Elders gesien: Naglandings

  • 0

...
Daai tyd, toe die muur val, het my pa en Oom Jörg gesnik in hulle biere. Soos seuntjies. Groot biere, groot trane, groot liefde.
...

Kabous Meiring skryf op Facebook:

Toe ek klein was het ons in die Kaap vakansie gehou. Julie en Desember. Maar dis veral Julie wat my bybly.

My ouers was van die Kaap en dit was steeds vir hulle ’n ander tuiste. 

In daai tyd het mense soos ons die middernagvlug gevat, dit was goedkoop.

Ek onthou die landing in Kaapstad met soveel vreugde. Die digte mis, die sagte lug, die reuk van die see. My pa sou dan ’n motor huur vir die hele vakansie, ek onthou spesifiek ’n Toyota Corolla-sedan, beige.

Ons land 2:00, wag vir bagasie en ry  Somerset-Wes toe op die N2. In daai mis, met klassieke musiek op die radio waar ’n omroeper seker besluit het hy sit Dvorak op en gaan rook. Met die aankomslag by die gewelhuis, in Hoofstraat, Somerset-Wes (dis deesdae ’n groot kroeg) het ons ’n sleutel onder die wit pot gekry en so saggies as moontlik op die oregon pine-vloer geloop tot by ons kamer.

My matrassie met die donskombers en paisley satynoortreksel reg vir my. Die bont kat needy agterna, tot die hele huishouding uiteindelik tog maar wakker word en my tannie met dik oë en oorgrote slaap T-hemp ons verwelkom met warm drukke.

Ek onthou die wonderlike badkamer, swart en liggeel geteel. Die sjampoe soos bier… Dit was mode om een of ander weird rede.

Dit word al 4:00 die oggend: jy probeer jou opwinding beteuel en slaap, maar die karre se ligte deur die loodglasvensters met die klank van rubber op nat teer was te romanties vir hierdie Bosveld-ore. Daarna, na twee ure of so se uiteindelike slaap, word jy wakker en daar drup iewers koffie, iemand smeer suiwer vet op brood en gee die katte kos, trek ’n das reg en sit lipstif aan vir werk. In my wêreld was die Transvalers langer met vakansie as die Kapenaars … (Dalk werk die Gautengers langer dae?)

Die vet en moerkoffie kom van my oom se vlugtog uit Oos-Berlyn. Sy liefde vir goeie gehalte eenvoud het ’n blywende indruk op my gemaak en hy was en is, selfs na sy dood, een van my gunstelingmense; hy het wit frokkies, wit hemde en kruisbande gedra.

Teen daai tyd van die oggend ruik die hele huis na koffie, Old Spice en snoek vir die katte. My oom het oor naweke vis gevang, met sy boot, Dora, vernoem na sy ma. Sy was in daardie tyd, die tagtigs, nog agter die muur in Oos-Berlyn.

Vandag, al woon ek hier en al land ek, werksonthalwe elke tweede week in die nag in Kaapstad, voel ek hoe daardie ou, ou jeuggevoel van opwinding weer klop.

Terloops, Ouma Dora het lank genoeg geleef om saam met ons, een Desembervakansie in Langebaan, op die boot uit te gaan. Haar boot.

Daai tyd, toe die muur val, het my pa en Oom Jörg gesnik in hulle biere. Soos seuntjies. Groot biere, groot trane, groot liefde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top