Elders gesien: "’n Klein handleiding vir die geliefde"

  • 4

Die digter, Clinton V du Plessis skryf op Facebook:

’n Klein handleiding vir die geliefde

Hiér
het jy die aas uitgegooi,
my gehoek met die oog
se soms skaam-
soms se stipkyk

en hiér
teen die skuinstes,
het ons onhandig staning gemaak,
brandhout gepak,
die eerste vure hoog laat brand,
smeulendrooi teen die nag se donkerte
en teen die kilte van koue

daar was seisoene vol somers
hoofstukke soos uit Hooglied
hoe besete het ons gelewe,
hoe verruklik die bestaan, só saam

hiér het ek ook sin gemaak
woorde uitgeplant
in die palms van jou ryp hande,
bundels gedigte gegroei
in die beddings van jou omgeetuin

tog het ons tóé reeds geweet,
maar gerieflikheidshalwe vergeet
óók hierdie lewe het ’n vervaldatum
onsigbaar uitgekerf in ons vingerafdrukke
subtiel geëts in die geheue van ons DNS
gegraveer op die hart, op die nier, in die brein

maar, hiér, hiér is my handleiding
vir jou, sonder wagwoorde wat onthou
van jou wil weer- of weghou,
hiér is ons roetekaart
met die kortpaaie, met die afdraaipaaie,
met die plaashekke sonder slotte,|
met my potloodaantekeninge
teen vergeet.

  • 4

Kommentaar

  • Clinton V du Plessis

    Alet, dankie - hierdie gedig is nog nie in 'n bundel nie, maar jy kan via Facebook kontak maak vir meer inligting oor die ander bundels.

  • Mooiste inrygwoorde wat, lyk vir my sommer so onder sy vengers uitgly😉, van ‘n meester.

  • Talitta de Wilde

    Clinton - ek het juis vanoggend op Messenger die vraag gestel ... is dit pure toeval?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top