Elders gesien: Grens

  • 2

Prent: Pixabay

Frans Calitz skryf elders op Facebook:

Vir die wat ook grens toe was. Die sewentigs. Die gevaar kom – oor die Kunene en Oranje, tot in ons pragtige land. Upington en Port Nolloth gaan eerste val. Maar pasop vir die Boer en sy roer. Hy moer my broer!! Was dit egter die moeite werd?

Ek kry my oproepinstruksies. Ek sê eers twee dae later vir Ma. Skattie lawe die ganse nag. Drie weke later ry ons Kasteel toe. Pa, Ma, Skattie en Rambo!!! Skattie soen my oopmond en huil in Chinees, want Boetie gaan border toe!

Niemand ken ons finale bestemming nie. Diep Afrika in. Die ligpunt aan die suidpunt van die donker kontinent moet verdedig word. Ons kry outomatiese gewere, want PW sê daar is nie tyd vir laai nie. Die aand sit ons in een van die Kasteel se klipkamers. Van mens na marionet. Die poppemeester ’n pankop- tweestreep-hanswors. Voorbereiding en verheerliking vir my lydensweg in ’n ander land. Ek wil deur die venster kyk of Ma nog in die kar sit, maar is bang Korporaal skiet my. Sersant-majoor is volgende. Hy dra ’n boepens, kortbroek en skewe beret.’n Welige hangsnor vorm die basis vir ’n brandewynneus. Elke tweede word is ’n byvoeglike naamwoord gevolg deur ‘n vloekwoord voor ’n naamwoord.

“Mamma se fokken seuntjies!! en nog ’n spul obseniteite wat vir Adolf Hitler tot Humpty Dumpty op steroïede reduseer. Ek wil hol maar Korporaal staan in die deur met sy outomatiese geweer. Die kapelaan is volgende.“Vir die vlam van die Christelike beskawing, vir die Man met magiese hande wat die vissies meer maak en vir ons almal gesterwe het.”

Daar sit ons toe die aand in die middel van die beskawing en praat met fluisterstemme, want dis oorlog. Buite die klipmure is mense min gepla. Oorkant die pad dans die mense in night clubs, koop bangers en mash en drink dubbels. ’n Paar aangeklamde Japannese slaan vuis oor ’n lelike vrou in denims met ’n rooi pruik. Toe die pruik op die grond val, sien die Japannese dis ’n man, omhels mekaar en gaan soek iemand wat bra dra. Die ganse buitewêreld; salig onbewus van ons skerpskutters se trauma. Ons val eers laat in die nag aan die slaap.’n Skril sirene jaag ons vyfuur op. Na ontbyt van bacon (koud), eiers (blou), koffie (flou) en blou vitrioel (dit neem veertig jaar vir die goed om te werk) marsjeer ons stasie toe.

Ontneem van die trekpleisters van die lewe; ruk en rol, mini’s en die blou dam se branders, klik-klak ons deur die Boland. Iewers swaai ons weg, deur Grootfontein en verder noord. Die opleidingskamp is naby Grootfontein. Dis so warm die hond jaag die kat maar altwee loop. Ons hardloop in die rondte soos merry-go-round-perdjies en steek strooipoppe met bajonette tot die Generale Staf tevrede is ons steek vir doodsteek. Ons word ons ontplooi. Ons land op Mapacha en vandaar na die oewers van die Zambezi.

Ons gooi handgranate en plant landmyne. Saans drink ons rum en kots. Op die oorkantse oewer sit die vyand en kyk vir ons met verkykers of of ons vir hulle met verkykers kyk. Ons onderneem eindelose patrollies, kruis en dwars oor die veld. Saans lê ons onder die sterrehemel en soek ’n swartkop of blondine agter die Melkweg. Ek verlang ma se roast en Skattie se boesem. Veraf knalle ruk ons pal orent. Die dood is alom teenwoordig.  Die boodskap is simplisties-reg of weg, dis julle of hulle. En van beide was daar baie. Pieter was die eerste van “julle”. Weg!!  Weg in ’n plastieksak met ’n blink zip. Sy voet verkeerd neergesit; vir ons land en leiers, vername manne in gemakstoele met DStv (drankies, sooibrandpilletjies, tweede vrou en viagra). En Arrie; roerloos in die groen gras, die half geslote ooglede verberg die helderblou van gister.Sy strot deur skrapnel uitgeruk. Huis toe in ’n koeltrok met ’n naamkaartjie aan ’n wit toutjie om sy nek.  

Ons word weekliks betaal -kompensasie vir doodmaak; silwermunte en baie koper.

Posparade is die gewildste sosiale attraksie van die week. Jy skeur jou koevert oop, ruik die parfuum en lees die brief twintig keer.“I’ll wait for you, no matter how long it takes, I will wait for you.”

Maar sommige meisies hou nie woord nie. Bertus, Willem, Hennie en nog ’n klomp ander word “Dear Johnny” want Skattie dans nou saans in Drie Gewels terwyl Vreeslose Vegter keer om deur muskiete gesteek te word.

Ons dank aan Captain Morgan. Ons salueer jou vir die bravade deur die are, eer jou vir die verlange deur jou aanslag weggevat. Maar diep onder die Afrikagrond, die somber getuies van Bacchus se moed; skedels en skelette. En hoog in die takke, in die skadu van die lower hang die soeweniertjies; oortjies en twaksakkies. Vergeet kan ek nie vergeet. Liewe God, Marita, in my visier duik hy op, as dit maar ’n apie was, as dit maar ’n apie was?

 

  • 2

Kommentaar

  • Pragtig geskryf! Oorlog bly 'n klad op die naam van die mensdom. Net een regstelling: daar was nie DSTV nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top