Clinton V. du Plessis skryf op Facebook:
Nêrens
sal die bakens meer duidelik getrek wees nie,
niks wat jy gedink het joune is,
sal werklik nét meer aan jou behoort nie.
Die gewaande sprokies van veilige spasies
tussen die mure van huis
agter hek en slot
en alarm en waghond en elektriese heining,
alles
wat, heilig ommuurd, tot besit vir beperkte gebruik verklaar is
wat goedgelowig omvattend gedek is deur versekering
alles sal onteer word.
Snags sal die sluiper, soos ’n slaapwandelaar,
die grens oorsteek,
die terrein binnetree, penetreer,
die man met die wapen,
met mes, pistool of geweer
of enige skerp of swaar voorwerp waarop hy die hand kan lê
jou binnekamer se intieme ruimte
sal hy syne maak
met kaal wilde hande en priemende bloedbelope oë,
soek en skeur en omkeer.
Kyk, dié dood het ’n gesig,
’n skor stem wat soek na kluis
en noot en selfoon en sleutels.
Binne die valse veiligheid van vier mure
word jou woning ’n bloedige republiek,
’n hinterland van haat,
’n niemandsland met ’n naakte pleitende vrou:
asseblief, asseblief, please, no.
Kyk, dié dood is meedoënloos,
hy oes waar hy nooit gesaai het nie,
hy sprinkaanstroop, hy muisknaag,
hy plaag.
Ons intieme ruimtes krimp, angswekkend
kleiner en kleiner.