Elders gesien: Minister se stilte oor taal sluit uit

  • 0

Conrad Steenkamp skryf op die Facebooklad van die Afrikaanse Taalraad:

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se bekendmaking van ’n regsopinie dat Afrikaans en die Khoi- en Santale inderdaad inheems is, is ’n oorwinning vir dié tale. Dit kan onder meer help om Afrikaans minder kwesbaar vir die dekolonialiseringsnarratief te maak, hoewel dit heeltemal te vroeg is om die vreugdevure aan te steek.

Die minister het nog nie laat blyk dat hy die regsopinie aanvaar nie en dit moet in ieder geval nog in die Taalraamwerk vir Hoër Onderwys verreken word. Die voorgestelde oplossing, dat die beleid eerder op die “voorheen benadeelde” tale as “inheemse tale” moet fokus, sou Afrikaans steeds uitsluit van ondersteuning en niks doen om sy aftakeling as akademiese taal te stuit nie. In dié opsig is Afrikaans op sy laaste bene en die Afrikaanse Taalraad wil steeds met die minister hieroor vergader.

Dit blyk ook die idee van Afrikaans as “uitheems” het reeds neerslag in ander domeine gevind. Die Afrikaanse Taalraad se aansoek om deel te neem aan UNESCO se Internasionale Dekade van Inheemse Tale is afgekeur en ons profiel uitgewis sonder dat enige rede daarvoor verskaf is. ’n Brief hieroor aan UNESCO se streekskantoor in Zimbabwe is tot op hede nie beantwoord nie. Dieselfde geld vir ’n versoek tot gesprek aan die Suid-Afrikaanse UNESCO-kantoor in Pretoria, ’n party wat sekerlik in UNESCO se besluit oor die uitsluiting van die Taalraad geken is.

Dié weiering van gesprek strek egter verder as UNESCO. Die president se kantoor het die hoflikheid gehad om onmiddellik op die Taalraad se petisie oor die kwessie van die inheemsheid van die taal te reageer, selfs al was dit om ons weer na “die minister” as die korrekte adressant te verwys. “Die minister” se kantoor volhard met dawerende stilte – nie net teenoor die Taalraad nie, maar ook teenoor ander beswaarde organisasies soos die DAK-netwerk. Ook die Taalraad se pogings om met die Council for Higher Education – dit is hulle wat die gewraakte definisie van inheemse tale aan die departement en die minister aanbeveel het – word met stilte begroet.

Wat word bereik deur stemme van voetsoolvlak af – bruin, wit en swart – te ignoreer? Watter soort regering hanteer kommunikasie met burgers en kiesers op dié manier? Die voortgesette afdwing van die Bantoe- of Sintoetale as die enigste inheemse tale van die land, maak steeds ’n grap van insluiting en “sosiale kohesie”. Wigte word tussen bevolkingsgroepe ingedryf eerder as dat wedersydse begrip en samehorigheid bevorder word. Daarby ís dit baie moontlik om meer inklusief en gereg met taal om te gaan.

Pleks daarvan dat nie-regeringsorganisasies aandag kan gee aan die oorbrugging van die groot klowe in ons samelewing, moet hulle skamele begrotings mors op pogings om met ’n regering te praat wat horend doof is. ’n Situasie soos dié lei noodwendig een of ander tyd tot groeiende wrewel en ’n opwelling van emosie. Een of ander tyd word besluit: praat help nie.

Die minister het die regsopinie reeds in Oktober verlede jaar ontvang. Tot op hede is geen verskoning gevra vir die growwe belediging wat die definiëring as uitheems – veral vir die Khoi- en Santale as die oertale van die land – maar ook vir Afrikaans – inhou nie. Dieselfde geld vir die voortgesette aftakeling van Afrikaans as akademiese taal, ’n taal wat duisende uit die kaak van ekstreme strukturele diskriminasie kan red.

Die regering se hardkoppige en hardvogtige benadering tot taal vervreem nodeloos ’n groot segment van die bevolking en sal mettertyd as voorbeeld van nóg ’n mislukte beleid geld. Sporadiese en halfhartige pogings tot verdeel en heers sal dit nie verhinder nie.

Conrad Steenkamp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top