Daniël Lötter skryf op Facebook:
Die tragiese vernietiging van die historiese herehuis by Blaauwklippen in ’n brand die afgelope Sondag, kan ’n mens nie onaangeraak laat nie. Wanneer ek deur sulke historiese plekke stap, bly die gedagte my altyd by: “Ek wens hierdie mure kon vertel van die gesprekke wat hier plaasgevind het, ek wens daardie venster kon praat oor die gesigte wat daar deur gekyk het of die vloere getuig van die voete wat hier gegaan het.” By Blaauwklippen is daardie stemme nou onherroeplik stil. En dit laat ’n mens met ’n ontsettende gevoel van verlies.
Soveel meer nog omdat dit iets is wat meer en meer gebeur.
Sewe jaar gelede het die historiese herehuis by Augusta ook afgebrand. In 2019 was dit die herehuis by Roggeland, in 2021 was dit Mostert se Meul in Kaapstad, toe die historiese gedeelte van die Parlementsgebou. En tussendeur, in hoevele dorpe dwarsdeur ons land, het historiese stadsgeboue en erfenisgebiede in vlamme opgegaan. Komani (Queenstown), Kuruman, Wepener, Lichtenburg (saam met die museum), Bloemfontein, Christiana, Heilbron, die historiese klipskool op Sutherland…
Ons moet eerlik wees en erken dat dit nie uniek aan Suid-Afrika is nie. Historiese geboue brand elders in die wêreld ook af. In 1992 was dit Windsor Kasteel, in 2019 die Notre Dame in Parys. Dit gebeur. Ou geboue is nie so brandbestand soos moderne geboue nie. Ou geboue se bedrading is broos en verslete. Ou geboue se houtwerk, balke en vloere is droog en vlambaar. Dit gebeur. Maar daar is twee belangrike verskille tussen wat hier gebeur en wat elders in die wêreld gebeur.
Ander lande pas voorkomende bewaring toe. Hulle beskerm erfenisgeboue deur gedurige restourasie en onderhoud. Daar word onderhoudswerk gedoen. By ons het ’n mens gewoond begin raak daaraan dat niks onderhou word nie. As kragstasies, spoorstelsels en openbare vervoer nie eens in stand gehou word nie, watter kans is daar tog vir historiese geboue?
Nou moet ’n mens ook byvoeg dat die onverantwoordelike en sinlose manipulasie van die geskiedenis om ’n populêre narratief te dien, self ook ’n rol speel. So 10 jaar of wat gelede is ek gewikkel in ’n witwarm bekgeveg met die Erfenisbewaringsowerhede in die Noord-Kaap oor broodnodige herstelwerk aan ’n absolute unieke struktuur in ’n Karoodorp – die enigste gebou van sy soort in die Suidelike Halfrond en besig om in duie te stort. Dit kan nog gered word, maar die tyd is min. Toe ek uiteindelik by ’n senior persoon uitkom en die noodsaak van bewaring verduidelik, is haar eerste vraag aan my: “Does it have Struggle significance?”
Ek dog ek skop ’n gat in die plafon bokant my! Die geskiedenis van die land begin en eindig nie met die “Struggle” nie. Die “Struggle” is DEEL daarvan, dis nie alfa en die omega van die geskiedenis nie!
Historiese geboue in private besit word nog tot ’n mate beskerm, maar dit waarvoor die staat verantwoordelik is, moet maar staatmaak op die Liewe Here se genade.
’n Ander aspek waar daar ’n groot verskil is tussen hier by ons en oorkant die water, is die feit dat wanneer ernstige skade daar plaasvind aan ’n historiese gebou, herstelwerk dadelik gedoen word. Windsor Kasteel is binne ’n paar jaar tot sy volle glorie herstel. Die Notre Dame is byna klaar. Dis bloot historiese geboue met ’n beperkte funksionaliteit van bewoning, toerisme en aanbidding, maar dit word herstel omdat dit ’n sigbare simbool van die verlede en die storie van die land en sy mense is.
By ons brand die Parlement af en letterlik JARE later is die herstelwerk nog nie klaar nie. Die wetgewende gesag van die land vergader nog steeds in ’n stadsaal! Behalwe dus dat 1) feitlik geen onderhoud gedoen word nie, en 2) voorkomende bewaring gewoon nie plaasvind nie, word daar 3) ook nie juis moeite gedoen met herstelwerk en herbouing nie.
Ek het vanoggend hier op gery Blaauwklippen toe en van ’n afstand af gekyk na die swartgebrande murasie. En met ’n diep seer in my hart nie alleen besef hoe arm ons reeds is nie, maar ook dat ons eersdaags totaal bankrot gaan wees. Tensy ons nou self hande uit die moue steek en ophou wag vir die owerhede om iets te doen. Dit is nie alleen die FAK, ATKV, Afriforum, of wie ook al, se werk om iets van waar ons vandaan kom vir ons nageslag te bewaar as rigtingwyser van waarheen om te gaan nie. Elke ou bossie op ’n ou graf wat ons uittrek, elke ou donasietjie vir ’n museum help alreeds. Elke stukkie betrokkenheid van watter aard ook, help.
Want wat baat dit ons om sosiale en politieke drome na te jaag en ideale in die wind te probeer vang, terwyl dit wat ons reeds hét, voor ons oë in vlamme staan?