
Foto: Izak de Vries
ek staan op ’n rots tydens my vakansie
met ’n kopknik aan Antjie
ek staan op ’n rots
by Mission Rocks
gebalde vuis in die lug
onverskrokke (my gebalde vuis is ’n dapper muis
en daar’s baie wat my bang maak)
in die stryd teen ...
onreg?
(on en reg?)
ek is
nie gelate en onderdanig nie
nie regtig ’n vry fokken vrou nie
(al klink Krog se allitererende klanke so kragtig)
ek is
ek is vir ’n oomblik ekstaties
mens
in die sproei van ’n moerse golf
vry nou
kortstondig
van my stryd teen die kroondraervirus
van my missie teen gebalde vuiste wat vrou(mens)e moker
om te pas in ons genderrolle
ek is
in hierdie oomblik
is ek
sand
see
klip
ek is
droef
my vuis sak
ek skryf Lungile Pepeta1
se naam in die sand
voor die volgende golf breek
ek is
(amper weer)
reg
1Lungile Pepeta was die dekaan van die beplande nuwe mediese skool in Port Elizabeth. COVID-19 het hom op 7 Augustus 2020 gesteel.