
Foto: Canva.com
Ek wil vir jou nog ’n Kersfees skryf
ek wil vir jou nog ’n Kersfees skryf
(maar ook vir my)
met ’n pouveer in my hand
uit ons twee se geliefde Boesmanland
waar ’n Desember-somerson
en ’n plaasoggend op jou gunstelingberg
nog ’n laaste keer vir jou sal opkom
ek wil weer vir jou my hart toedraai
met Desember-papier
vol foto’s en gisters van my en jou
onder die Kersfeesboom
gestrik in blou
dan wil ek ’n Oukersaand-wens
aan die maan ophang
en met ’n verskietende ster
my droom oor die hemelruim verf
dat wanneer ek gaan slaap
jy saggies aan my wang sal kom raak
ek wil vir ons nog ’n laaste Kersaand skryf
maar dié keer met ’n sonsondergang
met jou hartsmense saam op die stoep
waar ons luister na Kersfees-sang
en eers as die dag se saamwees groet
wil ek inpas in die holte van hoe jy vir my lief was
en ek vir jou
ek wil vir jou nog ’n Kersfees skryf, my lief
vol van onthou
my inkspore traan in hemelse blou ...


Kommentaar
'n Roerende herinnering wat my sommer saam laat verlang na my eie geliefde(s).
Pragtig.
Dis regtig baie mooi.
Sjoe, verlies is bitter sleg. Maar hierdie gedig is balsem op my hart se wonde. Dankie vir hierdie hartroerende mooi gedig. Dit is besonders. Ek bid vir jou dat hy weer saggies oor jou wang sal kom vee in jou drome.
Wat ’n verrassing, dankbaar LitNet.
Dankie vir julle saamlees en saamvoel, waardeer elke stilstaan.
Pragtig.
Pragtige woorde, Melandi. Hierdie het nou aan duisende van my harts-emosies gepluk.
Alastair en Frikkie dankie vir julle kommentaar, waardeer
julle stilstaan hier.
Sjoe, voel of jy die woorde uit my hart gehaal het! Ek laat saam met jou inkspoortrane ...
So, so mooi,
Dankie Ada en Elisma vir julle saamlees en voel.