Elders gesien: "Dis ons ammal se land"

  • 2

Wim Vorster skryf op Facebook:

Colour is in the eye of the beholder... However, I have to recount the incident in Afrikaans.

*

Kom ek uit Spar met my slepie vol kruideniersware en waar die parkeergebied teen die straat eindig, staan ’n bakkie met sleepwa wat toegang tot die pad versper. Die bestuurder vra groot om verskoning, gooi sy rommel in die vullisblik, draf terug, stoot die bakkie agteruit en wys vriendelik dat ek kan verbyloop.

Maar ek stap na hom. Sy ruit is afgedraai.

“Vir iemand wat so ordentlik en bedagsaam is om stil te hou en rommel in ’n blik te gooi, sal ek heeldag staan en wag.”

Hy glimlag breed, klim uit en sê: “Dis ons ammal se land. Ons moet dit skoon en netjies hou.”

“Baie dankie,” antwoord ek. “Vanwaar is jy?”

“Robertson. Oom, kom net hier.” En hy stap na die bak, maak oop en haal nartjies en koejawels uit. “Hou asseblief oom se sak oop.”

“Nee, nee!” kap ek teë. “Ek het nie kontant om te betaal nie.”

“Ek wil nie geld hê nie. Oom sien my hart, oom kyk nie na my velkleur nie.”

Ek bedank hom. En weer ’n keer.

“Ons sal mekaar seker nooit weer sien nie,” merk hy op, “maar ons sal mekaar onthou.”

Hy klim in die bakkie, maak die deur toe, wuif en vertrek.

Ses yslike nartjies, ses koejawels. Die nartjies is helderoranje, die koejawels geelgroen. Die bloed in my en in my weldoener se are is ewe rooi.

  • Wim 2024/08/15
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top