Elzette Steenkamp gesels met Phil-Marié Roberts oor die Rapport Onderwysfonds

  • 0
Elzette Steenkamp gesels met Phil-Marié Roberts oor die Rapport Onderwysfonds.


Vertel ons meer van die Rapport Onderwysfonds. Wie baat hierby?

Die Rapport Onderwysfonds (ROF) is ’n landwye fonds (weldaadorganisasie) wat finansiële hulp verleen aan Afrikaanssprekende jongmense wat ná skool onderwys wil studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik nie. Die ROF fokus veral op Afrikaanssprekende studente wat ’n passie het vir onderwys en ’n bydrae wil lewer om die onderwyssituasie in ons land te verbeter. Enige matrikulant of Afrikaanssprekende onderwysstudent, ongeag ras of geslag, wat finansiële ondersteuning benodig, kan dus daarvoor aansoek doen.

Klik hier vir inligting oor hoe om aansoek te doen.

Waarom fokus julle op onderwys? Wat is die huidige situasie ten opsigte van onderwys in Suid-Afrika?

Die ROF is in 2003 deur ’n paar organisasies gestig wat besef het dat onderwys in Suid-Afrika op ’n krisis afstuur en dat daadwerklike ondersteuning gegee moet word aan studente wat ’n verskil wil maak in die onderwys. Soos prof Jan Nieuwenhuis tereg gesê het: ’n krisis in die onderwys is meer as net ’n krisis van swak matriekuitslae; dit is inderdaad:

  • ’n moraliteitskrisis
  • ’n onderwysbestuurskrisis
  • ’n werkloosheid- en armoedekrisis
  • ’n krisis van gebrekkige dienslewering en korrupsie
  • ’n ekonomiese krisis
  • ’n menslike-hulpbron-krisis.

Kom ons kyk na statistiek van 2012:

  • In 2000 het sowat 1 035 192 leerders met graad 1 begin, maar net 496 090 het opgedaag om die gr 12-eindeksamen in 2011 te skryf (539 102 leerders het dus uit die stelsel verdwyn).*
  •  Slegs 46,3% van hierdie leerders het meer as 30% vir wiskunde in die eindeksamen behaal; 18,51% leerders het meer as 50% vir hierdie vak gekry.*
    (* Statistiek verkry uit ‘n artikel deur prof Jonathan Jansen in Die Burger, 13 Januarie 2012.)
  • Luidens syfers wat van Umalusi, die gehaltebeheerliggaaam vir onderwys, bekom is, het een uit elke ses matrieks wat in 2011 wiskunde geskryf het, minder as 10% behaal.**
    (** Statistiek verkry uit ‘n artikel in Die Burger, 28 Januarie 2012.)
  • Die natuurlike uitvloei van onderwysers (afsterwes, bedankings, uittredes) beloop tussen 3% en 5% per jaar. Minstens 11 400 van die 380 000 onderwysers in die land moet dus jaarliks nuut aangestel word. Op die oomblik is daar in die hele land nie eens 2 000 vierdejaar-onderwysstudente op universiteit nie.***
    (*** Statistiek verkry uit ‘n artikel deur Chris Klopper in Rapport, 29 Januarie 2012.)

Hoe identifiseer julle belowende jong studente? Of maak julle slegs staat op inskrywings?

Van Mei tot einde Augustus kan studente en voornemende studente om hierdie leningbeurse aansoek doen. Die Beurskomitee, wat uit hoogs gekwalifiseerde persone bestaan, keur dan die studente op grond van:

  • taal (Afrikaans)
  • akademiese prestasie
  • leierseienskappe
  • ouers se inkomste
  • gesinsomstandighede.

Die ROF bied tans leningbeurse van R15 000 aan voornemende onderwysstudente. ’n Gedeelte van so ’n lening kan jaarliks op grond van akademiese uitslae, volgens ’n glyskaal, in ’n beurs omskep word. ’n Student wat aan die einde van die akademiese jaar ’n gemiddeld van 75% of meer behaal, kan byvoorbeeld 50% van sy of haar lening in ’n beurs omskep. Die student word gemotiveer om beter uitslae te behaal, omdat ’n kleiner skuldbedrag aan die einde van sy of haar studies dan terugbetaalbaar is. Die terugbetalings deur studente verseker dat die geld in sirkulasie bly om ’n volgende groep studente te help.

Die ROF se missie is “om die volhoubare gebruik van Afrikaans as funksionele landstaal te bevorder”. Kan jy verduidelik hoe die opleiding van onderwysstudente tot hierdie doel bydra?

Na die afskaffing van apartheid het die nuwe regering ’n veeltaligheidsbeleid aanvaar wat erkenning aan 11 amptelike tale gegee het. Daarmee het ons kinders die reg verkry om op skool onderrig in hul moedertaal te ontvang. Die belangrikheid van moedertaalonderrig kan nooit genoeg beklemtoon word nie, aangesien dit ’n regstreekse uitwerking het op akademiese prestasie. Soos Michael le Cordeur tereg sê: “Kennis is meer as net die vermoë om te onthou. Dieper vlakke van begrip stel leerders in staat om kennis van een konteks na ’n ander oor te dra. En leerders se voorafkennis is in hul taal opgesluit.”Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, is die uitstekende matriekuitslae in skole met Afrikaans as onderrigmedium toeskryfbaar aan die gesindheid en goeie werksetiek van onderwysers en die voordele van moedertaalonderrig. Die slaagsyfer in skole met Afrikaans as onderrigmedium was 99,5% vergeleke met 94,8% in parallelmedium- en 97,7% in dubbelmediumskole. (“Afrikaanse skole presteer oor goeie leerkragte”, Alet Rademeyer, Jip, 14 Februarie 2012.) Dit is dus uiters noodsaaklik dat Afrikaanse onderrig in skole beskikbaar moet wees!

Maar soos wat demokrasie vanaf 1994 gevorder het, het ons ook besef dat Afrikaanssprekende onderwysers wat hul beywer om Afrikaanse onderrig in skole te bevorder, finansiële ondersteuning nodig het om hul kwalifikasies te verwerf. Daarom beywer die ROF hom om die volhoubare gebruik van Afrikaans as funksionele landstaal te bevorder deur jong, Afrikaanssprekende studente finansieel te ondersteun om hul kwalifikasies te verwerf en dan op hul beurt weer die jeug van die toekoms op te lei in hul moedertaal.

Die ROF het ook hande gevat met twee lede-organisasies, die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), tot voordeel van onderwys in Suid-Afrika. Die betrokkenheid en kundigheid van hierdie hoogs gerespekteerde organisasies is ’n groot hupstoot vir die bereiking van die ROF se doelwitte.

Hoe kan belangstellendes te werk gaan om ’n bydrae tot die ROF te maak?

Die ROF is ’n niewinsgewende organisasie wat totaal afhanklik is van skenkings van instansies en bydraes van individue om finansiële ondersteuning aan onderwysstudente te gee. Die ROF het in 2011 meer as 550 aansoeke ontvang, maar kon slegs 146 leningbeurse goedkeur as gevolg van finansiële tekorte. Ons het werklik die ondersteuning van elke individu in Suid-Afrika nodig wat bekommerd is oor onderwys in ons land. Enige bydrae, hoe gering ook al, maak ’n wesenlike verskil in die lewe van ’n jong student. Onthou, dis die druppels wat die dam volmaak! Die ROF wil dus ’n dringende uitnodiging rig aan die gemeenskap: maak asseblief ’n skenking – ons het jou bydrae nodig! Elektroniese inbetalings kan in die volgende rekening gedoen word:

Die Rapport Onderwysfonds
Absa
Takkode: 632 005
Rekeningnommer: 405 864 6741 (tjekrekening).

Tjeks kan uitgemaak word aan “Die Rapport Onderwysfonds” en gepos word na:

Die Rapport Onderwysfonds
Posbus 8766
Centurion
0046.

Gee julle voorkeur aan sekere vakgebiede binne die onderwys (byvoorbeeld die opleiding van wiskunde- en wetenskap-onderwysers)?

Die opleiding van wiskunde- en wetenskap-onderwysers is belangrik en tel in die leerders se guns, maar keuring word nie slegs daarvolgens gedoen nie. ’n Omvattende evalueringsproses word deur die Beurskomitee gevolg, sodat alle aansoekers dieselfde kans het om ’n leningbeurs te ontvang.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top