Foto: Wikipedia, Openbare domein |
|
Sêgoed van Elise Muller “Hoe ek skryf? Ek word getref deur ’n situasie, ek gaan sit en skryf, en partykeer loop die verhaal na vele herskryf soos ek bedoel of voorsien het, en ander kere neem dit heeltemal ’n nuwe beloop. Dan is ek net so verras soos die toekomstige leser.” (Sarie, 28 November 1979) “My verhale het almal ’n beginpunt in die werklikheid. Ek kan nie uit my duim suig nie, ek moet wag tot die lewe my iets ingee. So het ek die vrou van Die dieper dors self geken, die plasie ook.” (Sarie, 28 November 1979) “Maar die groot ding was die gesondword. Nie eens die Hertzogprys kon vir my die gevoel van prestasie gee wat ek ondervind het die dag toe ek geweet het daardie kiem in my is uitgebrand en ek kon tussen ander mense gaan sonder om ’n gevaar vir hulle te wees nie!” (Sarie, 28 November 1979) Nadat sy gehoor het dat die Hertzogprys aan haar toegeken is: “Ek wil dit nie hê nie, ek is dan so lekker onbekend, ek sal nooit weer ’n pen kan optel nie. Ek het dan nog altyd vir die vrou agter die basaartafel geskryf, nie vir akademici nie.” (Sarie, 28 November 1979) “Die twee dinge wat vir my so noodsaaklik vir skeppende werk is, het ek gehad: baie stilte en baie tyd.” (Die Burger, 14 September 1989) “As jy jou bolla opgemaak het, moet jy dit só los, anders kom al jou hare los.” (Beeld, 18 Januarie 1986) “Dit mag wees dat die oormaat van tyd wat ek in die jare van my siekte gehad het, by my ’n werkpatroon gevorm het wat waarskynlik permanent sal wees. Ek skryf stadig en ek kan nie lank oor ’n boeg aanhou nie. Twee uur van konsentrasie voor die tikmasjien en ek soek enige verskoning om iets anders te doen. Dit is miskien deels ook daaraan te wyte dat ek selde met ’n volkome uitgewerkte en heeltemal deurdinkte stuk werk by die tikmasjien kom.” (Huisgenoot, 8 Oktober 1965) As sy nie siek geword het nie, sou sy tog geskryf het? “Ek weet nie. Ek voel darem om te sê, ja, miskien tog, want ek onthou hoe ek as jong kind reeds die behoefte gevoel het om wat met my gebeur het, neer te skryf – en daar soms ’n storie van te maak! Maar een ding kan ek tog vandag met sekerheid sê: die jare van siekte en afsondering was wel die aanleidende oorsaak dat ek in 1941 begin skryf het.” (Huisgenoot, 8 Oktober 1965) “Vandag kan ek die twee dinge nie afsonderlik sien nie – die skryfwerk nie sonder die jare van afsondering nie; die liggaamlike swakheid nie sonder die besielende wete dat die mens as hy in nood gedryf is, eers waarlik leer waartoe hy in staat is.” (Huisgenoot, 8 Oktober 1965) “Ek moes die kuns aanleer om essensieel te leef (as gevolg van haar siekte), anders sou ek nie aktief kon leef na my operasies nie.” (Sarie, 28 November 1979) “By my ouma het ek vir die eerste maal die begrip en belangstelling gevind wat nie voor die klimmende jare wyk nie.” (Sarie Marais, 16 Maart 1960) |
Gebore en getoë
Elise Muller is op 11 Maart 1919 op Ceres gebore. Haar pa, Cornelis Muller, was ’n jong predikant op Ceres, en daar het hy Elise se moeder, Stinie du Toit, ontmoet en getrou. Elise was die oudste van hulle ses kinders.
Die gesin het op baie dorpe gebly gedurende die kinders se grootwordjare – Citrusdal, Bonnievale, Nieuwoudtville en veral Calvinia, waar haar pa agtien jaar lank predikant was. “Dis hierdie bekende dorps- en gepaardgaande plaasbestaan wat later so suiwer sou opgeteken staan in Elise se skryfwerk.” (Sarie, 28 November 1979)
Op Bonnievale in die Suid-Kaap het die gesin vir sewe jaar gebly. Dit was sewe baie gelukkige jare langs die Breërivier. “Die dorpie was destyds eerder ’n gemeenskap van plase en kleinhoewes: ’n pragtige landskap van lusernlande, wingerde en volop water, met die waterryke klowe van die Langeberg aan die noordekant soos ’n buffer teen die harde landskap van die Karoo daaragter.”
En toe, in Elise se twaalfde jaar, het die verhuising na die Karoo gekom. En hierdie wye en vaal wêreld het sy merk wel deeglik op Elise Muller gemaak. “Brakwater – en dus geen roostuin nie; skerp rypnagte en versengende somers, en alles onder stof! Bowendien was die Noordweste – veral destyds nog – baie ver verwyder van ‘die groen hart van die Boland’,” skryf Audrey Blignault in Die Huisgenoot (8 Oktober 1965).
As kind op Nieuwoudtville het Elise, haar suster Helene en die skoolhoof se dogter, Zetta Uys, baie kattekwaad aangevang omdat daar maar min afleiding op die klein dorpie was. Zetta vertel aan Heindrich Wyngaard (Die Burger, 9 Junie 1998) hoe hulle drie soms deur die kerkhof gedrentel het – nie uit nuuskierigheid nie, maar om te kyk na die ou, soms baie ou, grafstene en dan stories op te maak oor die mense wat daar begrawe lê. Elise het daaroor geskryf in haar kortverhaal ”Kinders in die skemer” en geskryf: “Diebegraafplaas was vir ons drie ’n oase van koelte en verskeidenheid was, en ’n park, en ’n kunsgalery, en ’n argief met name en datums uit die vorige eeu.” (Die Burger, 23 Junie 1998)
Zetta vertel verder: “Ons was al drie baie lief vir lees en het ’n gewoonte daarvan gemaak om op die trap buite die pastorie te sit en self stories uit te dink en neer te skryf. Dan sou ons ons stories vir mekaar voorlees en gewoonlik ophou op ’n punt waar die spanning hoog loop om dan ons avontuurlike stories die volgende keer verder te voer.”
Elise het in Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland (Tafelberg, 1980) vertel oor haar jeug in Calvinia: “Maar skering en inslag van ons blye dae was die klein vreugdes. Die vingeralleen rondloop in die veld – toe dit nog kon; en die kennis van daardie veld, sy klippe, sy plante, sy diere. Die naweke en vakansies op plase, waar ons die mense op hul eie werf leer ken het, ou stories gehoor het en dikwels bang-bang gaan slaap het. Somermaande toe ons ons beddens van die stoep af gesleep het en op soek na koelte onder die sterre geslaap het. Die smaak van koel, soet turksvye wat ons Februariemaand soggens vroeg met ’n bakpoeierblik voor aan ’n lang stok in die pastorietuin gepluk het. En die vergange feestelikheid van ’n gebraaide hoender die dae toe pluimvee op tafel ’n seldsaamheid was en die ou hoenders wat vir slag in aanmerking gekom het, ’n hele vleisskottel vol gelê het.
“Maar opperste saligheid was as die reën kom. Dan praat niemand oor iets anders nie. Dan vergeef ons mekaar alles. Want dit reën. Die berigte stroom in. Die Tankwa lê kant en wal. Dit reën tot diep in die Boesmanland, die hele Noordweste is nat. Dis nuus om van dronk te word. Ons kom aan niks. En as die wolke effens lig, trek ons ons oudste skoene aan en laat saai rivier toe, waar die water uiteindelik weer lóóp en die stroom by die halfuur sterker word. En kyk, kyk bietjie daar waar die wolke lig – sien julle die kapok teen die hange? Dit bibber en beef en blaas op die vingers. Maak nie saak nie. Ons wêreld is deurnat. Vanaand brand die kaggelvuur. Oor ’n maand of twee staan die botter- en gousblomme die vlaktes vol. Dan is die Hantam vir dié wat kom kyk, wat hy vir ons deurentyd is – die lekkerste plek op aarde.”
In 1936 het Elise aan die hoërskool op Calvinia gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Na skool is Elise na die Paarlse Opleidingskollege, waar sy in 1938 haar Primêre Onderwysdiploma behaal het. Begin 1939 het sy na Stellenbosch gegaan, waar sy haar ingeskryf het vir ’n BA-graad. Op Stellenbosch, op die dag van haar twintigste verjaardag, is tuberkulose by Elise gediagnoseer. Ná behandeling is sy terug na die ou pastorie in die Hantam.
“Jy weet,” het sy later aan Sarie (28 November 1979) vertel, “skryf is nie vir my ’n lewensdrang soos ek dit by baie ander skrywers sien nie. Ek het myself nooit eerste as skrywer gesien nie. As ek nie siek geword het met tuberkulose nie, weet ek nie of ek skrywer sou geword het nie.
“Maar daar sit ek toe, ses jaar lank in my slaapkamer in die ou pastoriekamer op Calvinia – dit was voor die tyd van moderne middels. Ek moes die tyd omkry. Ek het gelees en gehekel en geborduur en gebrei, dertien rokke alleen. Toe het ek begin skryf. En dis vir my nou ’n wonder dat die werk wat ek daar aangepak het, toe ek tot niks anders in staat was nie, vandag vir my help om my aftreejare so aangenaam te maak.”
En dit was in Calvinia se pastorie waar sy haar eerste roman Ek, ’n Samaritaanse vrou geskryf het – in haar handskrif op skryfblokpapier – en dit ingestuur het vir ’n romanwedstryd. En, tot haar verbasing, die eerste prys van ’n hele honderd pond gewen het. Daarmee het sy vir haar, haar eerste tikmasjien gekoop – ’n Remington – waarop sy feitlik al haar latere werke getik het.
Die feit dat Elise se roman die eerste prys gewen het, was vir Fransie Malherbe ’n groot skok. Berta Smit het in Boekewêreld (5 Maart 1997) vertel dat hy in sy tydskrif, Ons Eie Boek, heftig te velde getrek het teen die beoordelaars se keuse, want volgens hom was Anna Louise Conradie se Laura stukke beter as Ek, ’n Samaritaanse vrou.
Later het Elise vir Berta Smit vertel hoe Malherbe se kritiek haar gehelp het om met ander oë na haar eie werk te kyk en die foute te kon raaksien. Sy het later vir hom geskryf om dankie te sê. Daarna het sy nooit weer teruggekyk nie.
Haar skryfwerk het in twee fases geval: die begintyd met romans soos Ek, ’n Samaritaanse vrou (1941), Die pad verder (1943) en Maar die jare antwoord (1947), wat later beskou is as oefenwerk, en daarna die fase van haar ryper tyd toe sy haar bekroonde werk gelewer het. Maar tussen hierdie twee tydperke in haar skryfwerk lê die Groot Gesondword, soos Elise dit self genoem het.
Abel Coetzee (Bron onbekend, 13 Januarie 1944) het Ek, ’n Samaritaanse vrou as ’n baie middelmatige eerste roman beskryf en gesê dat hoewel Elise Muller tekens van talent aan die dag gelê het, regverdiging vir die verowering van die prys nog gelewer moes word. Met die verskyning van Die pad verder in 1943 het Coetzee geskryf: “Die skryfster se naam word in die Afrikaanse letterkunde gevestig as ’n kunstenares met ’n aanleg wat uitstyg bokant die middelmaat waaraan ons ongelukkig so gewoond moes geraak het in die afgelope tyd.”
In Die pad verder word die verhaal vertel van die Bolandse gesin van oom Sarel en tant Anna Groenewald van Oudekraal. Hulle het ’n groot gesin van tien kinders en later kom Sarel se moeder ook by hulle bly.
Abel Coetzee het verder geskryf: “Rustig word vir ons uitgebeeld hoe hierdie gesin taamlik rumoerig grootword – rumoerig nie omdat hulle gebrek aan opvoeding het nie, maar rumoerig omdat daar soveel verskil van aanleg en karakter is in die omvangryke gesin. Die aanleg is so uiteenlopend dat daar dikwels rusies en twis plaasvind, maar die taktvolle optrede van die moeder kom telkens tussenbei, terwyl dit ook sy is wat botsings tussen die vader en die kroos opvang en neutraliseer. (...) Die lotgevalle van elke gesinslid word taamlik getrou ingevleg in die groot beeld van die tradisievaste op Oudekraal. (...) En dit is die skoonheid van hierdie roman: die skryfster se oorskouing van ’n hele geslag se doening in al sy engheid en in al sy grootsheid, ’n doening wat uiteindelik oorskadu word deur die groter mag van die dood waarin alle hartstogte en verskille gelyk gemaak word. Streng beheers sy haar gevoel dat die menslike doening ’n bietjie dwaas is omdat dit so tydelik en so verganklik is, buite verband soms met die groot heelal wat altyd daar sal wees.
“En dit stem haar tot weemoed, nie sinisme nie; en deur haar gevoel van weemoed betrag sy die lewe van die een geslag wat nou stadigaan plek moet inruim om plek te maak vir die volgende geslag wat ‘Die Lewe Verder’ moet leef en op hulle beurt weer moet oorhandig aan hulle opvolgers. En wat so bevredig, is dat die skryfster haar siening kon volhou oor ’n lang roman heen, die teken van sterke aandoening en ontroering wat slegs in die gaafste kunswerke aangetref word.”
Aan die begin van 1943 het Elise ’n aanstelling as lid van die administratiewe personeel van die Christen-Studentevereniging op Stellenbosch aanvaar. Sy moes egter weens haar gesondheid die betrekking in 1944 weer neerlê.
In Januarie 1947 het Die Huisgenoot aangekondig dat hulle “tot aansporing van ons medewerkers om die gehalte van die kortverhale in Die Huisgenoot tot ’n nuwe hoogtepunt te voer, maandeliks ’n prys van vyf pond aan die beste verhaal gaan toeken. Hierdie prys is bo en benewens die gewone honorarium wat aan elke bydrae betaal word.” Elise Muller was die eerste persoon wat in Februarie 1947 met hierdie prys weggestap het vir haar verhaal “Nag by die drif”. In April 1949 het sy dit weer gewen vir haar kortverhaal “Die onverklaarbare”. Sy was die eerste persoon wat hierdie prys twee keer gewen het. (Die Huisgenoot, 29 April 1949)
Terwyl sy in die pastorie gelê en gewag het op die dood, het daar ’n nuwe jong dokter op Calvinia begin werk – Jannie de Villiers, wat jare later rektor van Stellenbosch sou word, het Berta Smit geskryf in Boekewêreld (5 Maart 1997). Hy het vir Elise vertel van ene dr Phillips van die Kaap wat eksperimenteer met ’n nuwe soort operasie: die totale verwydering van die besmette long. So ’n operasie sou uit die aard van die saak veral in daardie jare ’n groot waagstuk wees.
Tuberkulose-pasiënte kon in daardie jare vir die eerste keer suksesvol geöpereer word met die hulp van die antibiotikum streptomisien, wat toe net op die mark gekom het. Die groot operasie, waarin Elise se een long verwyder is, is in 1950 gedoen. Omdat sy so verswak was, het dit haar ses jaar geneem om te herstel, en dit was ses van die wonderlikste jare van haar lewe. Dit het op Worcester plaasgevind, waar haar ouers afgetree het.
“Ek moes weer leer om te lewe, om te loop en te bad en te gesels,” het sy aan Sarie (28 November 1979) vertel. “En namate ek beter geword het, het die wêreld vir my oopgegaan. Ek kon elke maand kom kuier in Kaapstad, en vir my was dit soos ’n Europa-besoek. Ek kon vriendskap sluit met medeskrywers, ek kon gesels en inneem en ondervind, en my horisonne het heeltemal verbreed.”
Sy het aan Audrey Blignault vertel: “Enige ernstige siekte bring ontwrigting mee of ’n mens nou twintig of tagtig is: maar as jy jonk is, bring hierdie ingee van liggaamskragte wat jy maar so vanselfsprekend aangeneem het, ’n baie diep gevoel van ontreddering. Dit lyk dan meteens asof daar so min oorbly om jou op te verlaat, en as jy dan tot die ontdekking kom dat daar wel iets is wat jy nog met welslae kan doen, wy jy jou met onverdeelde aandag aan die nuwe taak. In sulke omstandighede het ek begin skryf. (...)
“Tuberkulose is selfs vandag (1965) met al die nuwe middels vir bestryding, nie ’n siekte wat in enige weke oorwin en vergeet kan word nie. Die omstandighede vir die ontwikkeling van hierdie vermoë om te skryf, kon nouliks beter gewees het.
“Maar ook in ’n ander sin was die vermindering van liggaamskragte ’n spoorslag om aan te hou met die skryfwerk. Dit was ook lonend. Ek kon langsamerhand die mure van my onafhanklikheid weer opbou, studieskuld betaal, in my eie behoeftes begin voorsien en selfs doktersgelde betaal waar dit nodig was.” (Huisgenoot, 8 Oktober 1965)
Die verruiming ná haar gesondword het dadelik in haar werk gewys. Uit hierdie jare stam haar beste prosa: Van eensame mense (1956), die roman waaraan sy die meeste verknog was omdat dit so direk praat van haar geliefde Noordweste en sy mense, en Die vrou op die skuit, wat ook in 1956 verskyn het en wat in 1957 met die Hertzogprys bekroon is – slegs die derde vrou naas MER en Elisabeth Eybers wat hierdie eer te beurt geval het.
Van eensame mense is in die 1970’s verfilm en in 1979 is dit weer deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. JC Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Deel 1) was die volgende mening toegedaan oor Van eensame mense: “Die leser kry met hierdie heruitgawe die geleentheid om by hernuwing of vir die eerste keer kennis te maak met die suiwer Afrikaans van Elise Muller, ’n skryfster wat die beste werk van Van Melle en MER voortsit, ’n korrektief op die tradisionele plaasroman bring en van die fynste prosa uit die vyftigerjare tot ons Afrikaanse literatuur bydra.”
Wat Anna van Zyl (Volksblad, 28 November 1979) by die herlees van Van eensame mense opval, “is die subtiele tekening van menslike verhoudings en die ontsaglike eenvoud waarmee dié verhaal van eensaamheid aangebied word – inderdaad, hier is ’n pragtige integrasie van stof en vorm, van materiaal en struktuur; dit is eensame mense wat hier leef en dit is ’n eensame wêreld waarin hulle leef. Die boek is dus in die styl van eenvoud, verlatenheid en eensaamheid geskryf. Dít is die omvattende beeld wat dié roman laat.”
Volgens Wium van Zyl (Beeld, 6 Desember 1979) is die teks sterk op menseverhoudinge gerig. “’n Groep karakters in ’n verlate en onvrugbare stuk Karoo kom onder die loep. Die wyse waarop dit gedoen word, plaas die werk binne die groot tradisie van ’n Afrikaanse realisme waarna onder andere dr Elize Botha al by geleentheid verwys het. Dit is ’n realisme wat in die jare sestig tydelik op die agtergrond geskuif is, maar nou weer sy plek ingeneem het. Daarom is dit ook ’n goeie tyd vir ’n heruitgawe. Van eensame mense word gekenmerk deur ’n sterk eenvoud van aanbieding wat die hewigheid van emosies en die uiterlike handeling temper. Juis die eenvoud maak dit vir my ’n werk wat vandag nog boei.”
Die verhaal van Die vrou op die skuit is interessant, het Petra Müller in Insig van Mei 1990 geskryf: “Alba Bouwer en Audrey Blignault (o, wat sal ’n mens tog sonder vriende doen, sê Elise) het ’n bloemlesing saamgestel uit die sowat dertig kortverhale wat Elise deur die jare geskryf het en wat in Die Huisgenoot en Sarie Marais verskyn het. Kortverhale was destyds glad nie so gewild nie, met die gevolg dat hulle met dié twaalf kortverhale nie sukses gehad het by die bekendste uitgewerye nie. ’n Kleiner uitgewer, AA Balkema van Kaapstad, het dit uiteindelik uitgegee.”
Tydens die oorhandiging van die Hertzogprys aan Elise Muller het DJ Opperman die huldigingswoord gespreek (Die Burger, 25 April 1958): “Die lede van die keurkommissie vir die toekenning van die Hertzogprys vir 1957 was AP Grové, CJM Nienaber en GJ Beukes. In sy verslag wys die kommissie op verdienstelike en selfs belangrike prosa wat die afgelope drie jaar in Afrikaans verskyn het. Die finale keuse het op Elise Muller geval, wat reeds jare gelede die aandag getrek het met haar eerste roman, Ek, ’n Samaritaanse vrou.
“Die aanbeveling is egter hoofsaaklik gegrond op die bundel Die vrou op die skuit en meer bepaald die volgende verhale uit die bundel: ‘Nag by die drif’, ‘Kinders in die skemer’, ‘Twee gesigte’, ‘Die dieper dors’ en ‘Blommetjies vir Bella’.
“Ons is dit eens dat ons hier verhale het van ’n besondere kwaliteit, verhale wat fyn gebou is, van diep insig getuig en die leser op subtiele wyse ’n begrip gee van die mees verborge kragte wat in die mens werksaam is. Hierdie verhale behoort tot die allerbeste wat die Afrikaanse prosa besit. Dis werk wat ’n mens met vrymoedigheid vir ’n buitelander kan voorlê, waarmee ons wil sê: hulle praat ’n universele taal.”
In sy huldigingswoord by die oorhandiging van die Hertzogprys aan Elise het DJ Opperman onder andere gesê: “In Afrikaans kry ons veral twee soorte prosa. Die eerste is mooiskrywery, ’n juweeltjiesprosa, ’n opgeblase, geforseerde prosa wat deur ’n hele aantal van ons sogenaamde groot skrywers beoefen word, deur ’n professor of twee bedryf word en in die inleidingskolomme van een van ons koerante nageaap word. Hierdie soort prosa is telkens deur die Akademie bekroon en dus aangemoedig terwyl dit een van die grootste bedreigings vir ons vertelkuns is.
“Die tweede soort prosa is die natuurlike, die nugtere en die heldere. Die Akademie het dit te laat by MER ontdek, dit by ’n Van Melle glad nie raakgesien nie en tot dusver nog nie in ’n Boerneef bekroningswaardig geag nie. Daarom is ek dubbel bly dat die Hertzogprys aan Elise Muller toegeken word: eerstens om die intrinsieke waarde van hierdie prosa en tweedens omdat die Akademie dit onmiddellik en nie eers op haar oudag ontdek het nie. Die toekenning is dus ’n bekroning vir wat sy reeds bereik het en ’n aanmoediging vir haar en ander om in hierdie rigting voort te gaan.”
Elise Muller se reaksie was: “Ek wou dit nie hê nie, ek was dan so lekker onbekend…” (Insig, Mei 1990)
Tydens ’n noenmaal wat in Oktober 1957 deur die direksie van NG Kerk-Uitgewers ter ere van Elise Muller gehou is, het sy in haar bedankingstoespraak gesê: “Daar steek genoegdoening in om afronding vir ’n tydperk van ’n mens se lewe te kan smaak, en met sekerheid te kan sien dat die patroon van jou lewe, soos dit was, tog goed en reg gewees het.” (Die Burger, 11 Oktober 1957)
In Die Burger van 2 April 1958 het WEG Louw geskryf dat hy selde in die voorafgaande jare ’n boek in Afrikaans met soveel plesier en soveel toenemende bewondering gelees het soos Die vrou op die skuit. “[D]it is die wonder van hierdie verhale dat elkeen van hulle, oënskynlik so bedoelloos, so onopsetlik geskryf, tog ’n hele klein wêreldjie is. Elise Muller bereik in die mooiste van die verhale ’n konsentrasie van gevoel wat ’n mens, sonder om met groot name te toor, werklik meer as eenkeer met dié van die goeie Franse kortverhaal kan vergelyk. (...)
“Wat dié boek verder sy waarde verleen, is die volstrek suiwer, soos ek dit hierbo genoem het, oënskynlik bedoelinglose kwaliteit van sy woord. Hier is feitlik elke woord verantwoord. Daar is geen goedkoop pronkery, geen effektebejag nie. By haar beste verhale dink ’n mens onwillekeurig aan die vertellings van MER, maar dié verhale is tog reeds ryper, selfs gawer, veral van vorm, en strakker van bou. Sy verwyl nie, soos MER so lief is om te doen, by die besonderheid óm die besonderheid nie. As dit aanwesig is, is daar, sover ek kon uitmaak, byna altyd ’n goeie rede daarvoor. Met hierdie boek het die Afrikaanse prosa weer ’n stap vorentoe geneem. Daarom kan daar geen twis hoegenaamd wees nie oor die toekenning van wat nog altyd ons hoogste eerbewys in literêre sake is, of behoort te wees.”
ABB het op 7 Oktober 1957 in Die Burger geskryf: “In elkeen van die twaalf verhale in Die vrou op die skuit word ’n diep menslike situasie aangewend om ’n wesenlike lewenswaarheid bloot te lê: twee ou mense, weerloos voor die vernietiging van hul oes, maar onbeweeglik in hul weiering om vergoeding te aanvaar vir die gasvryheid wat hulle ’n jong dame van die stad verleen; ’n eensame dogtertjie wat tot die besef gedwing word dat die dood veel méér is as ’n swart plooitjiesromp en ’n kransie van kosmos en surings; ’n vrou wat baie moet ontbeer, maar wat tog die rykdom van ’n koelteboom besit; ’n onbesonne kind wie se pret op die mallemeule eensklaps bederf word as sy besef dat alle mense nie so vriendelik is as wat hulle voorkom nie.
“Die grondtoon van die verhale van die bundel is ’n stille lewensaanvaarding: elke mens moet ’n aanpassing maak wat van hom ’n innerlike stryd verg; die mens, in watter gebondenheid ook al, kan nie anders as om die lewe met moed aan te pak nie.
“Hierdie onverskrokke aanvaarding van die lewe en die eise wat dit stel, is ook die tema van Elise Muller se roman Van eensame mense, wat in November 1956 verskyn het. In hierdie roman gee sy ’n sterk beeld van die Westelike Karoo met sy ruwe klimaat, sy groot, eensame stiltes en die onverbiddelike lewenslot wat ’n jong meisie dáár getref het. Dit is ’n landstreek wat die skryfster deur en deur ken. (…) Deur haar aan haar skryfkuns te wy, het Elise Muller nie net haar eie lewe verruim en verryk nie, maar het sy ook ’n heel besondere bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak.”
Die kortverhaal “Die vrou op die skuit” is in 2019 verwerk tot ’n hoorspel wat oor die Afrikaanse senders van RSG uitgesaai is.
In 1956 het sy ’n ander mylpaal bereik: sy kon begin werk. Haar herstel na die operasie het so goed gevorder dat sy met hulp van Audrey Blignault ’n pos as redaksielid by die NG Kerk-Uitgewery kon aanvaar. Sy het dit huiwerig en voel-voel gedoen, maar dit het gou uitgegroei tot ’n groot vervulling in haar, ’n werk waarin sy haar vanweë haar groot liefde vir die Christelike boek met hart en siel kon werp.
Haar roman Die wilde loot, wat in 1962 verskyn het, het reeds in 1954 as ’n vervolgverhaal in Sarie Marais verskyn. Hierdie roman draai om twee vrouefigure: Selina en Retta Steen, twee susters, lote van een en dieselfde stam, aldus WEG Louw. (Die Burger, 26 Oktober 1962) “Maar terwyl Selina, die tuisblyer, die versigtige en sorgsame, vroeg reeds die verantwoordelikheid vir die gesin oorneem en hulle almal deur haar vlyt en noulettende pligsbetragting langsamerhand uit die verknorsing van die verlede opgehef het, is Retta, die mooie, die avontuurlustige, die ‘wilde loot’. Deur ’n misstap toe sy nog ’n skoolmeisie was, moes sy die wyk na die stad neem. In sowat agt jaar het haar familie net af en toe van haar verneem, maar in dié tyd het sy vir haarself op die planke en deur middel van die radio naam gemaak. ‘Henrietta van Steen’ is ’n naam wat vér buite die strate van haar tuisdorpie, Lokenburg, bekend geraak het. Dáár is sy ook bekend, om nie te sê, berug nie. Wanneer Retta op ’n goeie dag volkome onverwags tuiskom – waarom en vir hoe lank is nie aanvanklik duidelik nie – is ’n mens dadelik bewus van spanning tussen haar en Selina. (...)
“Wat my sommer in die eerste paar hoofstukke al geboei het, is Elise Muller se vermoë om die ‘hele mens’ op te roep. ’n Mens leer ken en verstaan elkeen van hulle as ’n lewende en byna volledige mens.”
Louw voel egter dat die roman nie heeltemal uitkom waar dit moontlik kon uitgekom het nie. “Daar is te min reliëf, hoogtes en dieptes in die verhoudings tussen die verskillende karakters. So suiwer soos Elise Muller skryf, is dit verreweg verkieslik bo die retoriese onmag van talle ánder. Maar dit hou ook die gevaar in dat iemand van háár vermoë bly steek in iets kleiner as waartoe sy in staat is en waaraan ons Afrikaanse romankuns bowenal behoefte het. Of dié oordeel juis is, sal die toekoms moet uitwys.”
AP Grové het in die boekerubriek van Die Vaderland (23 November 1962) die verskyning van Die wilde loot as een van die allerbelangrikste gebeurtenisse beskryf wat in 1962 in die Afrikaanse letterkunde plaasgevind het. “Hierdie boek kan bestempel word as ’n studie van menslike verhoudinge wat met soveel insig en deursig, soveel sin vir waarheid deurgegee word dat ons moet teruggaan na Van Melle se Bart Nel om iets in ons romankuns te vind wat hiermee vergelyk kan word. Die boek is in ’n rustige, pretensielose trant geskryf wat alle eksperiment oorbodig maak. En tog is hier geen tekort aan waardigheid nie: die versigtige verkenning van moontlikhede, die geniale oorgange. Voeg hierby die konsentrasie van die boek, die versigtige tekening van mense en verhoudinge, die snelle lotsverandering, die rykdom van stemminge, en dis duidelik dat ons hier ’n belangrike bydrae het tot ons romanliteratuur. Die wilde loot is ’n ryp en ryk boek.”
In Sarie Marais van 16 Januarie1963 het F le Roux sy resensie oor Die wilde loot afgesluit: “Mej Muller se styl het die vernaamheid van iets wat eg is – jy herken dit selfs, nee juis, in die gewone, skynbaar onbelangrike sinne wat die grondweefsel van die stuk vertelkuns vorm. Het ’n skrywer dit reg, sorg die hoogtepunte gewoonlik vir hulself. Met haar Wilde loot, meen ek, het sy ’n boek geskryf wat deel van ons literatuur sal word. Literatuur of nie, dit is in elk geval een van die boeiendste romans wat ek die afgelope jaar gelees het.”
Ook Audrey Blignault (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1963) was beïndruk met Die wilde loot. Vir haar getuig die roman van deeglike vakmanskap: “’n [N]etjiese inskakeling van situasie, rimpellose oorgange, akkurate woordkeuse en knap hantering van die taal. Elise Muller skryf Afrikaans met ’n eerbied en ’n toewyding wat vandag seldsaam is. Die waarde van dié deeglike vakmanskap bly nog die grondslag van ’n goeie stuk werk, al is die tema ook wat en die tegniek hoe eksperimenteel. Die medium van die skrywer bly die taal en sy beheer oor die taal bly nog die toetssteen van sy vermoë.
“Ná haar vorige roman Van eensame mense wat in 1956 verskyn het, toon Die wilde loot ’n duidelike ontwikkeling in Elise Muller se vermoë. Hierdie jongste werk van haar het ’n diepte van siening en ’n sekerheid van aanslag wat nog nie in die vroeëre werk só aanwesig was nie. Die wilde loot is een van die boeke wat deel van ons literatuur sal word.”
Elize Botha het in ’n reeks radiopraatjies, Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare, wat in April en Mei 1965 in Vrouerubriek uitgesaai is, Die wilde loot onder die loep geneem en sy het as volg geskryf: “Ek dink dat ’n mens met reg kan sê dat Die wilde lootnie alleen die jongste werk van Elise Muller is nie, maar ook ’n hoogtepunt in haar werk tot dusver. Die eerste opwindende kwaliteit daarvan was vir my geleë in die gespannenheid waarmee die verhaal vertel word, wat ’n mens weer soos van ouds die boek laat deurlees sonder om hom neer te sit. Let wel: dis nie die tema alleen wat ek hiermee bedoel nie, dis nie die wáároor van die storie wat ’n mens so onafgebroke laat lees nie; dit is die wyse waarop dit vertel word. (…)
“Hierin is juis vir my Elise Muller se meesterskap geleë: hoe sterk morele waardes ook al in die grondpatroon van haar boek aanwesig is, dit word deur die gang van die vertelling self gedra; en die mense boei jou nie vanweë hul standpunte alleen nie, maar vanweë hul menslikheid en hul menslike lotgevalle.”
Elise se laaste werk, Die derde rit, word in 1978 by Tafelberg gepubliseer. Dit het egter al in 1949 as vervolgverhaal in Sarie Marais verskyn.
André P Brink (Rapport, 19 November 1978) meen dat Die derde rit in baie opsigte nie net by veral Die wilde loot aansluit nie, maar ook by die werk van skryfsters soos Tryna du Toit, wat veral om “populêre” leesstof bekend geraak het, maar wat in der waarheid ’n baie belangrike konteks van die Afrikaanse lektuur/literatuur te vervul het.
“Dis ’n genoeglike, goed-gemanipuleerde storie, waarin toeval op toeval eintlik aanvaarbaar is as verwagte, selfs vereiste, attribuut van die well-made roman: Magriet Lintvelt wat ná ’n hele paar jaar die nuwe Karooplaas van haar pleegouers besoek om met hul seun Faans te trou, net om te hoor dat Faans ’n paar dae tevore met die buurmeisie getroud is en daarom deur sy tirannieke ou vader, oom Giel, vir goed weggejaag is. Die bure is die gehate De Kokers wat – natuurlik – oom Giel se plaas wil inpalm en reeds ’n verband daarop hou; maar Maritz de Koker is tegelyk die sjarmante jong man met wie Magriet op die poskar kennis maak. Sy word tussenganger tussen die groepe in ’n klimaat waar die haat algaande vererger om ’n hele landskap te verbitter. En as Faans baie gerieflik sy been beseer en (weer natuurlik) deur Magriet gered word, is dit die begin van toenadering deur verskerpte antagonisme. ’n Verwoestende storm, soos dié van Somer, vernietig oom Giel se oes en slaan hom tot deemoed. En daarmee is die deur geopen tot ’n happily-ever-after.
“Só banaal sou dit maklik kon gebly het. Maar met haar delikate intuïsie en haar onpretensieuse ordening van die gegewe, laat Elise Muller dit verdiep tot iets op ’n blik van menslike vereensaming. (...) (W)as dié verteller nie so suiwer en versigtig ingestem op wisselende verhoudinge nie, kon dit drakerig geword het. Nou is dit deurgaans sjarmant en soms onthullend. (...) Binne die oeuvre van Elise Muller, van wie ons al die onderskatte roman Die wilde loot, waarvan ’n TV-verwerking nou pas deur die SAUK-TV gebeeldsaai is, en veral die presiese intuïsie en fynheid van die kortverhale van Die vrou op die skuit leer ken het, is Die derde rit ’n mooi en keurige toevoeging.”
Die res van die resensies wat in die dagblaaie verskyn het, was uiteenlopend van aard. JP Smuts skryf in Die Burger (26 Oktober 1978) dat dit dieselfde stem is wat in haar ander werke praat “wat hier opklink, dieselfde eerlike skryfwerk met sy respek vir die woord. (…) Die werk slaag oorwegend en Die derde rit kan aanbeveel word vir die baie lesers wat nie geïnteresseerd is in die meer verwikkelde romans van ons tyd nie. In dié opsig help dit om die groot leemte wat daar aan hierdie soort literatuur bestaan, op waardige wyse te vul.”
Vir Anita Lindenberg (Oggendblad, 1 Desember 1978) openbaar Muller dat sy ’n besliste talent het wat spreek uit verskeie “fyn momente”, maar daar is egter min wat ’n blywende indruk laat.
In Beeld (30 Oktober 1978) het FR Gilfillan geskryf dat Muller dit reggekry het om die verhaal sterk en eenvoudig te vertel. “Haar sobere verteltrant sluit dan ook aan by die mense oor wie sy dit het: onopgesmukte, reguit boeremense van ’n geslag of wat gelede. ’n Mens sou so ver wou gaan om haar styl te vergelyk met dié van Van Melle en MER.”
Maar Gilfillan het tog sekere voorbehoude soos dat die karakterisering nie sterk genoeg is nie. En hoewel sy skerp teken, is dit nie diep genoeg nie.
In Volksblad (10 November 1978) was Anna van Zyl se mening as volg: “Muller is so versigtig om enige vorm van emosionaliteit te vermy dat haar karakterisering daaronder ly. Innerlike belewenisse van hierdie mense word nie eers gesuggereer nie, en daarom bly haar karakters bloedloos en oortuig of ontroer hulle nie. (…) Die derde rit hoort in sy tyd, die veertigerjare, en dit is klaarblyklik dat die boek nie met enige literêre pretensies geskryf is nie, maar bloot as ontspanningsleesstof. In dié sin is die verhaal verkwikkend om te lees; hy is sonder al die literêre foefies wat vandag dikwels by jonger skrywers aangetref word.”
Hilda Grobler (Hoofstad, 8 Februarie 1979) voel dat die geloofwaardigheid van die novelle een van die sterkste eienskappe is. “Geen karakter is eensydig goed of sleg nie, geen karakter is ’n karikatuur nie, en geen karakter vul die prosawerk om die skrywer se persoonlike ideologie oor te dra nie. Die karakters in Die derde rit is normale, alledaagse mense en daarom lees ’n mens dié novelle met vreugde. Die psigologiese strekking, die didaktiese inslag en die romantiese voltrekking word so fyn ingevleg dat ’n mens nie direk daarvan bewus is terwyl hy lees nie en daarom tref dit soveel meer wanneer jy oor die novelle begin nadink. Miskien is dit juis wat die moderne prosa so dikwels mis: ’n Prosawerk wat nie met ’n ‘boodskap’ gelaai word nie se ‘boodskap’ spreek soveel sterker as dit wat ter wille van ’n ‘boodskap’ geskryf word.”
Die leser van Elise Muller se werk moet telkens getref word dat die hoofinhoud daarvan die gedagte van aanvaarding is, die skik na die onvermydelike. Soms gebeur dit dat dié aanvaarding in ’n paar oomblikke bereik word, soos in die geval van Dingetjie, die bruin kind in “Die peertak”, wat haar daarby moet neerlê dat sy nie meer met die peertak oor die eettafel kan waai nadat die boer ’n spuit met spuitgoed vir die vlieë vir die buurvrou gebring het nie. Soms kom die aanvaarding eers ná baie jare van verset, soos in die geval van die vrou in “Die dieper dors” wat haar ontwortel voel in die dorre Karoostreek, maar nie kla nie, omdat haar man gelukkig is en sy gelukkig by hom. Die aanvaarding in Elise se werk is nooit neerlaag nie, geen negatiewe moedelose handeling nie: dis ’n diepgaande kragtige kentering wat ’n skugter vrou met ’n ontsierde gesig uitdwing na ’n voller lewe onder vreemdes, wat ’n vrou se insig só verander dat sy uiteindelik haar verpligting teenoor haar suster erken.
Die dankbaarheid vir die lewe wat aan haar gegun is, is duidelik. “Die vrou op die skuit is al soveel keer voorgeskryf,” het sy in 1979 aan Petra Müller in Sarie (28 November) vertel. “Ek kan nie tred hou nie ... verlede week het ek weer ’n ruim outeurstjek ontvang. Ek kan maar net my hoof daarby buig. Onthou – ek kon maar eers begin werk toe ek 37 jaar oud was, en kyk hoe heerlik onafhanklik woon ek nou.”
“Die ontberings van haar siekte het Elise geleer om na die kern van sake deur te dring en geen leefkrag te mors nie. So, op een plek, in een kamer, met streng beperkings aan alle kante, het sy haar skatryk geleef. Langs haar bed het twee groot suurstofsilinders gestaan waaraan sy haar elke nag moes koppel om die energie vir die volgende dag te vind,” vertel Petra Müller in Sarie en Insig. “Sy het haar eie woonstel gehad bo die Kompanjiestuin in Kaapstad en ’n motor – so ’n klein geel Morrissie. Dit was te verstane dat hierdie onafhanklikheid vir haar kosbaar was. Teen alle verwagting in kon sy nou aan die gee-kant wees in plaas van aan die ontvangkant.”
Elise Muller het aan Petra Müller gesê: “Ek het ’n lekker lewe. As ek terugkyk, kan ek sien hoe die Voorsienigheid my aan die hand geneem het. Ek het genadiglik vroeg geleer om my siekte te aanvaar – jy kan niks verwerk wat jy nie eers aanvaar het nie. En ek dink al gemis wat ek nog voel, is dat ek nooit kinders gehad het nie.”
Oorspronklik wou sy laerskoolonderwyseres word, want sy is baie lief vir die kleiner kinders. “Ek was en is nog steeds nie ’n letterkundige of akademikus nie. My verkose hoofvakke was Geografie en Geskiedenis. Tot vandag toe sou ek nie vir jou ’n letterkundige ontleding van my werk kon doen nie.” (Insig, Mei 1990)
In 1979, na haar aftrede na 23 jaar diens by die NG Kerk-Uitgewery, het sy begin met navorsing oor die familiegeskiedenis van die Du Toits, haar ma se familie. Sy het begin om die geskiedenis van die Du Toit-nageslag in die Koue Bokkeveld naby Ceres na te spoor. En soos haar navorsing gevorder het, het sy raakpunte gevind, nie net met haar eie geslag nie, maar ook met ander bekendes, “’n hele landskap van die verlede wat vir haar in die dag van vandag begin te leef,” het Petra Müller geskryf.
Müller het voortgegaan: “Een van haar wesenskenmerke is juis hierdie diepgaande nuuskierigheid, veral na die dryfvere van mense – ‘nie die wat nie, maar die waarom,’ sê sy.” (Sarie, 28 November 1979)
Op 5 November 1985 is Elise in die ouderdom van 66 jaar in die Ametis-tehuis in die Strand oorlede. Haar gesondheid het die tyd voor haar afsterwe skerp agteruitgegaan.
Huldeblyke
- JP Smuts: “Elise Muller het veral in haar kortverhale met fyn insig uitgebeeld hoe die krisisse van die gewone lewe die mens diep kan raak. Sy het in die jare vyftig na vore getree as ’n skryfster wat binne die realistiese tradisie van die gevoeligste prosa in Afrikaans geskryf het.” (Die Burger, 6 November 1985)
- Hennie Aucamp: “Sou ek die kortverhaal as medium gekies het as ek nie vroeg in my lewe met meestervertellers en Elise Muller kennis gemaak het nie? Ek weet nie. Ek weet net dat Elise Muller se verhale ’n blywende hartstog vir die kortverhaal by my gestig het, en hiervoor sal ek haar altyd dankbaar bly, want deur die kortverhaal het ek tot myself gekom.” (Beeld, 18 Januarie 1986)
- Audrey Blignault: “Muller se bydrae tot die Afrikaanse prosa sal voortleef omdat sy ’n verhaal kon vertel en dit goed kon vertel. Haar boeke sal steeds gelees word omdat sy met eerlikheid en egtheid geskryf het, dikwels met vonkelende humor, meermale met fyn satire. Bowenal het sy die mens geken en vir sy veelvuldige behoeftes begrip gehad – dáárom sal sy ’n skryfster vir ons almal bly.” (Beeld, 15 November 1985)
- Beeld: “Elise Muller het ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer met haar verfynde kortkuns, en word beskou as die afsluiter van die tradisionele kortkuns – Jan Rabie se vernuwende Een-en-twintig is in dieselfde jaar as Die vrou op die skuit ” (Beeld, 7 November 1985)
- Petra Müller: “Wat kan ’n mens sê van iemand wat met groot suiwerheid en eenvoud geleef en gewerk het, nadat sy aan die begin en einde vir elke asemteug moes veg? Wat uit die skraal moontlikhede van ’n ingeperkte bestaan ’n groot kunswerk gemaak het wat die lewe van baie ander mense aanraak en verander? Eintlik maar niks, behalwe dankie. Die werk staan daar, as ’n getuie van die hart se onnaspeurbare drif.” (Insig, Mei 1990)
- Willem van Zyl, hoof van NG Kerk-Uitgewers, het hulde gebring aan ’n “begaafde en sierlike lewe wat onbaatsugtig toegewy was aan die verkondiging van die Evangelie deur middel van die geskrewe woord.”
Elise was Petra Müller se kleinniggie en sy het van kleins af Elise se naam geken en haar verhale gelees, “met verwondering daaroor dat die lewe so moeiteloos in letterkunde kan oorglip. Daardie wonderlike herkenning dat die mense van die boek maar is soos die mense wat jy plaaslangs of straat-af ken ... met lig en skadu bygevoeg, dis al.”
Na haar dood het die berigte oor Elise Muller se skryfwerk van ver gekom. Uit Rusland, waar Afrikaanssprekendes party van haar kortverhale vertaal het “in daardie taal waarin die lewe van innerlikheid en verstilde emosie miskien sy grootste neerslag gevind het. Dáár is sy die gewildste van vertaalde Afrikaanse skrywers” – aldus Petra Müller. (Insig, Mei 1990)
Reeds in 1986, na Elise Muller se dood, het Hennie Aucamp ’n versamelbundel van haar verhale en essays bepleit. In 1989 word Verhale en essays 1942–1981 deur Aucamp saamgestel en deur Tafelberg uitgegee. Hy het ’n speurtog na haar minder bekende en ongebundelde stukke begin en die bundel van ’n kundige inleiding voorsien. Hy het terwyl Elise nog geleef het, by haar aanvoorwerk gedoen vir hierdie publikasie, maar sy was huiwerig, bang dat dit ’n antiklimaks sou wees ná Die vrou op die skuit. Maar, skryf Petra Müller, dit was nie. “Die versameling van dertig kortverhale (1942 tot 1960) en die essays (1959 tot 1981) tesame met die ondersoekende inleiding, biografie en Hertzogprysmotivering deur DJ Opperman het reeds die noodsaaklike herwaardering van Elise Muller gebring, naamlik dat sy ’n ruimer, geestiger, meer genuanseerde skrywer is as wat selfs haar vorige bekendheid ’n mens sou laat vermoed. Sy staan hier voor jou in die boek geopenbaar so volledig as wat ’n skrywer geopenbaar kan word.” (Insig, Mei 1990)
Tydens ’n gesamentlike vergadering van die Werkgemeenskap Stellenbosch van die SA Akademie en die Afrikaanse Skrywerskring het Hennie Aucamp ’n voordrag gelewer wat hy “Die ander Elise Muller” genoem het (Die Burger, 14 September 1989): “Wat jou trefby die lees van Elise Muller se mini-outobiografie – haar essays – is haar vasberadenheid om gelukkig te wees, watter versperrings die lewe ook in haar pad mag lê. Sy het hierdie versperrings in geleenthede omskep; en daarom kon sy in ’n gesprek met my nugter van ‘die voorreg van belemmering’ praat. Van hierdie ‘voorreg’ het sy in haar invalide-jare in Calvinia die volste gebruik gemaak. Sy sê: ‘Die twee dinge wat vir my so noodsaaklik vir skeppende werk is, het ek gehad: baie stilte en baie tyd.’
“En van Elise Muller se verhale voel jy, tot vandag toe, dat hulle nooit teen tyd in geskryf is nie. Emosies en gedagtes haal vrylik asem in haar geskrifte; sy vertel rustig, en reken op ’n rustige leser.”
In Die Burger van 21 Desember 1989 het Audrey Blignault haar as volg uitgespreek oor hierdie bundel kortverhale wat deur Aucamp saamgestel is: “Verras deur vreugde – dis die naaste beskrywing van ’n mens se reaksie wanneer jy dié keurige, kleurryke boek in jou hande neem en op die rooi en goud omslag die titel lees. Jou opgewondenheid neem toe wanneer jy sien dat die verhale en essays gekies en ingelei is deur Hennie Aucamp, literator van formaat, maar by uitstek ook tussenganger tussen die publiek en die boek.
“Reeds wat die smaakvolle, suiwer klassieke voorkoms daarvan betref, is dié bundel sonder twyfel die mooiste boek wat vanjaar uitgegee is. Sielsbevredigend is dit ook om in dié afskeep-era van die eendag-mooi-slapband ’n behoorlike hardeband-boekrakboek te sien en te koop en sonder ’n oomblik se weifeling as feesgeskenk te koop.
“Net so verrassend soos die uitgebreide versameling van Elise Muller se werk, is Hennie Aucamp se inleidende essay, ‘Die ander Elise Muller’. (…)
“Elise Muller het nooit haar eie merkwaardige verhaal vertel nie, maar in hierdie versamelbundel is daar nege essays wat, saam gestel, tog ’n outobiografie in die kleine van ’n uitsonderlike vrou is. Vir die insluiting van dié persoonlike essays verdien die samesteller ’n besondere woord van dank. Die verrassendste aspek van hierdie boek is sonder twyfel die regstelling van Elise Muller se aansien as skrywer en die waardebepaling van haar onmisbare bydrae tot die Afrikaanse kortkuns.”
Lucas Malan was Vrye Weekblad (23 Februarie 1990) se resensent van Elise Muller: verhale en essays 1942-1981: “Elise Muller se literêre produksie strek vanaf 1941 tot 1981 en tog is sy ’n betreklik onopvallende figuur in die Afrikaanse letterkunde. Hoewel sy die Hertzogprys in 1957 vir Die vrou op die skuit ontvang het, ken die meeste lesers en studente haar vir enkele verhale, asook om Van eensame mense of Die wilde loot.
“Hierdie beperkte beeld van die skrywer en haar werk kan enersyds toegeskryf word aan ’n besonder skugtere openbare profiel (…) en andersyds aan ’n enigsins dalende peil in haar latere werk. (…) En tog het haar werk die styllose 1950’s oorleef en in dié mate ‘teenwoordigheid’ behou dat ’n prominente bloemleser en bewaarder soos prof Hennie Aucamp in die laat 1980’s ’n gewysigde beeld van haar bydrae wou saamstel. (…)
“Daar is aktuele en universele eienskappe in Muller se kortverhale en dít, tesame met die ingehoue, beskaafde wyse waarop sy met selfs die sterkste emosionele sake omgaan, maak die ‘herwinning’ van soveel minder bekende verhale, asook die bewaring van ou bekendes in ’n enkele band, baie sinvol.
“Vir die eietydse skrywer en leser geld daar uiteraard ander norme en behoeftes as dié van die 1950’s en 1960’s, maar die waarde van ’n gevoelige én bedaarde skrywer soos Elise Muller se werk kan nie verontagsaam word nie.”
Karin Malan is die resensent in Kerkbode van 18 Mei 1990 en sy wil Elise Muller se eie woorde van toepassing maak op Elise Muller: Verhale en essays. “Dit gee ’n mens weer die kans om ‘so te lees dat jy ’n uur later kan sê jy het van jou tyd die beste gebruik gemaak, dis nie tydverdryf nie, maar tydbelegging teen ’n hoë koers’. (…)
“Hennie Aucamp noem sy inleiding tot die bundel ‘Die ander Elise Muller’, omdat hy in hierdie bundel wil bewys dat haar werk oor ’n veel groter register beskik as wat Die vrou op die skuit gebied het. Hy sluit nuwe kinderverhale, ‘inisiasieverhale’, gelykenisverhale, sosiale en politieke satires en selfs ’n sielkundige riller in wat sy oortuiging bevestig dat ’n nuwe Elise Muller-kortverhaalbundel nodig was om haar bydrae tot die kortverhaal in die regte perspektief te stel.”
Oor haar skryfwerk het Elise haar as volg uitgelaat: “Dis ongelukkig nooit ’n geval van dit alles maar net neerskryf nie. Die skryfproses is by my in ’n groot mate ook ’n soeke, ’n naspeur na wát weet ek self ook nie by die begin nie. Maar dít weet ek tog wel: elke maal as ek by die uitbeelding van ’n situasie of ’n mens, met die skryf en die herskryf, by die versameling van al die nodige en die weghaal van al die oortollige feite, meteens, soos voor ’n openbaring, by die essensie van daardie mens of situasie kom, dat dít, op stuk van sake is waarom ek skryf: omdat ek al skrywende soek, en soms, al skrywende, vind.” (Huisgenoot, 8 Oktober 1965)
“Elise het van die begin af ’n helder, selfversekerde gees gehad. Die jare van ontbering het dit verder skoongemaak. Soos min ander skrywers vertoon haar klein oeuvre van beste werk ’n verbluffende suiwerheid, soos dié van water uit ’n afgesonderde fontein. Ons letterkunde het ná haar en langs haar baie ander draaie geloop (sy het haar hele fiksiewerk voor sewentig geskryf) maar dit het haar nie veel geraak nie, want sy rig haar nie na die geskrewe woord nie, maar na die kosbare lewe self, wat sy weet te waardeer omdat sy dit self moes win” – aldus Petra Müller. (Sarie, 28 November 1979)
Publikasies:
|
Publikasie |
Ek, ’n Samaritaanse vrou |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Unie-Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die pad verder |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Unie-Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Maar die jare antwoord |
|
Publikasiedatum |
1947 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Skat in die Roggeveld |
|
Publikasiedatum |
1950 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die vrou op die skuit en ander verhale |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Balkema |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Hertzogprys 1957 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Van eensame mense |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die wilde loot: roman |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die derde rit |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg Pretoria: Makro |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verhale en essays 1942–1981. Gekies en ingelei deur Hennie Aucamp |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624027945 (hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kort prosa |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Elise Muller
- Aucamp, Hennie: Die ander Elise Muller skryf ook oor die politiek en sosiale satires. Die Burger, 14 September 1989
- Aucamp, Hennie: Met ’n stil intensiteit. Beeld, 16 Januarie 1986
- Bekende skryfster oorlede. Beeld, 7 November 1985
- Blignault, Audrey: Aanvaarding, nie neerlaag nie. Beeld, 15 November 1985
- Blignault, Audrey: Elise Muller (“Die Hertzogprys 50 jaar – 17”). Huisgenoot, 8 Oktober 1965
- Botha, Elize: Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare. Johannesburg: SAUK, 1965
- Elisabeth (Elise) Muller
- Elise Muller
- Elise Muller. Huisgenoot, 29 April 1949
- Elise Muller (66) in Strand-tehuis oorlede. Die Burger, 6 November 1985
- Elise Muller vereer. Bron onbekend, 11 Oktober 1957
- Ferrus, Diana: Die regte boek op die regte tyd. Insig Boekeseksie, September 1999
- Grütter, Petra: Gelukkig op sestig. Sarie, 28 November 1979
- Volksblad, 6 November 1985
- Lewis, Minnie Miriam: ’n Herwaardering van die werk van Elise Muller
- Muller, Elise: ’n Ouma wat jonk gebly het. Sarie Marais, 16 Maart 1960
- Müller, Petra: Muller se getuienis van die hart se drif. Insig, Mei 1990
- Opperman, DJ: Huldigingswoord by toekenning van die Hertzogprys aan Elise Muller in 1957. Tikskrif (In NALN se knipselversameling, Ms 2292/81/1)
- Prize winning author dies. The Star, 7 November 1985
- Skryfster Elise Muller oorlede. Oosterlig, 6 November 1985
- Smit, Berta: ’n Laaste artikel van Berta – oor Elise Muller. Die Burger, 5 Maart 1997
- Toerien, Barend J: ’n Njet vir Petra Müller [brief]. Insig, Augustus 1990
- Van der Merwe, CN en Lewis, Minnie: Elise Muller: die verrassende in die skynbaar doodgewone
- Wyngaard, Heindrich: Die soektog na ’n maat uit Calvinia se “Klas van 1938” (“Van alle kante”). Die Burger, 23 Junie 1998
- Wyngaard, Heindrich: Herinneringe aan Pat … en ’n ‘lewende’ storiekarakter (“Van alle kante”). Die Burger, 9 Junie 1998
Elise Muller se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-07-22 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto:
Kommentaar
Nog 'n insiggewende en waardevolle albumbydrae deur Erika Terblanche. Dankie daarvoor! Elise Muller se verhale het my jeug verryk en ek keer steeds met waardering terug na haar werk.
Dankie, Andries. Terugvoering word altyd waardeer. En met die skryf van die albums kom ek altyd onder die indruk watter formidabele skrywers ons in Afrikaans oplewer!