Elders gesien: "Troosgoed vir ’n bang gemoed"

  • 2

Foto: Unsplash.com

Leana Lategan skryf op Facebook:

Miskien moet ek ’n bietjie later laat weet “what’s on your mind”...

Dis te vroeg in die oggend ná ’n nag van nie meer as twee ure se (onderbroke) slaap nie. My ma, pas uit die hospitaal en met bykans 91 jaar se mankemente, is weer tuis. Bedags vorder ons. Snags is dit ’n perd van donker kleur. Angs pak haar beet. Sy kan nie slaap nie, en sy raak verwilderd en deurmekaar.

Laas nag onthou sy flardes van verse uit haar kindertyd en prewel dit: “My ma, ek hoor my brakkie huil”, en ’n rukkie later “Dis stil, geen blaartjie roer...” Ook Antjie Somers dwaal deur haar geheue. “Antjie Somers is ’n snaakse vrou, sy woon in n bos, alleen”.

Aangesien ek kwalik iets anders het om daardie tyd van die nag te doen, trek ek die Google-verseboek nader. ’n Paar minute later lees ek vir haar Jan FE Celliers se lang en pragtige verhalende gedig “Die brand” voor. En volg dit op met AD Keet, en ’n ewe mooie gedig waarvan ek die titel nou in daglig sal moet gaan soek. Antjie Somers kon ons nie opspoor nie.

Ook maar goed, want sy is ’n bangmaakding. Nagverse, dink ek sal ek dié ervaring noem. Troosgoed vir ’n bang gemoed.

  • 2

Kommentaar

  • Manie Wolvaardt

    So ’n inspirerende klein kameetjie, Leana! Wat ’n voorreg om soveel moeite te kan doen vir ’n geliefde – iemand wat jou weer vanaf babajare net so versorg het. Dit is wat ’n mens kan noem “liefdesmoeite”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top