Ek vind jou in die ritmes van ons verlede

  • 0

Foto: Canva

Ek vind jou in die ritmes van ons verlede

Ek vind jou in die breek van die branders oor die promenade
Ek hoor jou op die grasvlakte waar jy stap met jou hond
Ek ruik jou op Muizenberg se strand,
Jou vel sout en koel met die smaak van die see in jou mond.

Dink jy ons harte voel die gedeelde ruimtes aan?
Dink jy
jou siel weet ek het ’n paar uur vroeër op dieselfde plek gestaan?

’n Uil roep en my hart breek van voor
onthou jy nog daardie aand
met die vuur, musiek en wyn
die uil se onverwagse verskyning op die dak, hoe vol jy my gesoen het onder die maan?
Nou weet ek – die uil het kom waarsku oor hierdie ongelooflike pyn.

Jy het my gevoer met woorde
ek het elke een gulsig opgekou
ek het vir jou slegte gedigte geskryf
maar woorde kon ons net so lank aan die lewe hou.

Voel jy ook hartseer wanneer jy Karen Zoid hoor sing
of was dit als net vir jou ’n tydverdryf om ’n ander hartseer te verdring?

My hart lê oopgebreek in die see, wind en gras
op al die plekke
waar jy eens lief vir my was.

(Met apologie aan Ingrid)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top