Ek voel vere

Foto: Canva
Deesdae voel ek ’n veer …
… vir elke bullebak
wat hom skuldig maak
aan hoogverraad;
die burokrate
en diplomate
van die hoipolloi-ras
wat traak-my-nie-agtig
hul handjies in onskuld was.
Ek voel vere vir die smulpape –
wat ons landsvet (en grondwet)
met die binnevet opvreet
en dwaashartig maak
of hulle niks daarvan weet.
G’n flenterveer sal ék omgee
vir dié wat breekwater betree,
maar wil tóg met jou deel –
dat jy ook geen dooie veer
van ’n padda sal pluk
vanweë die stommerik
– volbloed –
geteel is om te steel ...


Kommentaar
Puik sosiale kommentaar hierdie. Welgedaan Loretta