
Nadia Snyman skryf op Facebook:
Kan ons asseblief ophou memes en boodskappe rondstuur wat enige en elke tragedie in die nuus met plaasmoorde vergelyk?
As ek nog een persoon sien wat iets sê soos "Een swart man word in Amerika vermoor en almal is ontsteld. Duisende boere word in Suid-Afrika vermoor en niemand knip ’n oog nie" of "all lives matter", gaan ek skree.
Om op te staan vir die regte van ander, beteken nie dat enige ander ongeregtigheid nou heeltemal vergete is nie. Dit is moontlik om ontsteld/passievol/kwaad/hartseer oor meer as een onreg te wees.
Ek is absoluut ’n vegter vir vroueregte. Beteken dit dat ek nou, wanneer ek die Black Lives Matter-beweging ondersteun, skielik die onderdrukking van vroue goedkeur? Natuurlik nie. Dit beteken net ek is net so ontsteld oor ’n onskuldige swart man wat sinneloos vermoor word as wat ek is oor ’n onskuldige wit vrou wat verkrag en vermoor word.
Waar het jy al gesien ’n persoon skryf "Maar wat van die wit boere wat in Suid-Afrika vermoor word?" onderaan ’n artikel oor dieremishandeling of renosterstropery? Dit gebeur nie, want ons sit nie met opgekropte kwaad en vrees vir, en vooropgestelde idees oor, ’n hond of ’n renoster nie.
Ek is trots Afrikaans. Dis my moedertaal, my kultuur en my mense. Ek het saam swart gedra as protes teen plaasmoorde. Ek het my klas ingelig oor statistieke, hulle vertel van die geskiedenis, vir hulle foto's gewys en saam met hulle gebid vir die veiligheid van boere. Maar ons kan nie meer ander pad kyk en ons verbeel die vloed gaan nie oorspoel na ons oewers nie.
Baie Suid-Afrikaners sê ook: "Hoekom steur jy jou aan Trump? Ons land en sy president het sy eie probleme." En natuurlik is dit ook waar. Maar ongelukkig lewe ons nie meer in isolasie nie. Ons is ’n globale samelewing. Oorlog in een land beïnvloed die petrolprys in ’n ander. ’n Virus afkomstig van een dier versprei na inwoners van eilande wat nog nooit eens van daardie dier gehoor het nie. En ongelukkig is daar ook Suid-Afrikaners wat Donald Trump verafgod en ondersteun – mense wat nog steeds die ou Suid-Afrikaanse vlag styf teen hulle bors vasklou en die k-woord gebruik en dink dat Trump se "build the wall" en "go back to where you came from" geprys moet word.
Ons moet beter doen. Ja, ons het ook seer. Ons sukkel ook. Maar ons medemens het ons nodig. Dit hoef nie groot gebare te wees nie – ons kan net begin deur te let op hoe ons van ander en met ander praat. Wat ons ons kinders leer.
Ons word (bewustelik en onbewustelik) geleer dat ’n wit jong man wat by ’n pad afstap en oor hekke loer seker net sy vriend se huis soek, terwyl ’n jong swart man wat dieselfde doen "seker iets soek om te steel" (direkte aanhaling van ’n werklike opmerking).
Om aan onsself te erken dat ons wel met hierdie vooropgestelde idees sit, is moeilik en ongemaklik. Die gesprekke om die eetkamertafel met ons familie oor rassisme is moeilik en ongemaklik. Maar is dit nie ’n druppel in die emmer in vergelyking met die stryd en ongemak wat sommige mense moet beleef net agv die kleur van hulle vel nie?
Deernis vir boere en deernis vir onderdrukte mense kan terselfdertyd bestaan – die een beteken nie die ontkenning van die ander nie.

