Elders gesien: "Ten minste is daar niks meer oor om te vat nie"

  • 1

Fotobron: Pixabay

Lia Nadia van Zyl skryf op Facebook:

Gisternag om 3:00 het ons weereens deelgeraak van ons land se statistiek. Ons is beroof terwyl ek en ons seuns geslaap het en my man ’n noodsaaklike diens by sy werk uitgevoer het. Terwyl die res van die land slaap en by hul huise (moet) bly. Daar is reg langs my, my tweejarige en eenjarige (almal in verskillende vertrekke) gesteel.

Ek het wakker geraak van beweging en gedink dis my oudste (wat baie sleg slaap) wat weer die spens invaar vir paaseiers. Ek het opgestaan en was op pad na hom toe ek my vasloop in iemand wat nié in my huis woon nie. Die detail van hier af is onnodig.

Mens vertel die gebeurtenisse aan simpatieke ore en een van die eerste reaksies is altyd iets in die lyn van "ja, shame, maar TEN MINSTE is julle ongedeerd" of "TEN MINSTE het hulle nie méér gevat nie". Maar is ons ongedeerd? Het hul nie baie meer as ons aardse besittings gevat nie? Want ’n volgende reaksie is dikwels "wat is weg?" en ek wil só graag sê NET (onder andere) ’n TV, laptop, iPad, GoPro, my trouringe, klere en kos. Maar in realiteit is daar baie meer weg. My vertroue in enigeen behalwe my "sirkel" is weg. My vrymoedigheid om my kinders vrylik buite te laat speel is weg. My bereidwilligheid om ander met minder as ek te help is weg. My gevoel van veiligheid in my huis is weg. My afhanklikheid op slégs eksterne sekuriteit van ons huis is weg. Om maar net n paar te noem.

Mense is desperaat. Hierdie is moeilike tye. En ek verwyt myself dat ek ons inbreker jammer kry. Hy het kos gesteel. Warm klere. Toiletpapier. Maar daardie items is ook die items wat ek met die grootste vrymoedigheid vir hom sou gee as hy (tydens daglig-ure, en by ons hek) sou kom vra vir hulp. Dít en meer.

Ek kan verstaan dat ons in die oë van minder gegoede en behoeftige mense "welgesteld" kon voorkom. Ons het ’n groterige huis. Ons het (meervoud) TV's en ander elektronika (gehad). My man werk. My kinders het ’n magdom speelgoed. Daar wás vleis in die yskas. Daar wás drank op die rak. Die feit is dat ons so gemiddeld is as wat dit kom maar jou gemiddelde boosdoener besef dit nie. Ons beleef ook "einde-van-die-maand"-sindroom - soms al drie weke voor die eintlike einde van die maand. Ons het ook skuld. Ons sukkel ook om (veral nou) alles by te bring. Ja, op ’n ander vlak, maar is als nie maar relatief nie? Maak dit dit okei om te vat wat ons s’n is? Net ’n stukkie perspektief: ons het nie versekering op daardie items gehad nie! Is die elektronika vervangbaar? Natuurlik. Dalk nie nóú nie, veral nie tydens lockdown nie. Maar is die duisende foto’s en videos, die sentimentele waarde agter die juwele iets wat ons kan terugkry? Nooit.

TEN MINSTE het sy vrou nou mooi leer stewels en blink trouringe. TEN MINSTE het sy kinders nou bietjie wintersklere en n "nuwe" speelding of twee. TEN MINSTE behoort die opbrengs uit die verkope van óns items ’n paar gate vir hul te stop.

TEN MINSTE is daar niks meer oor om te vat nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top