Elders gesien: Hoe moet mens aanhou hoop as jy in ’n spookdorp werk?

  • 1

Wilna Adriaanse skryf op Facebook:

Gedagtes van ’n pendelaar vervolg...

Ek het die afgelope 10 jaar dikwels in Kaapstad en OR Tambo se internasionale vertreksale gekom. Ek ken die winkels, ek weet hoe lyk dit wanneer dit besig is, en wanneer dit stil is.

Vandag het ek besef OR Tambo se internasionale vertreksaal het ’n spookdorp geword. Die paar winkels wat nog oop is, is verlate. Die assistente by die Häagen-Dazs stalletjie staar die verte in.

By die vliegtuig het ’n jongman, eintlik maar nog ’n seun, met die oorfone gestaan en vir die kaptein van ons vliegtuig gewys toe alles reg was en ons kon vertrek. Oopgesigkind. Toe hy sy hand lig in die rigting van die stuurkajuit het hy geglimlag. In die son, en toe weer sy masker opgesit.

Ek is en was nog altyd bevoorreg, want ek kon drome hê. En ek kon baie van my drome sien waar word.

Hoe lyk drome agter maskers? Hoe moet mens aanhou hoop as jy in ’n spookdorp werk?

Ek het nie lus of tyd om in argumente oor vax/nie-vax betrokke te raak nie, maar ek wil vra dat ons doen wat ons kan om dit vir jongmense moontlik te maak om te droom. Ons skuld hulle ’n beter wêreld.

Ek is baie versigtig vir medikasie. Enige iets sterker as ’n Dispirin kan my op ’n trip sit wat geswore rock-’n-rollers my sal beny. Ek was dus vrekbang vir die inenting. Gelukkig het ek en onse Oudste dit ’n familie-uitstappie gemaak. Ek het na die ander mense gekyk, sommige oud en geboë, ander met kieries, grootoog, en besef eintlik is die meeste van ons seker maar bang. Maar ek is ook baie bang vir toe winkels, jongmense sonder hoop en drome, vreesbevange en eensame bejaardes, ens, ens.

Ek het aanvanklik alles gelees wat ek kon oor Covid. Dit was te oorweldigend. Toe kies ek ’n paar mense wat gedurende elke golf in die loopgrawe was. Wat kniediep in die Covid-sale gewerk het en steeds werk. Mense met toegang tot inligting en kennis wat ek nie het nie. Hulle skilder donker prentjies en is moedeloos gesmeek.

Elke mens is geregtig op sy/haar keuses, maar ek wil vra dat jy asseblief jou keuse sal grond op die ervarings van hulle wat in die geveg staan. En nie op “hulle” wat vanuit die gemak van hul huise beter weet nie.

Soos ’n moeë verpleegsuster hierdie week vir my sê: “As daar in daardie jare sosiale media was, het ons sekerlik nou nog pokke gehad.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top