Ek stap deur tyd na altyd

  • 0

Foto: Canva

Ek stap deur tyd na altyd

Ek stap deur tyd na altyd
stoot die sand opsy
soos ek deur dit ploeg
deur oorlog, deur vrede,
deur stryd, verwyt
en smyt dan alles uit
wat nie hoort nie

ek stap deur begraafplase
tussen grafstene deur
lees hier en daar
die laaste ode
aan iemand
wat gemis word
deur dié wat agterbly
wat dalk ook al hier lê

so stap ek deur vriendskap
om vyande te los
briewe te skryf
om nooit te pos
om verwyte te bêre
in kassies in die grond
met my vinger op die mond

want stilte is goud
donker word oud
terwyl ek grys word
wys word –
wat niks beteken nie
want ek vergeet alles
om gedurig te wonder
waarheen is ek op pad

wie is jy nou weer
jy lyk bekend –
so bly ek stap
en stap na nêrens
want êrens is verlore
ek en jy is gebore
om te sterf
as tyd opgebruik is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top