Adapt or Fly

  • 0

Adapt or Fly
Tot en met 30 Junie
20:00
Baxter teaterkompleks
R140
Computicket

 
Adolf Hitler verskyn op die verhoog en maak gevaarlik nou verbintenisse tussen sy diktatorsbewind en dié van “Jew Jew” (JuJu; Julius Malema) en die ANC. Pieter-Dirk Uys bedank dié slag nie PW Botha vir sy titel nie, soos die geval was met ’n vorige vertoning, Adapt or Die (woorde uit die mond van dié oudpresident), maar liewer die ANC Jeugliga se woordvoerder vir ’n nuwe titel, Adapt or Fly.

’n Groot gedeelte van die gehoor identifiseer sterk met die karakters wat Uys uit die vorige regering uitbeeld. Hierdie karakters en die kommentaar rondom hulle kom oorspronklik uit ’n tydperk waar kunstenaars verbied is om uitsprake van dié aard te lewer. Lede van die gehoor wat met hierdie tydperk identifiseer, identifiseer vermoedelik ook met Uys se nabootsings uit ’n soort nostalgiese herinnering van die politieke leiers en omstandighede en/of Uys se vorige vertonings. Dit is dan ook spesifiek hierdie karakters wat Uys uiters suksesvol naboots en op wie se optrede hy kommentaar lewer.

Uys se geslypte rolvertolking en nabootsings blyk egter minder suksesvol te wees in sy uitbeeldings van die huidige regering en politieke figure. Dit kan moontlik verband hou met die feit dat kunstenaars van dié aard, soos Uys, tans meer vryheid het om politieke figure en stelsels te bevraagteken en essensieel die spot daarmee te dryf. Hierdie tipe komieklike satire het dus nie noodwendig meer die skokwaarde wat dit sou gehad het onder die faam van die Nasionale Party nie. Satiriese komediante is deesdae meer volop en daar bestaan gevolglik groter kompetisie in hierdie genre.

In verband hiermee is dit interessant om op te merk hoedat Uys ten slotte kommentaar lewer op die bedreigde vryheid van spraak in Suid-Afrika. Dit is iets wat Suid-Afrikaners baie ernstig moet opneem en die moontlikheid besef dat nóg Pieter-Dirk Uys nóg ander kunstenaars van sy aard so maklik in die toekoms sal kan kommentaar lewer op die wyse waarop hul dit doen.

Die moderne toepaslikheid en trefkrag van Adapt or Fly kan bevraagteken word. Boonop is Adapt or Fly ‘n lang vertoning van twee en ’n half uur. Dit blyk egter dat Uys getroue aanhangers in die goeie tradisie van wat verwag word by ’n Uys-vertoning, nie teleurstel nie.

Bespreek deur Computicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top