
Foto: Trisa Hugo
Trisa Hugo skryf op Facebook:
Die see slaan soms wild en op so ’n aand klap die golwe my wakker en ek ruik die see tot in my kamer. Wat ’n voorreg. Vir my is die see helend, die gevoel van die sand onder my voete laat my geanker voel. Dit balanseer my en lig my spirit. Die koue soutwater wat oor my voete spoel maak my gemoed vars en skoon. Die sand wat taai aan my voete kleef, lank nadat ek my voete afgespoel het, laat my nadink. Veral oor wat blywend is in die mens se lewe, nadat die los gedagtes van jou afgeskud en afgespoel is.
Die reuk van vars uitgespoelde kelp het vir my die weeïge reuk van ’n vrou se verlange. Die see se bui is elke dag anders, die kleure allermins altyd in skakerings van blou, groen en grys. Ek het al ’n silwer see gesien, goue golwe en die pienk van ’n sonsondergang geweerkaats in die see. Soms is die see woes en wild, op winderige dae vol wit perdjies, of onverwags soos vandag, ‘n lieflike blou, groen en wit skouspel.
Elke dag anders, maar in geheel is dit perfek. Fyn gebalanseerd. Soos ons.
“She loves the serene brutality of the ocean, loves the electric power she felt with each breath of wet, briny air.”
― Holly Black, Tithe

