
Foto: Unsplash.com
Clinton V du Plessis skryf op Facebook:
Hier staan ek
met die taal op my tong
soos ’n vingerafdruk,
ek kan nie anders nie.
Ek is jy en tog ook nie
Ek ken jou, maar ken jy my nou?
Kyk, hy is skadeloos, skryf hy,
wees hom tog genadig
as die vlamme die woorde uit
boeke in biblioteke opvreet.
Ons is nie almal so nie, bieg sy,
kyk, my hande is skoon
maar wit, my oë ’n bloedbelope land.
Maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse!
In hierdie blinde land,
pleit die man by die agterdeur,
die man met die letsels op sy tong
en die geknakte stem wat breek
soos ’n riet onder ’n stewel
ek is
ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou, skree sy van ’n moerse rots
namens die lyke van anene en reeva en anni en lekita en sinoxolo.
’n Hele geslag ken ten dele, maar haat volkome.
Tale, hulle sal ophou,
gedigte, hulle sal nie langer gelees word nie.
Die aarde is branding
en oral is klip, het jy juis gewaarsku.
Ook digters sal brand, soos fakkels in ’n donker land.