Elders gesien: R1450 per maand vir een kamer in ’n hophuis

  • 1

Foto: Izak de Vries

...
Teen twee-uur blink die huis en sy wil nie eet nie, want sy gaan haar kos huis toe vat om met haar man en kind te deel.
...

Laurie Greyvenstein skryf op Facebook:

Wat is besig om in Kaapstad te gebeur? Ek het nie hierdie tendens nagevors nie, en moet asseblief nie my afleidings teen my hou nie.

Ons voltydse huiswerker is tans met verlof en ons het bykomende hulp nodig gehad. So word Portia, ’n vrou van Harare Zimbabwe aan ons voorgestel. Sy ken nie die omgewing nie en ek moet haar by die vulstasie gaan optel. Sy is betyds en ons ry huis toe. Sy het 18 maande gelede saam met haar man en jongste kind in die Kaap gearriveer. Daar is nie werk of kos in Harare nie en hulle werk hard om die twee ouer kinders, wat by hulle ouma agter gebly het, te versorg.

Portia is ’n raakvatter. Sy vra net waar al die skoonmaakgoed gebêre word en toe gaan sy op haar eie aan. Teen twee-uur blink die huis en sy wil nie eet nie, want sy gaan haar kos huis toe vat om met haar man en kind te deel. Sy begin stryk en teen drie-uur is sy klaar.

Ek kan dit nie glo nie en gaan kyk self. Alles is netjies.

Sy pak die kaggelhout, was die stoep, pak die braaikamer reg en was die motorhuis se vloer, alles wat ek nie van haar verwag het nie.

Ons ry terug motorhawe toe en sy vertel verder. Suid-Afrika is ’n mooi plek, maar nie veilig nie. Hulle huur een van die kamers van ’n hophuis in Kraaifontein teen R1450 per maand en deel die krag met drie ander Zimbabwiër-families wat die huis met hulle deel. Daar is “shacks” ook op die erf en die eienaar, ’n Xhosa van die Oos-Kaap, bly ook daar. Hy het nie nodig om te werk nie. Sy inkomste uit die verhuring van sy huis hou hom aan die lewe.

Kraaifontein is nie regtig veilig nie, vertel sy maar dis goedkoper as nader aan Kaapstad. Sy neem ’n taxi vanaf Kraaifontein na Bellville teen R16 en weer een van Bellville na die vulstasie teen nog R16. Haar vervoer kos haar R64 vir die dag. As sy werk kry, kyk haar man na die kind, en anders om. Die lewe is nie maklik nie. Hulle word gereeld beroof en die polisie is nie behulpsaam nie.

Dis tyd om te groet en sy vra of sy asseblief weer volgende week kan kom werk. Teen die tyd wat ek by die huis stilhou, het ek vir Portia werk vir nog vier dae in volgende week opgelyn.

Dis die soveelste storie wat ek hoor hoe Suid-Afrikaners vanaf ander provinsies in die Wes-Kaap arriveer, hophuise kry wat hulle aan buitelanders verhuur en dan werkloosheid en armoede pleit, terwyl hulle op ander staatmaak vir hulle inkomste.

Net my stuiwer in die armbeurs vandag.

NS: Portia het ge-sms om dankie te sê vir die dag se werk.

Mooi dag.

  • 1

Kommentaar

  • Magda Laurens

    Ai hoe hartseer! Die armes buit die armes uit. So bly sy kan nog vir haar werk gekry het. Ek het 'n Zimbabwiër wat al veertien jaar vir my werk. Sy is 'n juweel en doen ook werk wat ek nie voor gevra het nie. Ek hoef nie te vra dat sy vensters was nie, sy weet wanneer om dit te doen. Ja, ek weet dit gaan hier oor hophuise en die hande wat net uitgesteek word vir meer.
    Daar is nie antwoorde nie.
    Behalwe miskien ... gewete en geloof is al antwoord wat ek het. Gaan na die mier, luiaard, en word wys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top