Elon Musk en Twitter

  • 2

1. Inleiding

Op Maandag 25 April 2022 het Elon Musk, die wêreld se rykste persoon, die sosialemediaplatform Twitter teen nagenoeg $44 miljard gekoop (Chotiner 2022). Die aankoop is nog nie gefinaliseer nie, maar die transaksie het wyd aandag in die media geniet, met bespiegeling oor hoe Twitter en die sosialemedialandskap hierna sal verander (Chotiner 2022; Fung 2022; Nyabola 2020). Een van die sleutelpunte van die spekulasie wentel rondom Musk se siening van homself as voorstander van spraakvryheid en hoe mense hierdie siening vertolk.

Hierdie artikel bespreek die potensiële impak van Musk se aankoop, veral ten opsigte van die kwessies van spraakvryheid en fopnuus.

2. Twitter onder Musk

2.1 Die impak op Twitter

Twitter is een van die wêreld se gewildste sosialemediaplatforms, alhoewel dit nie so gewild is soos Facebook, YouTube of Instagram nie. Figuur 1 dui die wêreld se gewildste sosialemediaplatforms aan, soos in Maart 2022 (Statista 2022).

Figuur 1. Die wêreld se gewildste sosialemediaplatforms

Terwyl Twitter se 436 miljoen gebruikers nie vergelyk met Facebook, Instagram en TikTok nie, het Twitter invloed wat verder strek as sy getalle (Serino, Stabley en
Grabenstein 2022). Politici, joernaliste, aktiviste en intellektuele is gereeld betrokke by die platform, wat impliseer dat dit ’n groter impak op die openbare debat en die media het as wat met getalle gemeet word (Clayton 2022; Serino ea 2022). Nyabola (2020) beweer: “Twitter matters to people whose opinions matter, and that matters”, terwyl Ball (2022) Twitter “the world’s most influential media platform” noem.

Twitter het egter deur sy bestaan gesukkel om ’n wins te toon (Fung 2022; Nyabola 2020). Een van die dinge wat kan verander met Musk se oorname, is dat hy moontlik sal probeer om die maatskappy meer winsgewend te bedryf. Hy het reeds voorgestel dat Twitter na ’n betaalde opsie sal kyk. Dit is tans nog onduidelik hoe Musk beplan om Twitter in ’n meer winsgewende besigheid te omvorm, maar hy het ’n geskiedenis van oorspronklike oplossings. In 2018 het hy byvoorbeeld vlamwerpers (tegnies is hulle genoem Not-A-Flamethrower) vervaardig en verkoop om kapitaal te skep vir sy tonnelkonstruksiemaatskappy, The Boring Company (Lopatto 2018).

Daar is egter ’n risiko vir sy ander maatskappye. Na die aankondiging dat Musk Twitter gaan bekom, het Tesla se aandele skerp gedaal te midde van vrese dat Musk nie sy aandag aan al sy maatskappye sal kan skenk nie (Clayton 2022). Sy ander maatskappye is The Boring Company, SpaceX, wat vuurpyle en ruimtetuie ontwerp, en Neuralink, wat daaraan werk om mense se breine met rekenaars te verbind. Musk het egter ’n geskiedenis van waagkanse en net die tyd sal leer of die aankoop van Twitter ’n suksesvolle waagkans sal wees.

Musk sien homself as ’n positiewe krag vir die mensdom, maar uiteraard speel finansiële sukses ook ’n rol in sy benadering (Ball 2022). Volgens Matt Levine, ’n Bloomberg-opinierubriekskrywer, behoort die toekomstige funksionering van Twitter Musk se dualiteit te weerspieël:

I don’t think it’s obvious that Tesla is either a pure moneymaking enterprise or a pure humanitarian enterprise. And I think that’s probably true of most of his enterprises, where he enjoys the personal challenges, like solving puzzles, and he enjoys being a rich, successful businessman, and he enjoys thinking that he’s doing something good for humanity. And I think that Twitter fits all of those things, too. (Aangehaal in Chotiner 2022)

2.2 Die impak op spraakvryheid

Met Twitter kom Musk voor ’n beduidende uitdaging te staan ten opsigte van spraakvryheid. Twitter is bekend daarvoor dat dit ’n teelaarde vir haatspraak is en verskeie studies het juis haatspraak op hierdie platform ondersoek, ook in ’n Suid-Afrikaanse konteks (De Smedt ea 2018; Kotzé en Senekal 2018; Oriola en Kotzé 2019, 2020; Senekal 2020). Twitter is bewus van die hoeveelheid haatspraak op hierdie platform en het daarom oor die afgelope paar jaar baie moeite gedoen om inhoud te reguleer (Twitter 2019).

Musk het verklaar dat as Twitter onder sy beheer is, dit inhoud meer vryelik sal behandel en sal weg beweeg van inhoudverwyderings en rekeningopskortings (Chotiner 2022; Fung 2022). In sy woorde: “Free speech is the bedrock of a functioning democracy, and Twitter is the digital town square where matters vital to the future of humanity are debated.” Hy het later verduidelik dat hy met spraakvryheid bedoel dit wat binne die wet toegelaat word, soos sy twiet in Figuur 2 dit stel.

Figuur 2. Musk oor spraakvryheid

Vir sommiges is hierdie standpunt van Musk ’n groot rooi lig dat aanlyn viktimisering en die verspreiding van fopnuus meer gereeld sal plaasvind. Verskeie menseregteorganisasies het hul kommer uitgespreek dat haatspraak meer gereeld aanlyn sal voorkom (Singh 2022). Amnesty International het byvoorbeeld gesê:

The last thing we need is a Twitter that wilfully turns a blind eye to violent and abusive speech against users, particularly those most disproportionately impacted, including women, non-binary persons, and others. (Anoniem 2022a).

Chotiner (2022) skryf:

His conception of free speech seems broadly in line with what’s become a more right-wing or conservative approach to speech issues, which essentially argues that social-media companies should not be banning people for things that are considered inappropriate or hate speech or whatever else.

Chotiner se verwysing na spraakvryheid se verbintenis met regses is interessant, gegewe dat hy skryf vir The New Yorker, wat deur Bovet en Makse (2019) as ’n linkse nuusagentskap geklassifiseer word. Nyabola (2020), wat vir Al Jazeera skryf, is eweneens bekommerd dat Musk regses ’n platform kan gee op Twitter en stel dit selfs dat dit die einde kan beteken van die Twitter wat tans bestaan. Die VSA se Demokratiese Party het ook hul kommer uitgespreek oor die oorname, terwyl die Republikeinse Party die nuus verwelkom het (Anoniem 2022a; Schwartz 2022).

Die positiewe of negatiewe sienings van spraakvryheid hang saam met politieke oortuigings. Tiffany (2022) skryf dat linkse gebruikers dreig om Twitter te verlaat en terug te gaan na Tumblr, of andersins na ’n alternatiewe platform. Aan die regterkant sien politici en beïnvloeders wat al lank op die sensuur van konserwatiewes gefokus is, Musk as ’n redder (Ball 2022; Schwartz 2022; Tiffany 2022). Tucker Carlson het byvoorbeeld opgemerk: “For the first time in years, we will be able to talk honestly about our leaders. We will be able to have the kind of conversations that make democracy possible” (aangehaal in Tiffany 2022), terwyl Sidney Powell, wat saam met die VSA se voormalige president, Donald Trump, van Twitter verban is, gestel het: “I’m delighted someone interested in free speech is interested in reclaiming Twitter in the name of truth and freedom” (aangehaal in Schwartz 2022).

Daar bestaan ’n algemene persepsie dat sosialemediaplatforms kant kies tussen regse en linkse sienings. Tom Garrubba, visepresident van die kuberveiligheidnavorsingskollektief Shared Assessments, sê dat Facebook, YouTube en Pinterest reeds jare lank inhoud verban wat nie met hul voorgeskrewe ideologie saamhang nie (Suciu 2022). Hy voeg by: “Ideology should have no place in determining what can be said and who can be heard” (aangehaal in Suciu 2022). Musk het ’n soortgelyke siening, soos gesien kan word in sy twiet van 27 April (Figuur 3).

Figuur 3. Musk oor neutraliteit

Die kwessie van spraakvryheid is egter gekompliseerd. Clayton (2022) vra: “Did tweets encouraging the storming of Capitol Hill in Washington cross the line into insurrection? Where does criticism become libel? When does hate speech directed towards someone become abuse or harassment?” Hierdie is vrae wat herhaaldelik in verskillende lande se howe getoets word, met die klem op verskillende: Twitter is ’n internasionale platform, maar lande se wetgewing verskil. Dit is derhalwe nie genoeg om te sê dat spraakvryheid “binne die wet” toegelaat sal word wanneer “die wet” nie eenvormig is nie, en boonop voortdurend aangepas word.

Een van die uitdagings met die identifisering van haatspraak is dat daar nie eenstemmigheid bestaan oor wat presies haatspraak is nie (MacAvaney ea 2019). MacAvaney ea noem ook verdere uitdagings met die outomatiese herkenning van haatspraak, byvoorbeeld om tussen feitelike stellings en haatspraak te onderskei (“Baie Jode is rekeningkundiges” teenoor “Baie Jode is geldgierig”), of die prysing van groepe wat met haat verbind word (“Die Nazi’s was helde”), wat beteken dat ’n mens die karakter van groepe wat geprys word, ook in ag moet neem. Boonop is daar nuanses: MacAvaney ea sien ’n stelling dat die Nazi’s effektief was, nie as haatspraak nie, maar bloot as feitelik. Selfs wetenskaplik gegronde stellings kan as haatspraak gesien word, veral waar ras ter sprake is. Hierby sou ’n mens die perspektief van die ontvanger van die boodskap kon voeg: Toe H&M ’n swart kind in ’n sweetpaktop met die woorde, “Coolest monkey in the jungle” geadverteer het, was die bedoeling kwalik om aanstoot te gee, maar dit is deur sommiges as aanstootlik geïnterpreteer.

Omdat haatspraak so moeilik is om te identifiseer, argumenteer Jessica Melugin, direkteur van die Sentrum vir Tegnologie en Innovasie by die Competitive Enterprise Institute, dat Musk se oplossing vir Twitter tot die hele aanlynwêreld se voordeel kan strek:

Of course, nobody really knows what he’ll do and to what effect, but it is certain his efforts are preferable to the proposed government regulatory solutions. Whatever changes Musk makes will be necessarily superior to government regulation because they’ll happen on only one platform among many from which users have to choose. If his new policies make Twitter better and its users happier, other platforms can emulate them. If Musk makes decisions that make things worse, at least the consequences are confined to Twitter. Government regulations for content moderation, on the other hand, subject far more social media users to negative outcomes because they cover all (or all of the biggest) platforms. Better to have numerous laboratories trying different solutions to today’s content moderation challenges than a one-size-fits-all government approach. (Aangehaal in Suciu 2022)

Musk sal, soos ander wat alternatiewe platforms probeer skep het om meer spraakvryheid toe te laat, met die praktiese uitdagings gekonfronteer word. Daar kan nie
geen inhoudsregulering wees nie, omdat dit tot verdere polarisasie sal bydra, en indien Twitter niks doen om kwesbare gemeenskappe te beskerm nie, kan regerings regulasies skep en op die platform afdwing. Ball (2022) erken hierdie uitdaging, maar glo:

If fixing social media were easy, someone would have done it already. But the lesson of Musk’s career is to take his ambitions seriously. He’s rich not because he gamed the system but because he’s a genius who uses the incredible force of his will to mobilize resources to pursue his ideas.

Musk het ook voorgestel dat Twitter se algoritme toeganklik gemaak moet word vir publieke ondersoek sodat verbruikers kan verstaan hoe dit uitsprake maak (Fung 2022). Indien dit gedoen word, sal Twitter ’n positiewe tree na deursigtigheid gee.

2.3 Die impak op die verspreiding van fopnuus

Fopnuus is nie ’n nuwe verskynsel nie en joernaliste en politici oor die hele politieke spektrum het hulself deur die 20ste eeu herhaaldelik hieraan skuldig gemaak. In die digitale era word fopnuus egter ’n groter probleem, omdat enigeen inligting kan deel, hoe vergesog dit ook al mag wees. Ek lees byvoorbeeld onlangs dat ’n vrou van 95 jaar oud glo geboorte geskenk het op Orania na ’n “vertraagde swangerskap” van meer as vier dekades, so ewe met foto’s en al (Chloerii 2022). In hierdie geval het min gebruikers die storie as geloofwaardig beskou, maar in ander gevalle is dit duidelik dat nie almal oor die vermoë beskik om te onderskei tussen betroubare en onbetroubare inligting nie. In Figuur 4 deel ek ’n paar voorbeelde van mense wat blykbaar nie besef het dat The Onion ’n satiriese nuusagentskap is nie.

Figuur 4. Mense wat blykbaar satiriese nuusberigte op The Onion ernstig opgeneem het

Baie mense vertrou eenvoudig die inligting wat hulle teëkom. Een van die hoofoorsake van hierdie vertroue blyk mense se bevestigingsvooroordeel te wees wanneer ’n plasing op sosiale media met hul politieke sienings ooreenstem, asook vertroue in die individu wat die inhoud gedeel het (Geeng, Yee en Roesner 2020). Dít is juis wat Twitter so ’n belangrike en gevaarlike platform maak, aangesien politieke leiers die platform gebruik om hul opinies te lug.

Fopnuus versprei vinniger en wyer oor sosialemediakanale as ware nuus, hoofsaaklik as gevolg van die aantrekkingskrag van die nuwigheid van fopnuus (Vosoughi, Roy en Aral 2018). Fopnuus is gereeld sensasiewekkend en poog om ’n sterk emosionele reaksie te ontlok, en mense deel plasings met ’n sterk emosionele inhoud – veral verbasing, woede en angs – meer gereeld (Helmus en Bodine-Baron 2017).

In die VSA deel veral regses fopnuus (Bovet en Makse 2019; Fourney ea 2017; Grinberg ea 2019; Guess, Nagler en Tucker 2019), alhoewel die deel van fopnuus nie beperk is tot regse kringe nie. In Suid-Afrika kan die Bell Pottinger-veldtog as voorbeeld van ’n linkse fopnuusveldtog dien (Senekal 2020).

Guess e.a. (2019) se duidelikste bevinding rondom die deel van fopnuus is dat fopnuus meer gereeld deur ouer mense (bo 65 jaar oud) gedeel word. Trouens, mense in die oudste ouderdomsgroep het byna sewe keer soveel artikels van fopnuusdomeine op Facebook as dié in die jongste ouderdomsgroep gedeel, en ongeveer 2,3 keer soveel as dié in die naasoudste ouderdomsgroep. Hierdie verhouding geld onafhanklik van ander faktore, soos opvoeding, partyverwantskap, ideologiese posisionering of algehele aktiwiteit. Die outeurs stel voor dat ouer mense in baie gevalle nie oor die vlak van digitale mediageletterdheid beskik wat nodig is om die betroubaarheid van nuus wat aanlyn teëgekom word, te bepaal nie.

Omdat baie mense nie oor die vermoë beskik om krities met inligting om te gaan nie, is daar reeds ’n verskeidenheid geoutomatiseerde metodes ontwikkel om fopnuus te identifiseer (Sharma ea 2019). Geeng, Yee en Roesner (2020) skryf egter: “[T]he speed, ease, and scalability of information spread on social media means that (even automated) content moderation by the platforms cannot always keep up with the problem.”

2.4 Die impak op die VSA se politiek

Dit is moeilik om oor fopnuus te praat sonder om Donald Trump te noem. Tydens die 2016 presidentsverkiesing is Trump en sy ondersteuners as verspreiders van fopnuus uitgewys (Bovet en Makse 2019; Guess e.a. 2019). Trouens, Bovet en Makse (2019:6) het Trump uitgelig as die vyfde grootste verspreider van fopnuus en die grootste verspreider van uiters bevooroordeelde nuus tydens hierdie veldtog.

Die vraag is natuurlik of Trump weer op Twitter toegelaat sal word (Anoniem 2022b; Fung 2022; Schwartz 2022). Trump, wat 88 miljoen volgelinge gehad het, is na afloop van die 6 Januarie 2021 onluste in Washington permanent van Twitter verban, tesame met sommige van sy ondersteuners (Schwartz 2022). Alhoewel Trump self gesê het dat hy nie sal terugkeer na Twitter nie, bly dit ’n oop vraag of hy dit sal doen as hy die geleentheid gegun word. Indien hy terugkeer na Twitter, sal dit sy politieke loopbaan beïnvloed. Dit is volgens Cillizza (2022) heeltemal moontlik dat Trump weer in die 2024 presidentsverkiesing kan staan, en dat hy kan wen. Indien Musk Trump weer toelaat, sal hy uiteraard teenkanting kry, wat weer ’n risiko vir vertroue in Musk se ander maatskappye inhou.

’n Belangrike vraag is waar Musk ten opsigte van politiek staan. Alhoewel regses gereeld glo dat Musk aan hulle kant is, glo Ball (2022) nie die saak is so eenvoudig nie: “Musk sees himself transcending the left-right political divide. It’s a view that has fueled his career: a rejection of assumptions and stale binaries and an ability to think through problems in new ways.” Op 28 April 2022 het Musk die volgende getwiet:

Figuur 5. Musk se twiet op 28 April 2022

Die implikasie is dat Musk nie na regs beweeg het nie, maar dat die radikale linkses (dié wat “woke” is) die sentrum na links verskuif het. Indien ’n mens hierdie twiet glo, sien Musk homself as gematigd. Sy twiet op 19 April verwoord ’n soortgelyke gematigde siening (Figuur 6).

Figuur 6. Musk oor politiek op Twitter

3. Slot

Dit is onmoontlik om te voorspel wat presies die impak van Musk se oorname van Twitter op die sosialemedialandskap en die globale samelewing sal wees. Wat ons weet, is dat ’n mate van inhoudsregulering op sosialemediaplatforms noodsaaklik is, en ’n baie moeilik oplosbare probleem is, maar ons weet ook dat Musk ’n geskiedenis van vindingrykheid het. Ek stem saam met die bostaande stelling van Jessica Melugin: Indien Musk groter spraakvryheid wil bewerkstellig, gaan hy voor moeilike uitdagings te staan kom, maar sy eksperiment – hetsy suksesvol of onsuksesvol – hou die potensiaal in om waardevolle lesse vir die sosiale-media-omgewing te genereer.

Verwysings

Anoniem. 2022a. Elon Musk warned he must protect Twitter users. https://www.bbc.com/news/business-61225355 (28 April 2022 geraadpleeg).

—. 2022b. A Musk-owned Twitter opens door to potential Trump return. https://www.france24.com/en/live-news/20220427-a-musk-owned-twitter-opens-door-
to-potential-trump-return (29 April 2022 geraadpleeg).

Ball, M. 2022. What Elon Musk really believes as he buys Twitter. https://time.com/6170696/elon-musk-politics-twitter (29 April 2022 geraadpleeg).

Bovet, A en HA Makse. 2019. Influence of fake news in Twitter during the 2016 US presidential election, Nature Communications, 10(1):1–14. 11

Chloerii. 2022. 95 year old lady allegedly gives birth after being impregnated 45 years ago. https://opera.news/za/en/parenting/4d075565e76f1de1528bc9a46f2fa9f6 (28 April 2022 geraadpleeg).

Chotiner, I. 2022. Why Elon Musk bought Twitter. https://www.newyorker.com/news/q-and-a/why-elon-musk-bought-twitter (28 April 2022 geraadpleeg).

Cillizza, C. 2022. Yes, of course, Donald Trump can win in 2024. https://edition.cnn.com/2022/03/11/politics/trump-presidential-bid-odds-
2024/index.html (29 April 2022 geraadpleeg).

Clayton, J. 2022. Tesla shares slide could put Musk’s Twitter takeover at risk. https://www.bbc.com/news/business-61239181 (28 April 2022 geraadpleeg).

De Smedt, T, S Jaki, E Kotzé, L Saoud, M Gwóźdź, G de Pauw en W Daelemans. 2018. Multilingual cross-domain perspectives on online hate speech (CLiPS Technical Report 8). Antwerpen: CLiPS.

Fourney, A, MZ Racz, G Ranade, M Mobius en E Horvitz. 2017. Geographic and temporal trends in fake news consumption during the 2016 US presidential election. In Proceedings of the 2017 ACM on Conference on Information and Knowledge Management  – CIKM ’17 New York, New York, USA: ACM Press.

Fung, B. 2022. Analysis: Why Elon Musk buying Twitter is such a big deal. https://edition.cnn.com/2022/04/26/tech/importance-of-musk-buying-twitter/index.html (28 April 2022 geraadpleeg).

Geeng, C, S Yee en F Roesner. 2020. Fake news on Facebook and Twitter: Investigating how people (don’t) investigate. Proceedings of the 2020 CHI Conference on Human Factors in Computing Systems, New York, NY: ACM.

Grinberg, N, K Joseph, L Friedland, B Swire-Thompson en D Lazer. 2019. Fake news on Twitter during the 2016 US presidential election, Science, 363(6425):374–378.

Guess, A, J Nagler en J Tucker. 2019. Less than you think: Prevalence and predictors of fake news dissemination on Facebook. Science Advances, 5(1):eaau4586.

Helmus, TC en E Bodine-Baron. 2017. Empowering ISIS Opponents on Twitter, Rand Perspective, ble 1–15.

Kotzé, E en BA Senekal. 2018. Employing sentiment analysis for gauging perceptions of minorities in multicultural societies: An analysis of Twitter feeds on the Afrikaner community of Orania in South Africa, The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 14(1):a564.

Lopatto, E. 2018. I picked up a Boring Company Not-A-Flamethrower and it’s mine now. https://www.theverge.com/2018/6/10/17445838/boring-company-flamethrower-elon-musk-tweets-party (29 April 2022 geraadpleeg).

MacAvaney, S, H-R Yao, E Yang, K Russell, N Goharian en O Frieder. 2019. Hate speech detection: Challenges and solutions, Plos One, 14(8):e0221152.

Nyabola, N. 2020. Elon Musk’s purchase may very well kill Twitter as we know it. https://www.aljazeera.com/opinions/2022/4/26/elon-musks-purchase-may-very-well-kill-twitter-as-we-know-it (28 April 2022 geraadpleeg). 12

Oriola, O en E Kotzé. 2019. Automatic detection of toxic South African tweets using Support Vector Machines with N-Gram features. In 2019 6th International Conference on Soft Computing & Machine Intelligence (ISCMI) IEEE.

—. 2020. Evaluating machine learning techniques for detecting offensive and hate speech in South African tweets, IEEE access : practical innovations, open solutions, 8:21496–21509.

Schwartz, B. 2022. Biden officials worry Trump will return to platform. https://www.cnbc.com/2022/04/25/musks-twitter-takeover-biden-officials-worry-trump-
will-return-to-platform.html (28 April 2022 geraadpleeg).

Senekal, BA. 2020. The blue-eyed devil rapists: An exploration of the discourse on Twitter around land thieves in a South African context. Ensovoort, 41(7).

Serino, K, J Stabley en H Grabenstein. 2022. What 3 experts think about Elon Musk buying Twitter. https://www.pbs.org/newshour/economy/elon-musk-bought-twitter-whats-next (28 April 2022 geraadpleeg).

Sharma, K, F Qian, H Jiang, N Ruchansky, M Zhang en Y Liu. 2019. Combating fake news, ACM transactions on intelligent systems and technology, 10(3):1–42.

Singh, K. 2022. Human rights groups raise hate speech concerns after Musk’s takeover of Twitter. https://www.reuters.com/technology/human-rights-groups-raise-hate-speech-concerns-after-musks-takeover-twitter-2022-04-25 (28 April 2022 geraadpleeg).

Statista. 2022. Most used social media 2022. https://www.statista.com/statistics/272014/global-social-networks-ranked-by-number-
of-users (29 April 2022 geraadpleeg).

Suciu, P. 2022. Experts weigh in on Musk’s buying Twitter and what it means for “Free Speech”. https://www.forbes.com/sites/petersuciu/2022/04/25/experts-weigh-in-on-musks-buying-twitter-and-what-it-means-for-free-speech (28 April 2022 geraadpleeg).

Tiffany, K. 2022. The Elon Musk Twitter deal placebo effect. https://www.theatlantic.com/technology/archive/2022/04/elon-musk-twitter-acquisition-
free-speech-placebo-effect/629684 (28 April 2022 geraadpleeg).

Twitter. 2019. Updating our rules against hateful conduct. https://blog.twitter.com/en_us/topics/company/2019/hatefulconductupdate (29 April
2022 geraadpleeg).

Vosoughi, S, D Roy en S Aral. 2018. The spread of true and false news online. Science, 359(6380):1146–1151.

  • 2

Kommentaar

  • Johann Lodewyk Marais

    Dit is 'n insiggewende artikel. Ek sal graag meer oor die betrokke besluitnemingsprosesse wil weet.

  • Frikkie v/d Merwe

    Baie omvattend van die geskarrel in die hoenderhok! Kan BA Senekal dalk postscript skryf na die - hopelik tydelike - huidige verposing?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top