Die ontydige dood van Jakes Gerwel in 2012 het my gedagtes weer eens laat terugloop. Dit was vyf jaar gelede toe ek hom in Somerset-Oos besoek het.
Hy het my die verhaal van ’n uitsonderlike inwoner van dié dorp vertel.
“Ek wil asseblief hê jy moet die storie van die persoon vertel. Hy is ’n besonderse man wat miskien meer met sy enkele daad in die stryd gedoen het wat ’n hele klompie Suid-Afrikaners, my ingesluit, saam vermag het. Vandag praat niemand daaroor nie. Seker omdat hy in andere se oë as net ’n gewone mens beskou word.”
Dit is nadat ek hom gepols het oor die skryf van ’n “dag-in-die-lewe-van-Jakes-Gerwel-in-die-Karoo”-storie.
“Goed, ons kan dit doen,” verseker hy my.
“Maar skryf eers die storie oor die besonderse man. En ja, die storie van ons kerk, die Congregational-kerk, kan jy ook skryf. Ek het nie eers besef dat ons ou kerkgebou die heel eerste op die dorp was nie. Asseblief, en vertel veral die verhale van die oumense wat ’n belangrike rol gespeel het in die oprigting van die gebou. Ons durf hulle en hul rol nie vergeet nie.”
By Gerwel se huis in Pauletstraat het die skaduwee van die nabygeleë Bosch-berg die helder dorpsligte effens gedemp. Ons loop by die hek uit tot binne-in dié straat. Daarna op in dié straat die Karoo-donkerte binne. Gerwel beduie met sy hand op in die straat. “Die man bly ver op in die straat.”
Hy vertel: “Met die instelling van die groepsgebiedewet het die man geweier om die dorpsgebied – wat toe ’n wit gebied verklaar was – te verlaat.
“Alle gekleurdes was geforseer om die middedorp te verlaat en moes aan die buitewyke van Somerset-Oos gaan bly het. Net een man en sy gesin het vasgestaan en nooit getrek nie.
Hy bly vandag nog waar hy destyds gebly het.”
’n Paar dae later stuur Gerwel ’n e-pos oor ’n ander saak, maar klits die storie oor die man aan die einde in. “Moenie die storie oor die man vergeet nie. Dit is iets om te vertel.”
Iets wat my daardie aand opgeval het van Gerwel, is dat sy antropologie van die mens, soos Madiba s’n, merkwaardig was. Hy het altyd die goeie in elke mens gesoek. Hy was in gees, emosie en in sy hart ’n goeie en eenvoudige mens. Sy versameling van eenvoudighede soos skilpaaie en perdekarre bevestig dit.
Nou is Gerwel al amper twee jaar dood en ek het skandelik nog nie die storie geskryf nie.
Vroeg volgende maand gaan ek Somerset-Oos toe om die storie te gaan skryf, want alle mense is stories. Die sin van ons lewe en ons verhoudings met andere word deur stories begrypbaar gemaak. Wat ons was, wat ons is en wat ons wil wees, word deur stories vertel. Ons skep waardes, begeertes en verlangens deur stories.


Kommentaar
'n Besonderse herinnering en mooi vertel. Ons wag op die storie...