Marita van der Vyver skryf op Facebook:
Forty years of solitude. Siestog, dit was die lot van die blomblare wat ek vier dekades gelede tussen die blaaie van One hundred years of solitude gelos het. Ek dog eers dis vere dié, engelvere dalk, gedagtig aan die magiese realisme waarvan die storie deurdrenk is, maar toe nou nie. Op ander plekke in dieselfde boek het ek roosblare en boomblare gepars wat steeds herkenbaar is as roosblare en boomblare. Dis nie iets wat ek gewoonlik doen wanneer ek lees nie, maar dit was nie ’n gewoonlike soort boek nie.
Ná ek dit in die vroeë 80s gelees het, het dit amper ’n halwe eeu lank in eensame ongestoordheid op my boekrakke gelewe, amper soos die arme José Arcadio wat aan die kastaiingboom op sy werf vasgebind is. Maar selfs toe ek vier jaar gelede my boekery drasties kleiner moes maak, omdat ons ons huis verkoop en swerwers geword het, het ek dié een behou. Want ek het geweet eendag is eendag, dan gaan ek dit weer wil lees.
En toe binge-watch ons in die Feesdae die Netflix-reeks en ek weet nóú gaan ek dit weer lees. Ek het lekker gekyk na die reeks – wat het julle daarvan gedink? – maar die beste deel daarvan is dat dit my teruggelei het na die boek. O hierdie boek! Ek hoop die reeks sal ander kykers ook besiel om die boek te lees of te herlees en, wie weet, ’n halwe eeu later dalk iets wat soos engelvere lyk tussen die vergeelde blaaie te ontdek.
Kommentaar
Beslis 'n boek vir die "Forever"-boekrak, een wat jy in jou jeug moet lees en, ten minste, in jou grysheid weer.