Elders gesien: Michiel Botha het hom hart en siel aan ’n boekontwerp oorgegee

  • 1

Frederik de Jager skryf of Facebook:

Een van die lekkerste dele van boekmaak is die ontwerp van die omslag. Ek was lank genoeg in die besigheid om modes te sien kom en gaan. In my beginjare, by J.L. van Schaik en toe Tafelberg-Uitgewers, was boekontwerp in ’n trog. Daar was ’n eenselwigheid en ’n stoerheid aan, met uitskieters hier en daar.

By Queillerie het mense soos Piet Grobler interessante werk vir ons gedoen. Heelwat later, en na ’n goeie ruk uit die bedryf uit, beland ek by Umuzi, wat deel was van Random House. Dit was vir my die opwindendste nuwe era met voorbladontwerp, wat sedertdien groot spronge vorentoe gemaak het. Een van die groot sterre onder die vryskutontwerpers, was Michiel Botha.

Hy is gister oorlede.

Michiel het hom hart en siel aan ’n boekontwerp oorgegee. Elke nuwe boek met hom was ’n gebeurtenis. Hy het aangedring op ’n deeglike opdraggewing (briefing). As hy nie genoeg besonderhede gekry het nie, het hy gevra. Hy het die manuskrip gelees – iets wat verbasend genoeg nie deur die bank onder ontwerpers gebeur nie.

Dan het Michiel ’n afspraak met jou gemaak. Nie ’n paar voorstelle haastig ge-e-pos en oor die foon gepraat nie. Hy het ’n skoon tafel nodig gehad, want hy het ontwerpe, soms op groot velle, daarop uitgelê. Dis nie net dat hy verskillende variante voorgelê het nie, hy het geheel verskillende benaderings uitgehaal. Hy het oor die geskrewe werk nagedink en konseptuele eweknieë daarvan op papier voorgelê, en sy gedagtegang op intelligente wyse uitgedruk

Hy was eiesinnig, selfs hardkoppig. Dit het selde uitgewerk om hom in besonderhede voor te skryf. Hy sou nie luister nie en jy sou hom ongeduldig vind met jou aandrange. Soms was dit gepas hom die manuskrip sonder ’n woord te gee en dan te wag en sien waarmee hy vorendag kom. Hy sou die skrywer se werk ken, hy sou op die toonaard ingeskakel wees, en hy sou jou verras met ’n verbeelding van die boek waaraan jy nie kon gedink het nie.

En hy was doodernstig oor wat hy doen. Hy het die grootste agting gehad vir die waarde van die skrywer en sy of haar werk. Hy sou homself nie toelaat om ’n minderwaardige antwoord daarop te gee nie. Meesal het hy daarop aangedring om die teksontwerp ook te doen. Hy was ’n goeie tipograaf. Hy wou dat die hele visuele aanbod van die boek ’n geïntegreerde geheel maak.

Van die beste ontwerpe waarvoor ek in my jare opdrag gegee het, was Michiel Botha s’n. Hy het nie modes nagejaag, nie goedkoop uitlokking geduld nie. Sy ontwerpe was nie vir die massas nie – maar sulke boeke het jy ook nie vir Michiel gegee nie. Sy werk was soos die ouverture van ’n opera: ’n eerste smaak, volledig in die styl van wat volg, en so naby aan ’n sinopsis van die werk as wat jy binne die bestek van ’n A5-grootte vlak kon kry.

Die drie voorbeelde hierby is kennelik die werk van een man, hoe verskillend hulle ook al is. Hierdie drie was almal sonder voorskrif. Net die manuskrip, en wat hy daarmee gedoen het.

Deur die gestalte wat hierdie man aan boeke gegee het, het hy ’n bydrae tot die boekbedryf in Suid-Afrika gemaak wat nie bereken kan word nie.

Die “voorblad” van Michiel se webwerf is net ’n foto van ’n wit boek, sonder enige merk daarop. So sal voortaan elke boek lyk wat hy nie meer kan ontwerp nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top