Elders gesien: "Aan Eldaleen en Vrouekeur: Vat ’n buiging."

  • 10

Foto: Pixabay.com

Frederik de Jager skryf op Facebook: 

In 2015 het die redakteur van Vrouekeur, Eldaleen Hugo, my gevra vir ’n artikel oor een Sondagmiddag in Griekeland. Ek was in my noppies, want ek het Eldaleen geken in ’n kapasiteit van voor ek na Lesbos toe is.

Toe was ek hoof van Suid-Afrikaanse publikasies by Penguin in Johannesburg. Van tyd tot tyd het ons ’n funksie gehou, meesal daar in ons kantore, om ’n boek bekend te stel, of skrywers aan die pers, of om iets te vier. Die een tydskrif wat altyd, maar altyd opgedaag het, was Vrouekeur.

Ek het geweet en verstaan hoe sat tydskrifmense moet wees van al die uitnodigings wat hulle kry van partye wat bietjie publisiteit soek. Daarom het min van hulle ooit by die beskeie geleenthede geleenthede opgedaag waar dit nie om die een of ander superster gaan nie. Maar nie Vrouekeur nie. En niemand minder nie as hulle redakteur het gekom. Dis hoekom, en hoe, ek Eldaleen geleer ken het: iemand wat lees, wat gek is na boeke, wat haar betrokke maak, en wat genoeg energie het om op tien plekke gelyk te wees.

Toe Eldaleen my ook vra om ’n rubriek te skryf, was dit nie moeilik om ja te sê nie. Sy het my carte blanche gegee. So het my nou byna vyf jaar oue rubriek “Mense onderweg” gebeur, en tussendeur ’n paar verhale ook. Die rubriek sou gaan oor mense wat ek in my lewe teëgekom het en oor wie daar iets te sê is.

Ek het gedink ek sou dit so ’n jaar lank volhou voor die mense opraak wat ek kon onthou. Dit het egter soos ’n rafeltjie geword, hoe meer jy trek, hoe langer ryg die draad uit. ’n Vyftigtal rubrieke later het ek steeds ’n lang lys ongeskrewe rubriekonderwerpe. Die rubriek self het vir my soos ’n ou vertroude vriend geword. Dit was dikwels tot troos, wanneer ek oor iets pynliks skryf, maar ook tot self teregwysing, wanneer ek terugskouend kon sien hoe dwaas of gemeen ek teenoor iemand opgetree het.

Van Eldaleen en haar span het ek nooit enigiets anders as aanmoediging ontvang nie, en die grootste professionaliteit in die hantering van my stukkies. Ek probeer wel nou al vir vyf jaar die moed bymekaarskraap om hulle te vra om ’n ander foto te gebruik as die stupid een van my wat so pretensieus ken op die hand sit. Dit was nie ek nie, die fotograaf het so gevra. Hoe dit ook al sy, dit is nou te laat.

Gister het ons die nuus ontvang, so abrup vir ons die lesers en bydraers as wat dit vir die personeel was, dat Caxton hulle hele tydskrifafdeling sluit.

Ek treur oor Vrouekeur soos oor ’n mens wat langbome toe is. Ek was so trots op die tydskrif, so trots daarop om vir hulle te kon skryf. Kyk net na die foto, ’n gideonsbendetjie mense wat weekliks ’n tydskrif uitbring. En hulle het glad soos ’n getunede enjin geloop. En ’n tydskrif van sulke gehalte. Ernstige musiek-, kuns-, en boekbesprekings, nie die oppervlakkige soundbytes wat jy in baie ander tydskrifte kry nie. En hekelpatrone, ja, hoekom nie?

Op tipiese wyse sou Eldaleen altyd sê oor my bydraes: “push maar die envelope.” Ek het vir seker nooit gevoel ek skryf vir die laer IK of die kleinseriger vlak mens wat dikwels, en verkeerdelik, met lesers van vrouetydskrifte geassosieer word nie.

En die beste van alles is, die tydskrif het finansieel gewerk, en wonderbaarlik nie op advertensies soos die ortodoksie dit voorskryf nie, maar op sirkulasie. Mense het dit weekliks gekoop. Hierdie vrou ken haar gehoor en haar besigheid.

Ewenwel, dit was goed, en as alles goed gaan kom daar volgende jaar ’n boek met die stukke.

Aan Eldaleen en Vrouekeur: Vat ’n buiging. Kyk, die skare is op hulle voete. Hulle stamp hulle voete en hulle roep: Encore!

  • 10

Kommentaar

  • Hulle boekeblaaie was prima ‒ van die eerste resensies wat ek nadergehark het as ek 'n plaaslike uitdaging klaargelees het. En vir 'n klein tydskrifspan het ek net die hoogste respek. Dit vat uithou en aanhou; in hierdie geval, stopgesit, maar so 'n span mense sal weldra op 'n ander plek hulle merk maak.

  • Johannes Vorster
    Johannes Vorster

    Frederik, dit is so mooi geskryf... En so waar! En dit gee welverdiende erkenning aan wat hierdie span elke week vermag het, dikwels onder uiters moeilike omstandighede, maar altyd met entoesiasme en soveel liefdevolle toewyding. Hulle sal inderdaad nie gestuit word nie.

  • My hart is baie seer oor hierdie Covid-19-slagoffer. Was my geliefkoosde tydskriffie. Elke bladsy het geblom. Sterkte en mag julle weer op n mooi dag op ons winkelrakke pryk. Nettie van Kimberley.

  • Sakkie Spangenberg
    Sakkie Spangenberg

    Ek was nie ’n gereelde leser van Vrouekeur nie, maar het af en toe dit gekoop om te sorg dat my “anima” gevoed bly. Ek was altyd beïndruk daarmee. Dis jammer dat die tydskrif van die mark verdwyn.

  • Avatar
    Renée Conradie

    Kan ook net beaam... Die gehalte joernalistiek was hoogstaande en los 'n geweldige leemte. Het weekliks uitgesien na Vrouekeur se artikels (en die blokraaie).

  • Avatar
    Mellèta Louw

    Dit was ’n onpretensieuse tydskrif, ontdaan van die blink en glans, bekostigbaar, en dan daardie juweeltjies... die musiek-, kuns- en boekbesprekings! Vrouekeur het iets verbeeld van warmte en goedheid en van huislike hart en haard. Dankie daarvoor!

  • Die Vrouekeur was vir my veel interessanter as die ander "oulike, vroulike" glanstydskrifte - "in Afrikaans, hoe soet my taal"- wat vir die vrouemark opgedis word. Deur kundige inligting oor allerlei onderwerpe te voorsien, het die tydskrif nooit haar lesers onderskat nie. Selfs al was baie van hulle nooit op universiteit gewees nie.
    Dit was juis die vrou agter die toonbank van ons naaste stadskafee wat my die eerste keer aangeraai het om die Vrouekeur, eerder as die ... te koop, want, het sy gesê, "dit het darem iets om die lyf".
    Ek hoop die oorlewende vrouetydskrifte neem kennis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top