Elders gesien: Terwyl ek nou boeke lees oor die Anglo-Boereoorlog

  • 8

...
Dis dan ook hier waar my ma altyd my ouma gemaan het om nie sulke stories vir die kinders te vertel nie. Maar ons wóú hoor, en dan het ons met bewende kniegies gesit en grootoog geluister.
...

Trisa Hugo skryf op Facebook:

Terwyl ek nou boeke lees oor die Anglo-Boereoorlog ...

Die internet is ongelooflik, ’n paar jaar gelede kon ek lees in watter tent my oupa se sustertjie, waarvan ons nie geweet het nie, dood is. In die Irene-konsentrasiekamp, in Tent nommer RT 1793. Ek kan nie oordra hoe hierdie kennis my ontstel het nie, hoe absoluut seer ek van binne was en hoe ek nie kon ophou huil nie. Dit was skielik vir my werklik, die realiteit van al die stories wat my ouma en oupa vertel het. Veral toe ek die foto sien van Lt Alexander Bruce, wat in beheer was van die Irene-konsentrasiekamp.

As dogtertjie in die 1960′s het my ouma en oupa by ons ingewoon. Die groot plaashuis was verdeel, ’n kombuis, sitkamer en slaapkamer vir ouma en oupa, en die res van die huis vir ons. Die koolstoof in ouma se kombuis was ook die plek waar ons ons stoele heen gesleep het op wintersaande, en oor en oor gevra het: “Vertel van toe ouma en oupa jonk was.” Dan het ons met stokkies in die vuur gespeel en geluister, oor en oor na dieselfde stories.

Oupa het graag vertel hoe hy as seun saam geveg het, en van sy hoed met die koeëlgaatjie in waar hy rakelings aan die dood ontkom het. Sy baadjie se moue het te kort geword gedurende die oorlog, en ek sien steeds die prentjie van die rankerige boerseun met die baadjie met driekwart moue in my kop.

Hy het ook grusame verhale vertel van sy verblyf in die tronk as rebel (na die 1914-Rebellie), en van die wurms in die sop. Dan ook hoe hulle later na die oorlog op die paaie gewerk het teen ’n “sieling” ’n dag om hulle plase weer te kon opbou. (1 Sjieling = 12 Pennies = 10 Sent)

Ouma se stories was meer hartseer. Sy het die oorlog as dogtertjie beleef, wat gehuil het oor haar poppie, wat die Engelsman gegryp en in die vuur geslinger het, en hoe hulle moes staan en kyk hoe hulle plaashuis, met alles daarin, in vlamme opgaan.

Wanneer ouma se oë sonder uitsondering vol trane geraak het, en haar stem gebewe het, is elke keer as sy vertel hoe die “Ingelsman” haar katjie gegryp het en aan sy agterpootjies geswaai het, en sy koppie teen die muur papgeslaan het. Dis dan ook hier waar my ma altyd my ouma gemaan het om nie sulke stories vir die kinders te vertel nie. Maar ons wóú hoor, en dan het ons met bewende kniegies gesit en grootoog geluister. Sy het ook gesê ek is haar naamgenoot en moet weet van die dinge. (Sy het darem ook baie vertel van die vryersklonge wat met hulle wit broeke kom opsit het, en van haar goue vlegsels waaraan die seuns seuns so graag wou vat.)

Trisa Hugo, ook bekend as Heila Levina Etresia Hugo, (voorheen Janse van Rensburg, gebore Pretorius). Kleindogter van Heiletje Levina Etrecia Pretorius, gebore Erasmus, en Johannes Lodewickus Pretorius. Ouma se wakis wat sy van haar ouma geërf het, staan steeds in my voorportaal. En ek kan steeds nie help om aan hierdie dinge te dink as ek dit olie om dit teen die seelug te beskerm nie.

In 2018 kon ek ’n simboliese Arikanerblommetjie op Maria Magdalena se grafmerker sit in die Irene Konsentrasiekampterrein, en dink aan die 5-jarige dogtertjie wat daar aan masels en ontbering dood is.

Jeanette Stals het al hierdie herinneringe teruggebring met haar lieflike boek, Die oseaan tussenin.

  • 8

Kommentaar

  • Trisa, hoe het jy die presiese tentnommer, ensovoorst gekry? My ouma se een niggie, Catharina Maria van Wyk, het ook daar gesterf. UK en Elizabeth van Heyningen se databasis kon die familieverbintenis bevestig, maar was nie so presies met ander besonderhede nie.

  • Mariaan Potgieter

    Ongelooflik intresant. Trisa.
    Ek het my mammie opgepas en versorg tot die laaste.
    Sy het 28 Junie 90 geword en 8 Julie verlede jaar is sy oorlede. Vertel hoe sy vir soldate sokkies gebry het.
    Elke dag van vroeg tot laat nog gesit en bry en hekel tot so 2-3 weke voor sy oorlede is.
    Sy het net so 'n wakis gehad wat nou by my sussie is.

  • Nuwe boek nou beskikbaar getiteld Onskuldige bloed: Britse oorlogsmisdade 1899-1902, word skokkende feite oor beweerde Britse oorlogsmisdade tydens die ABO, soos beweerde doelbewuste vergiftiging van kinders in konsentrasiekampe en uitgebreide verkragting van Boerevroue, moontlik vir die eerste keer onthul. Die boek kan bestel word by die skrywer self, by e-posadres ejgnorval@telkomsa.net.
    Ander nuut, sopas in druk: "Vryheidsvegters: Die ABO in die Trasnsvaal" en "In die Smeltkroes: ABO in die Vrystaat".

  • Marieta du Toit

    Ek is in besit van my Oupa Viljoen se dagboek wat in potlood geskryf is en sy briewe aan my Ouma Lizzie vanaf Morgeneiland Bermuda. Die dagboek het hy begin hou die dag toe hy gevang is. Ouma Lizzie het ook geskryf oor die Ingelse wat hulle kamp toe gevat het. Het paar items wat Oupa op die eiland gemaak en sy beenhefmes. Tant Maggie, my oupa-hulle se oudste kind, was 18 maande oud toe sy en ouma in die kamp beland het. Ek is na haar vernoem. Plaasopstal met alles daarin is ook deur die Engelse afgebrand.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top