be either foolish or sublimely aloof not to accept that some extra-authorial hoop jumping will help his book reach readers.”
Ja, maar werk dit? Boekverkope in Suid-Afrika – veral fiksie – is tans laer as 20 jaar gelede voor hierdie tendens van skrywer as selebriteit begin is.
Nou vertel jy my iets nuuts. Maar jy’s seker reg, met die afname in aankope van boeke deur biblioteke, asook die opkoms van die internet en kabeltelevisie, wat vanselfsprekend die leeskultuur rysmier. En ek sou dit nie beskryf as ‘n tendens van die skrywer as selebriteit nie, maar eerder die verwagting dat skrywers hul boeke moet help bemark, soos vroeër genoem. Jou vraag kan ook anders gestel word: Sou die verkope van boeke nie nóg laer gewees het as skrywers nie begin bemark het nie?
Ons het destyds saam teen apartheid betoog deur vir ‘n swart rugbyspan te speel. Ek sien jy betoog steeds, hierdie keer voor die stadsaal op Stellenbosch. Waaroor gaan dit?
Ek het nie geweet ek betoog teen apartheid nie, ek wou maar net rugby speel! Die onlangse betoging op Stellenbosch was oor die heeltemal buitensporige verhogings in munisipale tariewe, wat baie mense op die dorp eenvoudig nie kan bekostig nie. En dit is grootliks as gevolg van ongeveer R50 miljoen wat die munisipaliteit wil spandeer op onnodige sokkerstadions, terwyl daar baie dringender prioriteite is, veral in die armer areas. As jy met die inwoners van daardie areas praat, wil hul eerder behoorlike huise en basiese dienste hê.
Wat is jou mening oor die Afrikaans-debat op Stellenbosch?
Ek verstaan nie altyd al die kompleksiteite van die argumente vir en teen die verskillende taalopsies nie. Vir my is dit eenvoudig – Afrikaanssprekende studente op Stellenbosch moet die reg hê om in Afrikaans onderrig te word, sou hulle wou.
Foto: Naomi Bruwer

