
Foto: Canva
Ek vereer nie kleur nie
wit bruin of swart nie
my beste vriend was ’n swart man
my meeste ander vriende bruin
ek was vir jare die wit kind –
met die bruin vel
veral in die viskampe van Elandsbaai
hier en daar is ’n wit tjommie
waarvan net een nog lewe.
Ons het maar in die donker gelewe
gerook en gestook baklei en gestry
oor die lewe en lyding
my Weermag was ’n berg
gelukkig beland ek in die Waldt
waar almal soos ek dink
almal kinders van die strate
ek was ’n trotse soldaat.
In die strate van die Kaap
op party plekke was tot vandag
nie apartheid nie
daar het ek tussen duiwels gesien
tog ook tussen engele gelewe
arm mense is eenvoudig nederig en opreg
nie ryk en bedorwe –
wat dink God behoort aan hulle nie.
Jesus het my daar gaan haal
nadat die blommeseisoen gestop het,
toe al die Hippies huis toe gegaan het –
weens ’n gebrek aan blomme
om my Sy liefde te gee
Sy vrede aan my af te smeer
sodat ek die regte God leer ken het
toe ’n blommekind my tronksel besoek het –
toe die Dominee nie wou kom nie.
God vereer nie kleur nie
wit bruin of swart nie
Jesus het my beste vriend geword
Hy was God –
wat vir altyd lewe
Hy het nie gesê wit bruin of swart nie.
Hy het wel gesê
kom na my toe as jy vermoeid en belas is,
ek sal jou rus en vrede gee
as jy my liefhet
sal jy my woord bewaar
dan sal Ek en my Vader in jou kom bly
ek het die waarheid leer ken
wat my vrygemaak het.

