Ek is nie meer jonk nie. Trouens, as ek uitgaan loop ek met 'n kierie, want my ou knieë en heup pla, ek moet op iets steun.
Ek is gay. Vandat ek as seun en jongman bewus geword het van my seksualiteit, was ek gay. Ek moes dit natuurlik wegsteek. In daardie jare was daar nie genade vir 'n "moffie" of "queer", soos hulle ons genoem het nie. As ek in die geselskap van ander, "normale" jong mans was, moes ek gedurig die kwetsende name en beledigings aanhoor. Jy kon aangerand en selfs doodgeslaan geword het as hulle uitvind jy is gay.
Daar is nie eintlik meer 'n seksdrang by my teenwoordig nie, dis selde wat ek nog 'n bietjie lewe in my lieste voel. Maar ek bly gay en daar is vir my niks mooier as 'n aantreklike jong man nie.
My hele lewe lank was ek gelowig, al het ek geweet die Bybel en omtrent alle gelowiges veroordeel gays. Want in my hart het ek geweet die Here is vír my, nie teen my nie. Hý het verstaan, al verstaan niemand anders nie.
Vandag is my geloof nog net so sterk en vertrou ek volkome op die Here Jesus Christus. My Verlosser leef in my. Hy sal my eendag ook verlos van al die pyn en beledigings wat ons steeds moet verduur.
Gay Ou Man


Kommentaar
Gay Ou Man,
Ek dink nie jy is reg as jy sê die Bybel "veroordeel gays" nie. Wat die Woord wel tipeer as gruwel, is die homoseksuele praktyk, maar dit weet jy reeds.
Om homoseksueel te wees, is dus 'n versoeking om tot die daad oor te gaan, wat weerstaan moet word soos enige ander versoeking om sonde te doen, soos byvoorbeeld, owerspel, ens.
Soos ek uit jou kort briefie agterkom, het jy nie daaraan deelgeneem nie, en het jy inderdaad jou homoseksualiteit probeer verberg hoewel dalk vir ander redes as die rede dat die HERE dit so wil hê.
Eendag, voor dit te laat is, sal jy ook besef en bely dat selfs die begeerte daartoe, onderdruk en bestry behoort te word.
Die HERE besef dat mense aan versoekinge blootgestel word om sonde te doen - maar HY is liefdevol en genadig en HY ondersteun diegene wie die sonde opreg wil bestry, met die bystand en Krag om dit te doen, welke dan weer 'n mooi en sinvolle verhouding met Hom, bevorder.
Daarom as die HERE jou eendag verlos van die homoseksualiteit, is jy ook verlos van die pyn en beledigings wat dit meebring.
Dit hang mos van jou af of jy SY hulp wil hê.
Groete en sterkte,
Kobus de Klerk
Amen... versekerd, soos in altyd en ewig...
Gay Ou Man
Lees my brief "Hensop" wat hopelik deur SeNet gepubliseer word
Jaco Fourie
Gay ou man
Jou stelling - “al het ek geweet die Bybel en omtrent alle gelowiges veroordeel gays” – is nie korrek nie. Die Bybel waarku téén en wys óók - die beoefening van homoseksualiteit – uit as ‘n sonde wat in stryd met die evangelie van God, is. Lees gerus Romeine 1:18-31 en dan ook 1 Tim. 1: 10-11, maar ek is seker, dié weet jy as gelowige.
Ons is almal sondaars en daarom kan geeneen van ons roem dat ons sondeloos is nie. Dit is daarom dat God ons uit genade gered het in en deur die soenverdienste van Sy enigste Seun, Jesus Christus ons Here- maar dié weet jy ook.
Die probleem is egter in onsself geleë, in dié sin, dat ons dikwels ons dade (dié dade wat sonde is volgens wat die Bybel ons leer), wil selfregverdig. Dít doen ons dan ook dikwels deur op God se Liefde staat te maak en dan ook op die vergiffenis wat ons in en deur Christus ontvang. Die probleem is dan dat ons dikwels die gevaar loop om júis God se genade te misbruik as dekmantel om te sondig én ons sondige dade só te probeer regverdig.
Dit ís só dat God ‘n God van Liefde is en Jesus Christus het ons kom leer wat ware liefde is – God se liefde vir ons en daarinteen, ons liefde vir God en ons naaste. Maar ons kan nie God se Liefde beklemtoon ten koste van God se Almagtigheid en Heiligheid nie. God vereis van ons, sy kinders, onverdeelde trou én gehoorsaamheid. Daarom dat ons móét afsien van ons sonde en hierin staan die Heilge Gees ons dan ook by – om ons sonde te erken, dit in opregtheid te bely en vergiffenis te ontvang – dit is dan wanneer ons werklik vry word en só meer-en-meer soos Christus word op ons pad van heiligmaking.
Vrede vir jou.
Dolf