Johan Kotze skryf of Facebook:
Gedagtes met die toekyk van die eindproses. Terwyl almal stadig, saggies, eerbiedig verby skuif. My ma op haar sterfbed.
Hoe neem jy afskeid van die lewe?
Van die “huis” waarin jy vir 93 jaar gebly het?
Miskien begin jy maar by die wit agterdeur. Die een met die trappies en die ou koperknop. Stoot hom stadig oop en kyk met die gang af. Die gang wat jou lei na al die ander kamers.
Kyk, die eerste een hier, op jou linkerkant, is die kombuis. A! Die kombuis. Linoleum op die vloer en die stoof daar in die hoek. Daar was altyd ’n kastrol of ’n ketel op die stoof. Vroeër, op Maandae, was daar altyd twee strykysters ook op, want dan is dit strykdag en Mina het al vroeg opgedaag. Later het sy na die buitekamer beweeg en daar die ysters warm gemaak op die Primus.
Kan jy die skaapboud ruik in die oond? Die maanpoeding – my eie geheime resep! En daardie tiekiepoedings, ai die kinders was so lief daarvoor. Hoeveel skaapafvalle het ek al gemaak? Ontelbaar. En die kinders wat in die sinkbad gebad het voor daardie einste stoof.
Mammie, waaroor glimlag jy?
Kyk, hier regoor die kombuis was die spens. Vol rakke met ingelegde perskes en kwepers. Beskuit en soetkoekies. In die hoek die ou paraffienyskas. Sien jy die drade daar bo teen die plafon? Biltong. Kyk daar hang al die draadhakies ook nog. Vol winddroogherinneringe.
Mammie, hoekom lyk jy so treurig?
Hierdie kamer is die hartklop van die huis. Die eetkamer. Bal-en-klou-eetkamerstel wat ek van my pa geërf het. Swarthout, handgemaak. Daai swart sirkel in die middel is waar ’n warm pot dit gebrand het. Lekker, warm geselse vol lag en grappe rondom hierdie tafel. Die stryd om ’n Bybelversie te onthou ná Boekevat. Dis die einste tafel waarop ons eerste grammofoon gestaan het en ons na “Tahiti verre land” geluister het. Rummy, Snakes and Ladders, Monopoly…
Mammie, was dit ’n sug?
Dominee kom vandag kuier. Maak die sitkamer skoon en sit net enige drank weg en kinders, julle moet gehoor en nie gesien word nie, en haal uit die teestel met die wilgerboom. Doilie oor die melk, asseblief.
Die heilige slaapkamer met die wit pot onder die bed. Bruin hangkas met hangplek links en rakke aan die regterkant. Dit het altyd na mottegif geruik en dit was die meeste van die tyd donker want die gordyne was toegetrek.
Het die hande nou effens beweeg Mammie? Wat wou jy vashou?
Die gang. Vol foto’s. En die gedempte reuk van koel stof. Kyk hierdie een – die mans lyk so ernstig en regop met hulle grys pakke klere en die vrouens wat voor hulle op stoele sit. Geraamde borslappies en laventelbotteltjies uit die konsentrasiekampe. Hierdie geel brief kom uit St. Helena.
Lig die mat by die voordeur op. Vinnig, want moenie te lank na die muntstukke kyk wat in die sement vasgemessel is nie. Daar is ’n baie tragiese verhaal gekoppel daaraan. Moet liewer nie vra nie. Miskien vertel ek later.
Wat Mammie? Wou jy iets sê?
Uiteindelik die voordeur. Einde van die gang, einde van die huis.
Kom ons gaan sit op die stoep. Wieg-wieg. Dit was ’n goeie huis, die meeste van die tyd.
Kyk rustig uit oor die stof, die veld, die wind. En ruik die aarde se asem.
Saggies waai die voordeur toe.
Kommentaar
Sjoe. Nostalgies. Vat my nou ver terug na my oumas en my ma en ons huisie wat vir amper 50 jaar my ouerhuis was. Dankie.
Dit is pragtig geskryf en beskryf.