Elders gesien: Skattie, jy het die bal-en-klou agtergelaat

  • 1

Henk Serfontein skryf op Facebook:

Ek kan nie onthou wanneer laas iemand my skattie genoem het nie, maar dit het gister met my in Vishoek gebeur. Nou kyk op die beste van tye voel Vishoek vir my soos ’n godverlate plek. Veral op ’n grys reëndag. Ek hou wel van vis and chips, veral as die chips met die sterk reuk van asyn vergesel word wat jou sinusse laat oopgaan soos ’n brander tydens hoogwater. Daar is iets omtrent die kombinasie van die soutreuk van die see en chips met asyn, wat vir my eenvoudig sin maak. Dis ’n onpretensieuse sinergie wat die sintuie laat sing.

Wat my asem wel gister uitgeslaan het was die half moon bal-en-klou tafel by die pandjieswinkel in die hoofstraat. Die eienares, met haar Benson and Hedges stem, het terwyl ek die klouerige pote van die tafel bewonder het, vir my gevra “anything in particular you looking for, skattie?” Ek wou antwoord “my childhood” maar ek het geglimlag en na haar maroon gepermde hare en boheemse uitrusting gekyk en gedink, Agter elke man all over again. Sy was ’n wonderlike, skadelose karakter met ’n passie vir seevaartkundige memorabilia. Daar was ’n skeepsalmanak, ’n seeatlas en ’n skeepskompas. Geknoopte toue. Dalk het sy as jong vrou drome van ’n bootreis na die suide van Italië gehad. Venesië of Amalfi. Maar hier sit sy tussendeur haar smoke breaks, in Vishoek in ’n Pawn Shop omring deur ’n versameling kitch stillewes. Die gety van die see het vir haar gedraai.

Wat is dit omtrent imbuia bal-en-klou-meubels wat my so herinner aan die apartheidsitkamers van my jeug? Daardie formele vertrekke wat uitsluitlik bewaar was vir daardie maandelikse besoek van die ouderling of predikant. Jou senuweeagtige ma wat stofsuig en haar fruit cocktail tart met die klapper bak en bedien met geklopte room op die half moon table. Hy wat daar sit in swart en wit onder die tapisserie van Dürer se biddende hande. Die formele groet en die generiese gebed. Dieselfde een wat óp by die gelyke nommers en dan weer áf by die ongelyke nommers in die straat gebid was. So min troos, ek het die rye steke in die tapisserie agter sy kop begin tel.

Ek het nou die punt in my lewe bereik wat uit die kas uit klim so last season is, maar wat ek wel aan die wêreld wil erken is dat ek ’n maksimalis is. Minimalisme sal maar in ’n volgende lewe by my moet verbykom. Ek wil myself omring deur boeke en kuns en optelgoed. Ek wil ook eendag soos daardie weerbarstige bruid, my troufoto’s in Quagga Books gaan neem. Ons kan staan voor ’n modelskip en ’n skildery van ’n kweperstillewe teen ’n osbloedrooi muur. Daar kan Drum-tydskrifte wees en ek kan op een foto in my troupak op ’n shabby chic leerstoel sit en maak of ek Karel Schoeman se Na die geliefde land lees. ’n Taksidermizebra kan onheilspellend oor ons waak. Ons kan die troufoto’s raam in ovaalrame, soos in familieplaasportrette. Swart en wit wat ons liggies met deurskynende ink in pastelkleure inkleur.

Net voor Simonstad het ek by my oupa se graf verbygery. Hy kyk al vir jare oor die kus. Dalk hoor hy die mishoring en sien die militêre skepe in die hawe. Ek wonder of hy ook vandaar die rooi-en-wit vuurtoring in Kalkbaai kan sien waarteen die branders so klots. Hy het ’n verpletterende gedenkskrif agtergelaat.

By die huis blaai ek deur Elza Miles se boek oor die Polly Street kunssentrum wat ek by Quagga Books gekoop het. Ek kyk na die werk van Sydney Kumalo en Ezrom Legae. So verbind aan hierdie Afrika-kontinent. Die forse vormgewing. Die terugveg teen apartheid. Ek maak die boek toe en sit dit neer langs Petra Müller se digbundel Die aandag van jou oë en maak twitter op my foon oop. Die eerste sin het so gelees: “Let everything happen to you. Beauty and terror. Just keep going. No feeling is final”.

Ek het nog ’n sluk van my Chai-tee geneem en gedink skattie, jy het die bal-en-klou van jou kinderlewe al lankal agtergelaat.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top