![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Ellen Botha Het sy al lus gehad om haar hand aan ernstige poësie te waag? “Ek is bitter lief vir liefdesverse en ernstige gedigte, maar as ek dit probeer skryf, klink dit soos iets deur Patience Strong.” (Beeld, 21 November 1991) Hoekom skryf sy nie onder haar nooiensvan nie? “My pa se gedigte was kinderlik onskuldig en Rosa s’n is ernstige werk. Ek was bang ek steek hulle met my versies in die skande. Ek was besorg oor húl reputasies, nie myne nie!” (Beeld, 21 November 1991) In De Kat: “Moet tog net nie sê ek is ’n digter nie. Ek is ’n rympieskrywer en versiemaker en dis al.” (De Kat, Maart 1991) “As jy wil snaaks wees, kan dit nie net ’n ‘grappie op rym’ wees nie. Jy moet in jou rymelary speel met die taal. En daar moet altyd iewers ’n stekie, ’n stoutigheid, ’n stuitigheid of ’n skurwigheid wees. So nie beteken dit vir my niks. Ek skryf natuurlik maar baiemaal oor dit wat ek in die spieël sien. Selfspot is noodsaaklik. En, ag, ons Afrikaners leer tog so langsaam om vir onsself te lag.” (De Kat, Maart 1992) Meen sy nie dat haar limericke ’n bietjie mak is en nie werklik in die tradisie van die limerick nie? “Die Engelse limericke is sulke sexy goedjies, maar as ’n mens honderd van hulle gelees het, raak jy moeg daarvan. ’n Bietjie afwisseling is nodig.” (Beeld, 21 November 1991) “Die skryf van verspotte versies en limericke is my stokperdjie, maar as ek eers aan die gang kom, word dit ’n obsessie. Dan eet, slaap en dink ek versies. En dis nie eintlik lekker nie.” (Beeld, 21 November 1991) |
Gebore en getoë
Ellen Botha is op 2 Augustus 1941 op Senekal in die Oos-Vrystaat gebore. Sy is die dogter van die bekende digter AD Keet en sy derde1 vrou, Rina. Uit haar pa se eerste huwelik is een seun en twee dogters gebore en Ellen het twee eie susters, van wie die bekende digter Rosa Keet een is.
Ellen vertel in 1990 in ’n biografiese skets aan NALN: “Ons het in ’n groot dubbelverdiepinghuis reg in die middel van die dorp gewoon en menige keer het ’n ‘tawwe trêwwelaar’ net daar ingestap op soek na die kroeg en dan het my pa hom droogweg verwys na die naaste hotel.
“Ons huishouding was ietwat onkonvensioneel, maar besonder gelukkig. So was ons bevoorreg om reeds van vroeg af allerhande interessante persoonlikhede te kon leer ken: skrywers, digters, skilders en beeldhouers was gereelde gaste aan ons huis. Geld was skaars, maar my ouers was albei besondere gasvrye mense. Ek kan onthou dat die hele Hanekom-toneelgeselskap by ons tuis gegaan het wanneer hulle in Senekal moes optree.”
Ellen onthou dat hulle huis op Senekal (“wat soos die Voortrekkermonument gelyk het”) vir baie mense ’n oorstaanplek was: “Sy onthou kuiers van mense soos die digter Theo Wassenaar, die radioman Morkel van Tonder, prof PJ Nienaber (oom Piet Nien) en dan die Hanekoms van teaterfaam. Só het, byvoorbeeld, ook Dirk en Marié Opperman dikwels op pad Natal toe daar aangedoen. En dit was juis Opperman wat by geleentheid gesê het dis merkwaardig hoe Keet dit regkry om suksesvol in twee wêrelde te bestaan,” skryf Rachelle Greeff in De Kat, “naamlik die harde wêreld van die medisyne en die sagte een van die poësie.”
Hulle pa het die kinders met sy rympies getrakteer aan die etenstafel wat die groot geselsplek van die Keet-familie was. “Van daardie vervloë tyd het net die etery helaas oorgebly!
“My ouers het hulle liefde vir letterkunde en kuns aan ons oorgedra en my pa se boekversameling was tot ons beskikking, hoewel ons kleintyd meer belanggestel het in die prentjies van die mediese boeke!”
“By die Hoërskool Paul Erasmus op Senekal loop ons hele klas met klein swart notaboekies rond – nie vir kêrels se telefoonnommers nie, maar vir ongewone Afrikaanse woorde in opdrag van ons onderwyser, Basie Boshoff.”
Gedurende hierdie tyd is die liefde vir woorde by die jeugdige Ellen ontwikkel en is daar jaarliks van haar opstelle en rympies in die jaarblad van die skool gepubliseer – “die snaakses meer geslaagd, die liefdesgedigte ’n reuseramp!” vertel Ellen aan NALN.
“Op ongeveer tienjarige ouderdom het ek my verbeel ek kan ook dig en van hierdie gedroggies het nogal in ons skooljaarblad verskyn, tot en met die eerste groot liefde my getref het. Daardie jaar was my meesterstuk ’n ellelange liefdesgedig in die jaarblad – die eerste en laaste liefdesgedig wat óóit sou verskyn: my liefde, my muse en ‘my gedigte’ het gelyk gesneuwel en ek kon meer op musiek konsentreer, terwyl my jonger sussie, Rosa, die digtradisie op ’n veel meer waardige wyse voortgesit het.”
Ellen se ma het haar weekliks na Bloemfontein geneem waar sy musiekles gehad het by Arend Koole. Hy was daarvoor verantwoordelik dat sy die finale klaviereksamen reeds in standerd nege met lof geslaag het.
Een van Ellen se helde op skool was die skrywer PJ Schoeman. Sy vertel op LitNet: “Dis in my matriekjaar, Julie 1959, dat ons pa genooi word om ’n toespraak op Stellenbosch te gaan lewer. Ons vertrek uit die Vrystaat met sy vaal, plat vlaktes voor ons uitgestrek. Pa en Ma sit voor, met die drie dogters soos sardientjies agter in die Pontiac gepak. By voorbaat gewapen met Panado’s vir die hoofpyne wat so seker as môre heeldag gaan kom wanneer Pa met sy minder as goeie bestuursvernuf én hoogtevrees Du Toitskloof-pas agter die stuur moet aandurf.
“Asseblief tog, bid ek, moenie laat ons verongeluk nie, want ek gaan my hero in lewende lywe ontmoet!
“Ná twee dae kom ons veilig in ’n lowergroen Stellenbosch aan. Vir die heel eerste keer sien die drie Vrystaatse kinders hoe regte berge lyk, en verkyk ons ons aan die diepgroen van die gras, die groot ou eikebome en die waterstroompie van die Eersterivier wat deur die dorp kronkel. My opgewondenheid ken nou geen perke nie. Ek kan nie meer wág om my held te ontmoet nie. Ons gaan tuis by Pa se broer, wat reeds al die nodige reëlings getref het.
“Die voorgeskrewe boek vir Afrikaans daardie jaar is Die swerwerjagter van PJ Schoeman en van die heel eerste oomblik toe ek dit begin lees het, was ek (en die meeste meisies in ons klas) smoorverlief op hierdie sagtehart swerwerjagter met sy beskrywings van ’n wêreld wat nie een van ons geken het nie. Die man wat saam met sy Zulu-gids murgbeentjies uitstamp – mooi dinge gesels – wanneer hulle in die verafgeleë dele van die land om ’n kampvuurtjie sit; die jagter wat iewers in midde-Afrika op soek is na ’n leeuwyfie wat sy geliefde hond daardie oggend verskeur het. Wat die spoor volg, mik en met wrewel aanlê vir die doodskoot ... net om die leeuwyfie se welpies by haar te gewaar, ‘kalbasmagie gedrink aan die moedersmelk’.
“Die romantiese swerwer wat ’n lêplekkie in my hart kom vind het.
“Dis ’n koel, mistige oggend, maar ek en oom Ben stap sommer na PJ Schoeman se huis, ’n dubbelverdieping met groot palmbome aan die voorkant; ek amper te bang om asem te haal. Hy groet ons vriendelik en oom Ben stel my voor as sy jong bewonderaar. ‘Jong bewonderaar?’
“Hoe kán hy so iets sê? Was ek dan nie saam met my rustelose held op ál sy ver paaie nie? Het ek nie alles intiem saam met hom beleef nie; ken ek nie sy siel tot in die diepste van sy wese nie? Ek verkyk my aan sy diepblou, deurdringende oë, onbewus van sy ouderdom; sien nie die ylwordende hare raak nie – is net geheel en al begeesterd deur sy stem wat rustig oor my streel.
“Nadat ons tee gedrink het, toe ons moes groet, gee hy my ’n soentjie op die wang! Ek sweef op ’n towertapyt terug na oom Ben se huis, handpalm oor my wang sodat daardie soen deur niks of niemand op aarde ooit weggevee kan word nie.
“Met die matriekuitslae is ek een van die vier kandidate in die Vrystaat wat ’n A-simbool vir Afrikaans kry. Onmiddellik word ’n gloeiende dankiesê-briefie aan my held gestuur vir sy groot aandeel in die goeie resultate.
“Twee weke later is daar vir my ’n pakkie uit Stellenbosch. Opgewonde maak ek dit oop en hou Waar ver winde waai in my hande vas. Binne-in is ’n gelukwensing en die volgende woorde: ‘Aan Ellen Keet, een wat nog droom ... vd Swerwer, PJ Schoeman.’ Toe ek jare later weer die boek optel om te lees, slaan die opskrif voorin soos ’n hou op die maag: Het my held tóé al opgehou droom?”
Ellen matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Paul Erasmus.
Verdere studie en werk
Ná matriek is Ellen na die Universiteit van Kaapstad se College of Music, waar sy ’n vierjaarkursus in musiek gevolg het met klavier en harp as hoofinstrumente, terwyl sy ook bastrom moes speel in die opera-orkes. “Die eerste paar maande was my mond bot toe, omdat ek te skaam was om Engels te praat.” (aan NALN)
Gedurende hierdie tyd het sy heelwat solowerke in konserte gedoen en opgetree as soliste in die orkes tydens die uitvoering van Mozart se Klavierkonsert K 414.
Die studentelewe was een groot fees vir Ellen. “Ons gaan op operatoere landwyd, selfs na Windhoek. Ek tree op as klaviersolis saam met die orkes, speel harp op konserte, die liefdeslewe floreer (hulle sê hoeka ‘harpists do it heavenly!’).”
Nadat sy haar onderwysdiploma sowel as haar voordraerslisensiate verwerf het, is sy na Parow, waar sy ’n musiekpos gekry het. Ellen woon steeds in by die dameskoshuis Baxter Hall, waar sy as tutor aangestel is vir die studente. Daarna het sy musiek gegee by skole in Queenstown en Senekal, asook by die destydse Technikon in Pretoria. Op Queenstown ontmoet sy haar wederhelf, Nick Botha, en ná hulle troue trek hulle Kaap toe, waar hulle enigste seun Joe gebore is. Hulle vestig hulle in Parow-Noord.
Sy was steeds bedrywig met musiekkonserte as soliste, met werke vir twee klaviere en ’n optrede met Bach se konsert vir drie klaviere en orkes.
Ellen vertel aan NALN: “In 1987 het ek (op die ouderdom waar die warmgloede teister) weer begin harp-lesse neem by die Walliese harpspeelster Beti Woolley wat lektrise was aan die Universiteit van Kaapstad. Dit hou my besig met uitvoerings in skole en kerke en, as deel van ’n Lions International-projek, ook by ouetehuise in die Kaapse Skiereiland en die Boland.
“Die harp waarop ek speel, het met die Britse Setlaars in 1820 na ons land gekom. Die klank daarvan is steeds merkwaardig en hoewel van die pedale nie meer so goed werk nie, kom ons twee nog goed klaar.”
Oor haar liefde vir die harp as musiekinstrument sê Ellen aan Rachelle Greeff in De Kat van Maart 1992: “Dis die fyn- en helderheid van die klank wat my boei. En die feit dat jou vingers direk aan die snare raak, anders as ander snaarinstrumente. Boonop maak harpmusiek my kalm. Ou ding dié van die harp: dink maar aan koning Saul van die Bybel.”
Intussen het Ellen se ander pennevrugte bestaan uit speelse rympies vir haar vriende. En ander lesers sou dalk nooit Ellen se verse gelees het as Loreinne Fryer, Charles Fryer van Tafelberg Uitgewers se vrou, nie een van haar vriendin Ellen se “goed” op die yskas geplak het nie. Charles vertel aan Rachelle Greeff: “Die eerste skryfsels van Ellen wat ek onder oë gehad het, het ek een aand teëgekom het toe ek ’n onwettige porsie kaas gaan opeis het in die kombuis, en, daar op die yskas, onder ’n magneetjie, het ’n vrolike versie gelê. Ek het dit toe amper meer geniet as die kaas. Toe sê Loreinne vir my dat dit Ellen se gebruik is om vir haar vriende sulke lekker versies te skryf en hulle op te beur in die huisvrou-depressie. Ek het gekyk en gedink, jislaaik dis goed. Só iets behoort gepubliseer te word. Maar mens is bang om van jou vriende skrywers te maak – dit kan ’n groot verleentheid word.”
Charles beveel haar toe om 99 limerieke vir publikasie te skryf. (aan Rachelle Greeff in Die Kat, Maart 1992)
“Wat ’n uitdaging! Die Botha-huis vergader stof, kos brand daagliks aan en die moeder skryf soos ’n besetene terwyl manlief maar vis en slaptjips moet koop om te oorleef. My brein wil nie afskakel nie, dag en nag sit ek met 5-reël rympies – en dryf man, seun én sus Rosa teen die mure uit. Rosa lees elke limerick, gee wreed, maar eerlik, kritiek. Dit was vir my as musieklike die begin van ’n totale ánder soort van lekkerte. Dit was nóóit in my kop om iets te publiseer nie, maar die dag toe die bundeltjie Gruwelike huwelike en ander lostong-limericke in 1989 verskyn, was werklik ’n hoogtepunt in my lewe. Dit was ook die eerste en enigste Afrikaanse limerickbundel wat tot op daardie stadium deur ’n vrou gepleeg is.
“Al die resensies is positief, behalwe een dame wat in Die Burger se brieweblad ernstig waarsku teen my bundel: dis glo soos die onheiligheid van keiser Nero wat die hele Romeinse Ryk tot ’n val gebring het.”
Marina le Roux beskryf Gruwelike huwelike in Die Burger (3 Mei 1990) as “lekker banalig en skantalig”. Die baldadige inhoud is hokgeslaan binne 11 breë onderwerpshoofde, soos byvoorbeeld “Terte in die verte”, “Getoorde akkoorde”, “Seergemiste komponiste”, “Alkolieke klieke”, “Breë weë” en “Boererumoer”. Le Roux skryf verder: “Die leser moet self besluit of die versameling te baldadig en te balhorig is vir geraffineerde smaak en of dit te aards en onder die klere uit is. Want waar Botha nog soms briek aandraai, laat kriewel Cora Coetzee se humoristiese illustrasies die kieliebakke.
“Gruwelike huwelike is nes ’n loslyf vastrap of ’n vrolike seties – dis ’n bak boek om gate uit en onbevange te geniet. Toe Edward Lear (die groot meester van limeriek-kuns) beskuldig is dat sy limerieke te laf is, en kinders net sal korrupteer, het hy geantwoord: ‘I am sure we shall be allowed to laugh in heaven!’ Limerieke soos dié van Botha laat ’n mens toe om selfs hier op aarde te lag.”
Ellen se oor vir ritme gee haar die vermoë om limerieke in Afrikaans te skryf, skryf Cecile Cilliers in Beeld (27 Januarie 1990), “’n taak wat ritmies nie altyd maklik is nie. Haar digterlike geloofwaardigheid staan bo verdenking met AD Keet as pa en Rosa Keet as suster, maar waar sy haar stuitigheid, stoutigheid, guitigheid vandaan haal, het die flapteks van die boek nie vermeld nie.
“Ellen Botha kan hierdie versvorm én taal met swier hanteer en met daardie bykomende, onontbeerlike gawe vir die limeriekskrywer, naamlik die spottende blik, staan sy in Gruwelike huwelike haar plek behoorlik vol.”
Ook Johann de Lange is beïndruk met Ellen se speelse limerieke: “Gruwelike huwelike voorsien in Afrikaans se seergevoelde gebrek aan humor. Ek sal die boek egter nie aanbeveel vir skroomvallige lesers of moralistiese resensente nie.”
’n Paar voorbeelde van Ellen se limerieke:
Die mollige Malie de Rooy
het swaar, sy is niemand se nooi:
“Ek kry nie ’n kêrel
en kan nie ’n pêrel
Soos myne vir swyne gaan gooi.”
Jantjie se donkie is wonderlik mak,
sy stappie is swak, want sy bene is bak;
sy knokke die knak
hy val oor ’n tak
en daar land hy diep in die kompos.
Ou Brahms skryf ’n wiegelied-deuntjie,
maar hy’t las van die bure se seuntjie:
“Rap-so-die boudjie
of ék moor die outjie
en skryf dan vir hom ’n requiempie.”
Met voornaam van Koos – en nie Jan,
is Hall ’n beswaarde ou man;
jy moet dit begryp,
hy sit in die knyp:
hy sit op sy naam ... met sy van!
’n Handelsagent, van Harm,
stop laat een nag voor ’n kasarm;
hy voel pure haan
toe hy lees wat daar staan:
WELKOM! ONS TERTE IS LEKKER WARM!
Gertruida die wittebrood-bruidjie
trek haar mond op ’n twaksakkie-tuitjie
en sê: “Jan, ek is nie
vir dáárdie ding lus nie.”
Toe sink hulle huwelikskuitjie.
Tot frustrasie van Ellen se man, kind én sussie val sy ná die publikasie van Gruwelike huwelike dadelik daarna weg met ’n bundel speelse verse en weer word daar woorde gesoek om mee te “speel”. “Papiertjies vol idees dwarrel in ons gange af, die twee manne in my lewe is wéér aan hulleself oorgelaat, my arme seun herstel ’n skeur in sy skoolbaadjie met ’n ‘stapler’ en ek is min gepla – té besig met my obsessie om die taal te kielie. Ander tydverdrywe soos swem, musiek, reis, boeke, blokraaisels, selfs ons Bybelstudiegroepie, word gruwelik afgeskeep. In 1991 verskyn V*E*R*S*P*O*T: bekkige rympies vir mondiges.”
Hierdie bundel sluit aan by haar pa se Verspotte gediggies vir verspotte kinders. Dis volksversies, vertel Ellen aan Elfra Erasmus (Beeld, 21 November 1991), “en in sommige opsigte sommer net volksrympies. Dis vir grootmense oor groot mense, daarom is dit soms stouterig.”
Omdat komiese afleiding so bitter nodig is, het sy die bundel geskryf. “Daarmee sê ek egter nie mense moenie oor die swaarmoedige toestande in ons land skryf nie. Maar ons het nou nodig om te lag.”
In V*E*R*S*P*O*T word daar met ieder en elk gespot, van Adam en Eva, die losbandige tant San, biskop Tutu en minister Barend tot pop- en sportsterre:
Toe sy buk, het Brian Mitchell
vir Miss Dolly gefluit;
toe sy opkom, slat haar Partons
hom met twee houe uit.
In die bundel gaan dit plesierig en jolig:
Met jolliejeuk en nierkoliek
en ritteltit en rumatiek
en fyt en jig en hipertensie
nawelbreuk en flatulensie
vat oom Maans ’n hengse kans
en vra sy vrou vir St Vitus-dans.
Hierdie twee bundels van Ellen lei tot verskeie radio-onderhoude, ’n program op RSG waarin Margot Luyt van die verse voordra, “ontmoet-die-skrywers-aande”, besprekings oor eie werk vir leeskringe, ensovoorts. By een van hierdie aande sê iemand hulle kan nie verstaan dat daar sulke snaakse en onhebbelike goed uit haar pen verskyn nie, terwyl sy terselfdertyd so sedig lyk. Die drama-departement van die Universiteit Stellenbosch voer van haar verse op en vra terstond vir bydraes tot hulle karnavalblad, Akkerjol – ’n verbintenis wat met pure plesier ’n hele aantal jare aangehou het.
Hierna breek ’n nuwe én onbekende fase vir Ellen aan: “Ek word aangesê om myself te rehabiliteer en leesboekies vir grade 2 tot 6 vir Kurrikulum 2005 in rymformaat te skryf. Die woeker met woorde gaan voort, maar om dit nou so eenvoudig as moontlik te hou, al neem my obsessie geensins af nie. Vir my word die skryfsels iets tussen ’n slagveld en ’n sege om dit humoristies, maklik leesbaar én leersaam vir jong leerders te maak,” vertel Ellen in ’n biografiese skets aan NALN (in 2004). “Ek word weer kind, geniet my gate uit met die diere wat gaan vakansie hou in die stad en op ’n skaatsplank moet ry wanneer hulle bussie gekaap word (Diereplesier, 1998). Seisoene en weerverskynsels word kafgedraf in Brrrr! en Sjoe! (1998) en in 1998 verskyn Wakker rakker rympies 1 en 2 wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe dek. In dieselfde jaar is hierdie kop bedrywig met twee ruimtemannetjies wat op die aarde strand en ons vervoerstelsel beleef (Kwet en Kwit se rare rit).”
Drie boekies vir graad 6 volg: Verl@nge (2004), Die seuntjie wat ’n ster geword het: Nkosi se storie (2004) (wat kinders op ’n eenvoudige manier van die gevare van MIV/Vigs bewus maak) en Tinkel tonkel towertaal (2004) (waarin hulle leestekens en ander taalverskynsels op ’n prettige manier kan leer).
Ellen is lief vir mense, boeke, enige vorm van kuns, en reis. Sy erken dat sy ’n uiters swak huisvrou is (haar eie woorde) wat haar linkshandigheid gebruik as ’n verskoning dat sy nie kan brei óf naaldwerk doen nie. Sy was ook lid van ’n plaaslike leeskring, sowel as van die destydse Afrikaanse Skrywersgilde.
In Maart 1992 het Ellen aan Rachelle Greeff in De Kat vertel dat sy bang is dat sy mense gaan begin verveel “omdat ek nie op my een-snaar-ramkiekie kan voorttokkel nie. Ek sal moet dink aan ’n ander rigting, maar wat weet ek nog nie.” Maar Daniel Hugo meen ’n mens kan jou lewe lank speelse digter bly en om te verseker dat Ellen nooit wegraak nie, het Daniel die etiket “vroulike AG Visser” om Ellen se nek gehang.
Eindnota
1 Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek is AD Keet na die dood van sy eerste vrou, Nell Keet-Van der Poll, getroud met Dorothea Johanna Dreyer, maar hulle is vroeg geskei. Hy is in 1939 met Catharina (Rina) van der Merwe getroud en uit hierdie huwelik is sy drie dogters, Ellen, Rosa en Catharina, gebore.
Publikasies
|
Publikasie |
Gruwelike huwelike en ander lostong-limericke |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624028232 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Limericke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
V*e*r*s*p*o*t*: bekkige rympies vir mondiges |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
062403089X (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Ryme |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Diereplesier |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
0798653515 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Brrrr! en Sjoe! |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
079865354X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Kwet en Kwit se rare rit |
|
Publikasiedatum |
1999 |
|
ISBN |
079865693X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Wakker rakker rympies 1 |
|
Publikasiedatum |
2002 |
|
ISBN |
0798647049 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Kinderrympies |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Wakker rakker rympies 2 |
|
Publikasiedatum |
2002 |
|
ISBN |
0798657057 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Kinderrympies |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die seuntjie wat ’n ster geword het: Nkosi se storie |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
0798666048 |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verl@nge |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
0798666331 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tinkel tonkel towertaal |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0798666102 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
|
Literêre vorm |
Opvoedkundige kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Ellen Botha:
- Botha, Ellen: Die mooiste herinnering aan my jeug uit Afrika: Die held van my drome
- Ellen Botha
- Erasmus, Elfra: “Verspotte versies” word ’n obsessie. Beeld, 21 November 1991
- Greeff, Rachelle: ’n Pot vol spot. De Kat, Maart 1992
Ellen Botha se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-05-29 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
- Dankie aan die skrywer vir haar hulp met die opstel van die Skrywersalbum.

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.



Kommentaar
Wonderlik. Dit het my dag gemaak!
Lieflik. Baie dankie.
Watter klomp juweeltjies - so jammer dit is nie detyds beter "bemark" nie . . . guitige, stuitige Ellen is voorwaar met 'n harp se eienskappe gebore - soveel snare en gemáák om ander te vermaak op alle plekke waar dit saak maak . . .
Die biografiese herinneringe van en oor my FB-vriendin Ellen Botha is besonder interessant en ek het haar versies baie geniet.