Elders gesien: Blaas jou geld, my vriend!

  • 1

...
As ek ’n GPS was, het ek op daardie oomblik gesê “Recalculating”, want dit was nie wat ek verwag het nie.
...

Analize Viljoen skryf op Facebook:

Voor Poetin se oorlog het ek ’n hele paar Oekraïense studente in my Engelse aanlyn klasse gehad. Toe begin die oorlog en hulle is net weg. Dit was vir my baie erg, en ek het die heeltyd gewonder hoe dit met hulle gaan, waar is hulle, is hulle oukei?

Aan die ander kant wou ek nie my kommer eens verwoord nie, want hoe durf ek iets erg vind, en my verknies oor wat ek voel in vergelyking met wat die mense daar deurgaan?

Maar veral Oleksander het by my bly spook. 24 jaar oud, met ’n vrou en ’n nuwe baba wat altyd in die agtergrond gehuil of in babataal gesels het, terwyl hy sinne in passiewe vorm oorsit. Hy is ’n ingenieur en het Engels geleer, want sy droom was om vir ’n groot maatskappy in Duitsland of Frankryk, of dalk Nederland te gaan werk, en om in een van daardie lande te gaan bly. Hy wou wegkom oor die politieke situasie in sy land.

En vier dae later, met sy volgende klas is hy nie daar nie, en ek huil voor my rekenaar, want iemand het waarskynlik vir Oleksander ’n geweer in die hand gesit, en die ingenieur skiet nou mense dood. Ek wonder waar hy is? Waar is sy vrou en die baba? Ek sal seker nooit weet nie.

Ek het toe nie meer Oekraïense studente nie, vir ’n lang tyd. En nou onlangs kry ek weer een. Hy werk vir ’n internasionale maatskappy in Pole. Hy vertel my hy is nie lank daar nie – in Pole of by die maatskappy nie. Ek vra nie verder nie, en hy praat ook nie, maar ek neem aan hy is een van die vlugtelinge wat nou in Pole is. Hy is in sy laat dertigs, en het sy naam verander van die Oekraïense vorm na die Poolse vorm daarvan. 

Hy doen ’n module met finansiële terme. Die Engelse klasse het verskillende modules, sodat studente woordeskat en uitdrukkings vir spesifieke rigtings kan leer. Die les gaan oor “Give and ask for investment advice”. Soos altyd begin ek met ’n oop vraag. 

“How important is it to you to invest your money wisely?”

 Die antwoord kom dadelik. 

“Not important at all.”

As ek ’n GPS was, het ek op daardie oomblik gesê “Recalculating”, want dit was nie wat ek verwag het nie. Ons gaan aan. Ek sê oukei, wel kom ons kyk na die Engelse woordeskat vir beleggingsopsies, as beleggings dan nou vir hom belangrik sou wees in ’n ander situasie. Ek moet die les pasmaak vir sy situasie, en daarom het ek meer inligting nodig. Hy is op vlak 5, wat beteken hy het ’n redelike woordeskat en kan ’n gesprek voer, maar maak foute met tense en hy los a en the uit, soos baie Russiese sprekers. Ek vra hom, as jy een van die opsies wat bespreek is (al die gewones), moes kies om in te belê, wat sou jy kies?

Nie een nie. 

Recalculating.

...
Want hy sal die geld eerder uitgee en geniet. Hy sal in restaurante eet en met vakansie gaan en koop wat hy wil koop.
...

My rol is om hom Engels te leer. Hy moet die terme en grammatika kan gebruik aan die einde van die les, dis al. Hy verstaan ná ’n paar minute al die woordeskat vir die les. So ek gooi dit om.

Waarom sal jy nie in die aandelemark belê nie? Want hy sal eerder sy geld hou. 

En in eiendom? Want hy sal die geld eerder uitgee en geniet. Hy sal in restaurante eet en met vakansie gaan en koop wat hy wil koop.

Advice was een van die woorde wat hy pas geleer het en nou prakties moet gebruik. Ek vra hom: “If a good friend asks you for advice about what to invest in, what would you say?”

“I would tell him to spend his money on life. Buy the things you want. Enjoy the money.”

“Waarom?” vra ek.

“Because, look at this world.”

Ek knik, meer geanimeerd as wanneer iemand by jou is, sodat hy dit op die kamera kan sien.

“Ek weet dit is vandag ’n jaar vandat die oorlog begin het. Ek is jammer vir wat jy en jou mense deurmaak.”

Hy knik, en lyk hartseer. “Ja, dis ’n jaar, vandag.” 

Hy leer al sy woorde en grammatika, en maak sy ’n’s en die’s reg. Hier en daar maak ons ’n grappie en lag so ’n bietjie oor iets.

Ná sy uur groet ons.

“Thank you for the lesson,” sê hy vir my.

Ek skud my kop.

“No. Thank yóú for the lesson.”

 

Lees ook:

Een jaar van oorlog: Ons gesels met Eben Viktor in Oekraïne

Press release: Ukraine, a year of war crimes and resolve

Oekraïne: Berigte te velde

  • 1

Kommentaar

  • 'n Goeie belegging kan vir mens ekstra passiewe inkomste genereer. Kriptoe, eiendom en aandele gee dividende en groei. Maar vir die deursneemens is daar nie genoeg geld oor aan die einde van die maand om te belê nie. Te veel uitgawes sluk mense se salarisse in. Dit is amper slegs vir die rykes beskore om genoeg te kan belê. As mens dalk klein bietjie kan belê ten minste elke maand, al is dit net paar honderd rand, kan dit reeds help. Finansiële sekuriteit gee mense gemoedsrus terwyl klomp aardse besittings net mens se lewe kompliseer. Eiendom kan ook mens se lewe kompliseer, hoewel eiendom ook 'n goeie belegging kan wees onder sekere omstandighede. Restaurante is gerieflik maar is die kos daar altyd so gesond? Miskien as mens behoorlik navors wat in jou kos ingaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top