Elders gesien: Grendeldag 8

  • 2

Jean Oosthuizen skryf op Facebook [03/04/2020]:  

#grendeldag 8. Ek het vandag vir die heel eerste keer my huis verlaat om te gaan inkopies doen sedert ons verlede Donderdagnag ingegrendel is. Ek het in ’n ander wêreld ingestap as die een wat ek verlede Donderdag verlaat het toe ek en Marius Du Toit mekaar in Checkers Hyper raakgeloop het. Daar was toe ’n gemoedelike atmosfeer en almal het gelag. Marius het vir my ’n Coke gekoop en al geselsend het ons lag-lag vorentoe gebeur tot by die kassiere.

Ek weet nie hoe om vandag te beskryf nie. Dit het eerie gevoel. Weird. Soort van somber. Surrealisties en asof ek myself in ’n apokaliptiese rolprent bevind. Die winkelsentrum het ’n totale gedaanteverwisseling ondergaan sedert my laaste besoek. Die eerste ding wat jou opval is die afwesigheid van die vriendelike karwagte. Ja die karwagte daar is besonder vriendelik en verrig ’n noodsaaklike funksie. Al die ander winkels is spookagtig stil en bottoe. ’n Ry opslaantralies verdeel die kopers tussen die wat kom en die wat gaan.

Eers parkeer jy, klim uit die motor en sien ’n ellange tou mense wat tot buitekant die winkelsentrum se ingang soos ’n lang slang uit sy nes kronkel. Jou moed sak in jou skoene wanneer jy agter in die tou inval en jy maak jou reg vir ure se wag. Maar gou kom jy agter dis oraait. Daar is nie regtig so baie mense voor jou in die tou nie. Dis net social distancing wat almal mooi gehoorsaam so lang tou laat vorm. Seker ’n goeie driehonderd meter of langer voor die winkel se ingang is daar met swart kleefband stroke op die vloer 1,5 meter uitmekaar geplak om social distance te bewerkstellig. En almal gehoorsaam sonder om te mor.

So word ons in groepe van seker so 50 op ’n slag toegelaat om die yslike winkel binne te gaan wat gewoonlik ’n miernes is. Die trollies word eers een vir een ontsmet voordat jy een mag neem. By die ingang staan ’n man wat klante se hande ontsmet maar dit ken ek darem al. Wat nuut is, is die personeel se maskers. Hulle dra almal sulke plastiekskerms voor hulle gesigte pleks van die gewone maskers wat ons ken. Dit maak nogal vir my as leek sin in daardie omstandighede nadat ek meer gelees het hoe die virus versprei en dat party maskers geen nut het nie.

Binne in die winkel heers daar soort van ’n gedempte stilte. Die stilte word elke dan en wan onderbreek met ’n aankondiging oor die luidsprekers wat die klante daaraan herinner om social distance te handhaaf. Ek is verras deur die professionele wyse waarop die personeel die situasie hanteer en ook die opmerklike gehoorsaamheid van die publiek wat vandag daar was.

Ek weet nie mooi hoe om die interaksie tussen die mense te beskryf nie. ’n Soort van ’n stille wedersydse begrip vir mekaar miskien? Soos soldate op die slagveld wat weet die vyand lê op die loer en ons is almal saam in hierdie oorlog. As ons die veldslag wil wen moet ons mekaar se buddies wees.

Terug by my motor met die pakkies in die kattebak merk ek ’n stel gebruike plastiese handskoene langs my motor se deur lê. Een of ander poephol wat voor my daar parkeer het moes dit uitgetrek het toe hy klaar inkopies gedoen het en het dit net daar weggegooi. Daai soort sal mens ook altyd kry al is dit die uitsondering. Drol!

Ek wou graag seelangs huis toe ry maar ek besluit daarteen. Hou maar liewer vandag op die smalle weg Jean en neem die kortste pad huis toe. Daar is een gemeenskaplike vyand in dié oorlog besef ek in my motor maar daar is verskillende slagvelde. Vandag s’n was georden, kalm, skoon, rustig selfs en mens sou amper kon sê luuks.

Maar wat van die mense in die townships, die diep platteland, gesinne saamgebondel in plakkershutte sonder lopende water of sanitasie. Hoeveel yskaste of vrieskaste om die inkopies te bêre? My 21 dae van ongerief is vir baie ander 21 dae van hel en dit is maar week een wat verby is. Dan sit ons saans voor die TV en nuus kyk met ons motors veilig geparkeer in die motorhuis voordat ons op sosiale media uitvaar oor “hulle” wat nie wil luister en in “hulle” huise wil bly nie of nie ver genoeg van mekaar staan in die winkels se toue nie. “Hulle” wat elke dag of twee móét gaan inkopies doen teenoor “ons” wat genoeg geld en pakplek het vir ’n week of meer se goed.

Tuis gekom was ek my hande, pak die kruideniers uit, ontsmet die items een vir een voor ek dit wegpak, ontsmet my motor se binnekant, my selfoon, my bril, my bankkaart en alles wat ek kan. Ek hoop ons land en die hele wêreld; elke man, vrou en kind stap ook skoon en ontsmet anderkant uit na hierdie ding sodat ons mekaar weer eendag ’n stywe drukkie kan gee en sê ons het dit gemaak. Ons is OK en saam was ons sterker. Dat ons nie meer hoef te ons en hulle nie want saam is ons nie net sterker nie. Saam is ons en hulle een.

Om een of ander rede herinner vandag my weer aan ons onkunde van ander mense se situasies en laat dink my aan Uys Krige se gedig, Ken jy die see:

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blink geskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ’n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ’n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kombuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas
en daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur

Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ’n veer gevee
deur ’n grys golf hoog soos ’n tronk se muur
wat help dit om te spartel en te skree “Nee Nee”!
Sluk jy eers daardie waters sout en suur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ’n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos ’n hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Mathee,
Wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds terug vir tee
Hul slaap al drie agter die kerkhof muur

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top