Elders gesien: Daar is nou baie gesprekke oor hoe ons almal verarm

  • 8

...
Uiteet was beperk tot tweemaal per jaar, met die vrou se verjaarsdag en ’n huweliksherdenking.
...

Trisa Hugo skryf op Facebook:

Daar is nou baie gesprekke oor hoe ons almal verarm. Hoe duur alles word. Waarteen meet ons dit?

As ek om my kyk, het dinge vir my persoonlik baie verander. Oor die jare het ons gewerk, studeer, beplan en heeltemal goed geleef, en alles gehad wat ons nodig het. Nooit oorvloed nie, nooit tekort nie. Genoeg. As mens ouer word, verminder jou behoeftes ook, jy spandeer minder. Alles word duurder, MTN, DSTV, M-Web, Afrihost en die munisipale belasting verhoog almal gelyktydig op 1 April. Ons is lekker April’s Fools, maar ons het steeds genoeg.

Ons, as jongmense in die vroeë sewentigs, het in klein woonstelletjies gebly, bus gery of met een kar klaargekom. Uiteet was beperk tot tweemaal per jaar, met die vrou se verjaarsdag en ’n huweliksherdenking.

Ek onthou hoe het ons gespaar om ’n deposito bymekaar te kry vir ons eerste Sony-in-’n-boks televisiestel, wat ons op huurkoop gekoop het. Alle meubels is op huurkoop gekoop, by Rave in Sunnypark. Ons was almal vrot van studieskuld en/of moes jare terugwerk vir plekke wat ons gehelp het om geleerd te kom.

Ons het min foto’s van ons kinders, foto-ontwikkeling was duur. Vakansies was ’n luukse en tydverdryf/ ontspanning/ sport/ stokperdjies wat enige toerusting geverg het, was taboe. Ek was beslis nie ’n uitsondering nie, al die professionele jongmense het swaargekry en het later met groot moeite en vasknyp huis gekoop. Ons het Volksies gery, of ander goedkoop tweedehandse karre.

Kyk om jou, is dit nog hoe die lewe is? Is dit hoe jonges lewe wat werk, leer en beplan?

Mag jy ook altyd genoeg hê.

  • 8

Kommentaar

  • Hanneke Jordaan

    Die hedendaagse wegspringblokke mbt "huis opsit" verskil totaal en al van hoe die Baby Boomers dit in die 70's/80's aangepak het.

  • Jannie van Niekerk

    Pragtige stukkie nostalgie. Die lewe om ons het wel verander. Ons het self ons studies en verblyf ten duurste betaal. Ons het met een sente, twee sente en vyf sente betaal om een pizza te kan deel tussen ses van ons. Ons was arm. Maar ons was ook ryk, want ons kon lewe. Veilig en gelukkig. Sonder om biblioteke en universiteitsgeboue te vernietig, omdat ons nie studie- en verblyfgeld gratis van die regering gekry het nie. Ek het gesukkel om my studies te betaal. Nou moet ek ander mense se studies betaal met my swaar verdiende geld. Dis waarom ons deesdae swaarder kry. Ons betaal die vernietigers se studies.

  • Jongmense van vandag sien nie kans om van onder af te begin nie. Van hul eerste motor, wat die ouers ten duurste moes koop, die troue en onthaal – alles moet die woord "geld" uitstraal.

  • Leendert Joubert

    Ja, ek het gewerk en deeltyds studeer. Aandklasse gedraf by KOVSIES. Toe ek einde van eerstejaar kwalifiseer vir eksamen, moes ek noodgedwonge my motor verkoop om vir eksamen te registreer - 'n volle R50, wat meer as die helfte van my salaris was. Daarna was dit busry en voetslaan, en kon nie eers 'n meisie uitneem nie. Maar dit het mens goeie waardes geleer en uithouvermoë om met min klaar te kom.

  • Ons was gelukkig en tevrede om met die minste klaar te kom. Beste tye ooit. 60/70/80'-jare! Respek en deursettingsvermoë was daar.

  • As beginneronderwyser het ons minimalisties geleef. Ons kon spaar en kontant in die huis aanhou. Ek het 15km per fiets werk toe gery. Later was dit 'n 50 cc motorfiets. Ons het getrou en kinders gehad en hulle met ons geld deur universiteit gekry. Ek het altyd uitgekyk vir 'n ekstra inkomste en tot op byna 80 geniet ek die lewe, want ek leef eenvoudig.

  • Nee wat, Trisa. Studieskuld is nog hoog en ons ry ook ou voertuie. Skuld maak in ons huishouding is taboe en huis koop is beslis nie meer 'n opsie vir ons jong middelklas nie. Na al die basiese goedjies betaal is, moet daar deesdae besluit word watter dae ons een maaltyd moet uitsny net om te kan deurdruk.

    Dis beslis moeiliker tye, veral vir die wat, soos die res in my ouderdomsgroep, van skuld en kredietkaarte lewe.

    Ons was gelukkig deur 'n vorige generasie met 'n dak oor ons kop geseën, want ek kan rêrig nie sien dat ons nog huur sou kon betaal nie.

  • Mooi geskryf. Maar neem asseblief in ag dat busry, stap of fietsry nie opsies vir ons generasie is nie. Jy waag jou lewe. Ek besit ’n huis, maar moet ook die kostes van alarms, diefwering, ensovoorts bysit. Jy kan nie van staatsdokters en hospitale gebruik maak nie; dus is mediese fonds ’n moet. Ek gaan ook nie op vakansie nie, en ek eet nie uit nie. Maar ek wens vir ’n plekkie in die son, waar ek veilig kan wees en waar hard werk jou nog êrens gebring het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top