Elders gesien: RIV Louise Cilliers (83)

  • 0

Foto van Louise Cilliers: Facebook; foto van kers: Canvan

  • Leana Lategan skryf elders op NALN se Facebookblad die volgende. Die inskrywing word met haar toestemming op LitNet geplaas.
"Meesterklassikus" (29 April 1943–9 Maart 2026).
 
Prof Louise Cilliers, eens Hoof van die Departement Grieks, Latyn en Klassieke Tale (UV), en in onlangse jare ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, is op Maandag 9 Maart in Bloemfontein oorlede. Prof Louise Cilliers laat haar man Johan agter, asook haar seun, dr Jaco Cilliers (wat haar geboorte- en sterfdatum bevestig het), haar dogter Marianne, en kleinkinders.
 
As akademikus het sy ’n invloedryke en hooggeagte loopbaan gehad, en die waarde van haar navorsing sal moeilik ingeskat kan word. Ook vir die Afrikaanse letterkunde het sy baanbrekerswerk gedoen.
 
Prof Cilliers is in Pretoria gebore, op 29 April 1943. Sy word in dié stad groot, gaan daar skool, en kry ook haar voorgraadse opleiding aan die Universiteit van Pretoria.
 
’n Sameloop van omstandighede laat haar as dosent in Latyn aan die Universiteit van Natal beland. Daarná werk sy as jong dosent by UNISA waar sy Latyn Spes-studente se werkstukke nasien. Uiteindelik aanvaar sy ’n pos by die Universiteit van Johannesburg. Hier ontmoet sy ook haar toekomstige eggenoot, Johan. Hulle vertrek na Nederland, waar beide verder studeer en aan die Universiteit van Leiden hulle doktorale eksamen in 1976 met lof slaag.
 
Uiteindelik word hulle Bloemfonteiners, en sy begin as lektor by die destydse UOVS werk. Haar spesialisveld is in daardie stadium Latyn (MA-graad), waarvoor sy, as voorvereiste, Grieks 1 moes hê. Hierdie antieke taal word uiteindelik haar groot liefde en passie, en sy ontvang ook haar doktorsgraad daarin.
 
Sy ontwikkel veral ’n belangstelling in die tekste van skrywers van Noord-Afrika wat terugdateer na die 4de en 5de eeu nC, en geskrifte wat die antieke Griekse geneeskunde as tema het. Vir laasgenoemde navorsing werk sy dikwels as mede-outeur saam met die bekende prof Francois Retief. Hulle publiseer sowat 70 geakkrediteerde artikels, en hulle werk word bekroon met die Stalsprys vir Interdissiplinêre spanwerk. (Hierdie artikels is op die internet te lees, en die uiteenlopende en fassinerende aard daarvan is interessant en insiggewend: "Loodvergiftiging en die val van Rome", "Alexander die Grote se leër en die oorlogstres-sindroom, 326 v C", "Rasionalisasie en die oorlewing van die Klassieke in die Nuwe SA", en dergelike meer.)
 
Ook Afrikaans het grootliks gebaat by die passie en kundigheid waarmee prof Cilliers gewerk het. Van Alexandrië na Ithaka. Vertalings van gedigte van die Griekse digter Konstantinos Kafavis ontvang in 2024 die Prys vir Vertaling van die UJ.
 
Heelwat vroeër is haar vertaalwerk egter ook reeds bekroon met die SA Akademie se prys vir vertaalde werk toe sy, saam met EL de Kock, hierdie prys ontvang het vir hulle vertaling van Aristoteles se Poëtica.
 
Sy publiseer ook Die ses woorde van die Sigeuner, ’n vertaling van ’n liriese epos van die moderne Griekse digter Kostis Palamas. Met hierdie publikasie kry die Afrikaanse leser vir die eerste keer ’n kykie van die gedigte van die Sigeuners, en wel in soepel, vloeiende Afrikaans.
 
Afgesien van haar akademiese prestasies, publikasies, voordragte by internasionale konferensies, en ook ’n gewilde, gewaardeerde en geliefde spreker in haar eie omgewing, was sy jare lank die redakteur van die tydskrif Acta Classica.
 
Diegene wat die voorreg gehad het om haar te hoor gesels oor haar werk, en haar mooi stem kon hoor wanneer die Griekse digters Afrikaans praat, was besonder bevoorreg. Haar woord- en kennisnalatenskap is blywend.
 
Ons dink met deernis aan prof Cilliers se gesin, familie en vriende.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top