"Ek is nog hier ..." / In die hinderlaag (Deel II)

  • 0

“Ja nee, hoe meer kak jy het, hoe meer kak het jy,” sê Gawie Kriel, lig ’n loodkristalskerf, kyk treurig daarna, skud sy kop soos wat Alice Kriel die glasstukke opvee.

“Daai dônerse brak, daai blerrie monster van jou gaan ons nog duur te staan kom,” sê die byeboer aan sy vrou. “Eers byt sy Jaap se vinger af, en nou breek sy nog my beste kristal ook. Daai brak is net moeilikheid, sê ek vir jou,” sê hy vir haar en wys met ’n uitgestrekte wysvinger na die wit dier wat op die groen vilt van die snoekertafel uitgestrek lê.

Fiefie gee ’n skerp blaffie, mik-mik vir die byeboer se vinger.

“Sssjjj, Fiefie,” sê die byeboer se vrou, kalmeer die hond, druk haar teen haar lyf vas. “Maar wat het dan gebeur?” wil sy weet.

“Dit was eintlik my skuld,” bieg die kaptein, vertel aan Alice dat hy vir Nevada Bell ’n onderhandse snoekerstoot demonstreer het. “Die stok het geglip. Die bal het gespring. Die hond het gespring,” som hy pragmaties die sameloop van omstandighede op wat tot die vernietiging van die byeboer se kristal whiskystel gelei het.

“Ai Fiefie,” sê Alice Kriel, streel oor die hond se nek, soen haar op die kop.

“Dis vandat jy haar begin groentekakkies voer het,” brom Gawie Kriel, “dat sy so bejimpelst is.”

“I think she went for the jerky,” sê Nevada Bell, pik self ’n kerfie biltong uit die bak. Sy herrangskik ’n paar loodkristalskerfies op die kroegtoonbank voor haar – die gestalte van ’n seeperdjie wat vorm aanneem.

“She definitely did,” beaam Paul Brockmeyer agter haar. Hy kyk af na die ontluikende seeperdjie, sien fragmente van sy gesig wat in die splinters weerkaats, ’n halwe oor, ’n skerfie oog. “Nice mosaic,” sê hy, gaan sit dan weer in sy stoel.

“Apparently a symbol of good luck,” lag die kunssinnige produksiebestuurder.

Dan is Alice Kriel by met ’n handbesempie, vee oor die toonbank. Die seeperdjie spoel en breek tot in haar plastiekskoppie – verloor sy vorm, amper asof hy nooit bestaan het nie.

Buite, agter die huis, teen ’n akkerboom, staan JM Roux, Dave en Jan – pis lang, stomende, geel strale tot diep in die donker nag.

“JM, ek kan steeds nie glo dat jy van ons coke vir Paul gegee het nie,” sê Jan, hou die plastieksakkie op teen die lig om te probeer peil hoeveel van die kosbare poeier daar nog oor is. Dis bykans leeg.

“Ek het nie vir Paul coke gegéé nie – ek het dit aan hom verkóóp,” sê JM Roux, voel in sy baadjiesak, bring ’n rol dollarnote te voorskyn.

“You didn’t,” lag Dave.

“Ja ek het,” sê JM Roux.

“You dog,” prys Dave, gryp vir JM Roux in ’n beergreep, druk hom, los hom, sê: “You’re my hero.”

“Jou yster,” lag Jan ook saam. “Goeie werk, my kroon.”

“Ja wel,” sê JM Roux, “ons sal op ’n kol moet teruggaan om nog coke te gaan kry. Hoe laat is dit nou?”

Dave kyk op sy horlosie. “Amper halfdrie,” sê hy.

“Die son kom net na ses op, so gear check oor minder as vier ure,” lag Jan, kyk vir JB, “tensy jy met jou nuwe beste vriend kan reël dat ons die dag afkry.”

JM kyk in die rigting van die huis, sien deur die Franse vensters vir Paul Brockmeyer waar hy in ’n leunstoel sit en ginnegaap met Gawie Kriel en sy vrou. “Ek vermoed hy gaan dit self voorstel,” sê hy en rol die rol dollarnote tussen sy vingers.

Die geluid van iets of iemand wat deur die onderbos breek laat al drie na die grensdraad draai. Daar is ’n kreun, iets soos die geluid wat ’n bruinbeer tipies op ’n NatGeo-program sou maak, die breek van kreupelhout, klap van takke.

“Wat is dit?” wil Jan by Dave weet.

“Hoe moet ek weet?” vra die klankman.

“Jy ken mos geluide, man,” sê die kameraman en klim op ’n draadtafeltjie om ’n beter uitsig oor die onderbos te probeer kry. “Is hier nog olifante in hierdie geweste?” vra hy soos wat die bos onderkant hulle breek.

In die halfskemer slaapvertrek is die digter terdeë bewus van sy eie verlies. Hy hou die verbinde hand op teen die lig, voel versigtig aan die verminkte vinger, ril van die gevoel daarvan, ril oor die gebrek aan pyn. Hoekom is daar nie pyn nie? Dis tog onnatuurlik. Dan onthou hy Alice Kriel se medikament. Dan onthou hy Alice Kriel.

Hy sien op die radiowekker langs die bed dat dit 02:22 is, kyk in die vertrek rond, op soek na sy selfoon. Hy sal sy vrou moet kontak, haar laat weet dat hy eers later tuis sal wees, dis die bedagsame ding om te doen.

Hy sit regop, vind die foon op die bedkassie, vind egter dat dit haas onmoontlik is om met sy verbinde skryfhand ’n boodskap te tik. Sit so met die foon in sy hand, begin dink aan die woorde van ’n gedig wat hy vir Alice Kriel wil skryf. “Ingelê in ’n bottel op ’n spensrak, donker korrelstroop van druiwe, somber, bruin waatlemoenskywe ...” Sy eie woorde sleur hom mee, sleur hom soos ’n chroomkleurige bergstroom dieper die woud in wat Alice Kriel is. Sy lyf pyn om in haar verlore te raak. Sy lyf pyn om binne haar uit te mond. Dank God, die pyn is terug.

Die digter wil notas maak, is bang dat hy die woorde wat uit hom stroom, sal vergeet, dat hy die spoor sal kwytraak, soos ’n Hansie nie sy pad sal kan terugvind na die hart van sy geliefde heks nie. Hy kyk na die foon, kyk na sy beseerde hand, sluk aan die wilde plantsmaak in sy mond, besef dat hy by die huis sal moet uitkom, anders gaan die gedig dalk verlore, gaan hy straks al hierdie woorde vergeet – en sonder woorde, besef die digter, is hy niks, is hy minder as fokkol.

Hy kom orent, effe duiselig van Alice Kriel se pynmedikasie, effe lighoofdig van bloedverlies en al die woorde in sy kop.

In die hangkas voel hy sy pad deur materiaalbaadjies en sybloese, ruik lank aan ’n groen serpie. Die kroonblare van die mandala teen die plafon skitter en spoeg verskillende kleure neon deur die vertrek – groen, rooi, blou, goud, groen, rooi, blou ... Die arms mallemeul, die mallemeule by ’n landbouskou, die glimmende roeletwiel in ’n kusdorpkasino.

Hy verbeel hom hy sien die rokerige gestalte van ’n stokou vroutjie wat deur die vertrek stap. Verbeel hom hoe haar lang nagrok aan haar benerige skouers hang. Hy ruik knoffel en Vicks wat in haar nek skuil.

Vanuit die veiligheid van die hangkas sien die digter ’n wêreld wat bars van moontlikhede.

In die byeboer se kuierkamer leun die afgetrede kaptein met sy elmboë teen die nat toonbank. Hy leun nader aan die Amerikaanse filmmaker. “I also had a crew once,” sê hy. Sy asem stink na rum, vrank soos ’n pitjie verdriet in ’n stomende korrel weemoed.

“Yeah? And what did you make?” wil die Amerikaanse dokkiemaker weet.

“Good times … we made excellent times on all the trade routes of the seven seas of the world,” mymer die afgetrokke, afgetrede seevaarder.

Die digter verskyn in die deur, geklee in ’n ou toerygboksbroek van Gawie Kriel en ’n kimono-tipe sybloes van Alice Kriel. Wanneer hy homself in een van die vollengtespieëls van die kuierkamer raaksien, oorweeg hy dit om terug te draai, maar almal gaap hom reeds aan. Vir ’n oomblik huiwer hy, onseker of hy wakker is en of hy slaap.

“Heita,” sê Gawie Kriel, fluister in die oor van die kaptein, “ek het dit altyd geweet van hom, jy weet.”

“Funky threads,” lag die UV van Washington DC.

“Als reg, Jaap?” wil die kaptein weet.

“So bietjie lam in die pram, ou Joop,” sê die digter met ’n sleeptong. “Ek dink ek moet by die huis uitkom.”

“Nee nonsens,” protesteer die byeboer, “die aand is nog maar ’n vulletjie.”

“Ek,” sê Jaap, steier op sy voete.

Net dan stap Alice Kriel weer in, sien die digter wat soek na balans, vang hom in haar arms – hulle asem mekaar se liggaamsreuke in, ’n oomblik in tyd.

Sy sit hom in ’n gemakstoel neer. “Sit hier,” sê sy.

“Jy,” sê hy, voel die warm vorm van haar regterbors onder sy linkerhand.

“Wil jy iets drink, water dalk?” vra sy en lig ongemerk sy hand van haar bors af. “Jy moet eintlik nog ’n rukkie lê.”

“Lê,” sê die digter. “My vrou,” mompel hy agterna, sak vorentoe met sy kop tot tussen Alice Kriel se borste.

“Moet jou nie bekommer nie,” sê Alice. “Jy slaap vanaand by ons oor.”

Gawie Kriel lag uit sy maag uit. “Kyk net die blerrie mannetjie. Alice, smaak my hy soek pram. Smaak my hy wil met jou stootjies maak. Haaaa-haha,” lag die byeboer. Klap vir Alice Kriel op die boud. “Besef hy darem jy’s ’n ooitjie?”

Alice Kriel haal asem, kyk na die lem van die biltongmes op die kroegtoonbank.

Dan lui Gawie Kriel se foon. Hy kyk eers rond en begin soek dan deur sy broeksakke. Net wanneer hy die foon kry, hou dit op met lui. “Bliksem tog,” sê die byeboer, kyk kwaai vir die foontjie in sy hand.

Almal kyk vir Gawie Kriel soos wat hy op die foon se skerm probeer uitmaak wie gebel het. Dan lui die foon genadiglik weer – hierdie keer tel die byeboer betyds op.

“Kriel,” sê hy. “O, Henry dit is jy,” lag hy wanneer hy die stem aan die anderkant herken. “Waar was jy dan vanaand? ... Wat?” vra hy wanneer hy klaarblyklik met meer dringende sake onderbreek word. “Jackie de Groen? Vermis?” sê hy.

Na nog ’n paar vrae en antwoorde lui die byeboer af. “Jackie de Groen is deur swartes gehijack, sy Benz is net buite Wit Lokasie gevind,” sê hy. “Our friend have been killed most probably, with a panga or an assegai,” verduidelik hy aan Paul en Nevada, laasgenoemde wat pas weer fris en vars uit die badkamer teruggekeer het.

“That’s terrible,” sê die UV van DC. “My condolences. No, the condolences of our entire crew.”

“I appreciate it,” sê die byeboer ontroer, skud formeel die Yank se blad. “Would you like to join the search party?”

“Who or what are we searching for?” vra JM Roux, wat pas saam met Jan en Dave die vertrek binnegestap het.

“That is a very good question,” sê Paul.

“We are most probably searching for the dismembered corpse of my friend,” sê Gawie Kriel, verbeel hom die kaal, bebloede lyk van Jackie de Groen, knieë opgetrek, hande geklem om die assegaai in sy derms. Hy kyk skielik stip vir Alice Kriel, sê: “Alice, my dôner, waarop wag jy? Gaan pak my kit. Kom, kom,” hits hy haar aan, “die onderburgemeester het glo persoonlik ons bystand in die soekgeselskap versoek. Jackie het ons nodig. Die munisipaliteit het ons nodig!”

“Do you wanna go film a manhunt?” vra JM Roux vir Paul Brockmeyer na Alice Kriel die vertrek verlaat het.

“Like in for real?” wil die TV-man weet.

“Yes,” knik die regisseur, “like in for real.”

“Hell yeah, why not,” lag goeie ou Paul. Fluister in JM se oor: “Can we stop for some, you know, along the way?”

“Sure thing, why not, Paul,” sê JM Roux.

’n Halfuur later dreun daar ’n kolom voertuie by die hek van Die Hinderlaag uit. Aan die voorpunt van die konvooi, in sy Isuzu-bakkie, uitgevat in sy kommando army browns is Gawie Kriel. Hy word gevolg deur die afgetrede kaptein en Nevada Bell in die kaptein se Pajero. Kort op hulle hakke is JM Roux en die kroe.

Op Die Hinderlaag bly agter: Jaap die digter en Alice Kriel. Nou ja toe.

Ons bly volg die konvooi soos wat dit weer uit die bos uit ry. Onder Kom se Pas flits die pêre by ’n BMW X5 verby wat agter ’n klompie bome geparkeer staan. Hulle sien nie eens die kar nie.

Op die bopunt van Ou Kaapseweg bring Gawie Kriel sy Isuzu tot stilstand, leun uit by die venster, kyk om na die twee plaaswerkers in kamoedrag op die bak. “Julle manne nog oukei daar agter?” wil hy by hulle weet.

Die manne blaas skote wasem deur hulle bak hande, lag bibberend – nee, hulle kan nie kla nie.

“Julle moet julleself maar regmaak – vanaand gaan ons nog ver ry,” sê die byeboer, staar die donkerte in. “Vanaand vat ons baas Jackie se spoor.”

Die kaptein stop met sy Pajero langs die byeboer se Isuzu. “Ou Gawie,” sê hy, “ons gaat net gou ’n paar baadjies by my plek optel, kry julle by die Chelsea!” roep hy deur die oop venster, verby die blink gesig van Nevada Bell. En daar gaat hulle.

“Hhhhhowwwaaaaahhhhaaaahhh!” roep Gawie Kriel agter hulle aan, maar hulle stel regtig nie in die minste belang nie.

Gawie Kriel kyk die Pajero agterna. “Dink jy,” vra hy vir JM Roux, wat nou met die produksiebussie langs hom ingetrek het, “dink jy hy het planne met haar? Sy kon sy dogter gewees het.”

Die regisseur lag breed. “Die vraag is eerder, is sy dalk die een met ’n broek vol planne?”

Jan die kameraman kyk seergemaak na die regisseur.

“So, sy’s een van daais?” vra die byeboer opgewonde, lyk of hy wil regs draai op die N2 en agter die kaptein se Pajero aanry. “Daai pêrebylyfie van haar moes my vertel het.”

“Listen fellows, we’ll have to meet you there,” sê Paul. “Got to go see a man about a horse first.”

“Julle sal nie perde nodig hê nie, ons ry sommer met bakkies,” keer die byeboer; voel alreeds eensaam bloot by die gedagte om paaie te skei.

“Ons gaan net gou by ons kamp verby,” sê die regisseur. “Moet kameras en so oppik vir die shoot.”

“Ja, goed, oukei dan,” sê Gawie Kriel, opreg afgehaal. “Sien julle netnou by die Chelsea, maar moenie te lank draai nie, die soekgeselskap sal nie op hom laat wag nie.”

“Later!” roep JM Roux, trek met skreeuende bande weg.

Dan sit Gawie Kriel daar op die bopunt van Ou Kaapseweg, alleen, in die nag, net hy, Boeralleen, en die twee bruin plaaswerkers agter op die bak, maar meestal net hy en die kennis van alleen.

Dalk word mens se oë swakker soos wat jy ouer raak, dink die digter soos wat Alice Kriel een vir een die ligte in die groot plaashuis afskakel. TV-kamer, studeerkamer, spaarkamer, naaldwerkkamer, kombuis is skielik in donker gehul.

Die vrolike konvooi, gelei deur Gawie Kriel, is lank reeds vort. Die honde op die werf het stil geraak. Fiefie snork in ’n mandjie onder die kombuistafel. Katte glip by spensvensters uit.

“Voel jy ook jy sien slegter?” vra die digter vir Alice soos wat sy hom aan die hand neem en deur die huis begin lei.

“Ek het van die ligte afgeskakel,” sê die byeboer se vrou, lei die digter verby die oop studeerkamerdeur waarbinne ’n ou liasseerkabinet, ’n lessenaar en die enorme skerm van ’n antieke komper sigbaar is.

“Voel jy ook dat jou oë minder raaksien, soos wat jy ouer word?” vra die middeljarige digter aan Alice Kriel, klou aan haar hand. Hy sien die weerkaatsing van ’n dubbelbed, verekombers, kussings, twee bedlampies, waarvan een aan is, ’n haardroër op ’n bedkassie in die hangkasspieël. Hoe gevaarlik is die SS binne “hangkaSSpieël” nie? wonder hy, vertel vir Alice: “Soms, maar net in ’n spieël, kan ek die lig sien wat ek laas as jong man gesien het. Dis sag en warm.”

Die byeboer se vrou trek die bedlinne oop, help die digter om op die bed te gaan sit, staan hom by om op die bed te gaan lê.

“Meer as lig, is dit ’n ligte gevoel,” mymer die diepgemedikeerde digter. “Jy weet, daai gevoel van wanneer jy op pad is na jou geluste geliefde, op pad is na die een wat na alle waarskynlikheid jou hart sal breek.”

“Lê,” sê Alice Kriel, druk hom saggies af teen die kopkussing.

“Onthou jy hoe dit voel om iemand anders se asem vir die eerste keer te proe, die opgewondenheid van verken, verskeur, verslind?” wil hy weet.

Alice Kriel soen hom saggies op die voorkop, kruip dan agter hom in die bed in.

“Onthou jy hoe mooi die lig was?” vra hy haar soos wat sy haar arms om sy borskas vou, soos wat sy hom omhels, soos wat sy hom teen haar bors vasdruk.

“Sssjjjj,” sê sy, “slapies nou.”

Lank voordat Jackie de Groen verby witpeer, stinkhout en rooipeer met sy seningmaer hond die bos ingeloop het, het hy in homself begin terugloop.

Verbeel jou jouself op die tafel van ’n lykskouer – ja, dit is jy wat daar lê, ribbekas oopgevou soos die vlerke van ’n vreemde insek, jou koue bloue boude wat daar stokstyf op die klip lê. Dit is jy, kadawer, leë dop.

Dit is wat Jackie naderhand elke Sondagaand homself verbeel het, sy lyk in die plaaslike lykhuis.

Hy en Sarie kon vir ure sit, nie ’n woord wissel nie. “Ons was gemaklik in mekaar se geselskap,” sou Sarie de Groen in later jare kon sê. Jackie de Groen sou nie kon sê nie.

Later het die donker gorrel van Sondagaand hom ook kom sluk op ’n Woensdag, of ’n Donderdag, later selfs by die werk voor ’n werkbank op ’n reënerige dag, Sarie se foto op sy lessenaar langs ’n leë koffiekoppie.

Jackie de Groen het sy lyf voel kraak onder die aanslag van die winter. Sommige aande, wanneer Sarie by brug of by ’n praatjie vir dames by die rolbalklub was, het hy langs Ounooi in die hondemandjie ingekruip, om net ’n bietjie die warmte van ’n ander lyf te voel, te voel hoe kreun die dier van dankbaarheid soos hy haar ore en nekvel krap.

Feit is, Jackie de Groen het genoeg strate hul name gegee, nie genoeg vleilande van eiendomsontwikkelaars gered nie, soms hulle geld gevat, politiek-politiek gespeel vir ’n redelose stadsraad en die plesier van sy dolleë vrou. Hy was gewoon net moeg, moeg om te baklei teen sy dagdroom van lê in die lykhuis.

Daardie aand, in die groen Benz buite die kroeg van die seiljagklub, het ’n lang aanloop gehad. Lank voor daai nag wat hy en die teef begin loop het, het iets in hom reeds begin vooruit loop – sy lyf en die lyf van die hond moes bloot nog opvang. Toe het sy kanker, toe is hy reg.

Wag-’n-bietjiebos, varings, pendoring, stinkhout, geelhout, witpeer, rooipeer, spinnerak, blare wat verrot in die onderbos, Wag-’n-bietjie los my laat my gaan. Die nanoems is rooi, bloedrooi onder die bleekrooi maan.

Iets in jou weet wanneer jy die grens oorsteek. Jy verloor die gemoedelike reuk van bloekomblare wat brand. Jy hoor vir dae lank nie meer die verkeer nie. Jou vel word ryp en geil soos die grond. Jy en die teef kou, kake oop, saam aan die vriesende oggendwind. Snags lê jou lyf gevou om hare soos die dop rondom ’n neut. Bokant julle maak die bos toe.

Soos hulle al hoe dieper in die bos instap, stap Jackie al hoe dieper in homself in terug. Stap deur die donker sop van Sondagmiddae, stap deur elke stilte, die koel dal van doodskaduwee. Jackie de Groen stap deur ’n menigte bergstrome, kruip onderdeur geroeste draadheinings, vermy die geluid van blaffende honde. Jackie de Groen stap totdat hy begin ligter raak, onthou van die tinteling van ’n eerste aanraking, hande wat mekaar nie wil los in die fliek nie, al sweet hulle later, begin glip uit mekaar. Hy haal asem en onthou spookasem en suikerriet en laat warm aande wat na piesangs, velroom en braaivleisrook ruik. Jackie de Groen se voetval raak ligter, hy kyk met groot oë na die bos rondom hom, soos ’n klein, klein seuntjie.

“Waar de donder kom julle nou vandaan?” kla Gawie Kriel wanneer die filmspan in die Chelsea Hotel se parkeerterrein tot stilstand kom. Hy kyk vies oor die mistige, klein rolbalbaantjie, na die grys oggendlig wat reeds bokant die strandmeer draal. “Ek sit nou al vir meer as ’n uur hier in my bakkie en wag. My volk op die bak het amper verkluim,” verwyt hy verder.

“Hello Gavy!” roep goeie ou Paul, slaan sy arm om die byeboer se skouers, stu hom saam met die kroe by die hotel se voorportaal in.

Jan maak ’n paar verstellings aan sy kamera, lig dit tot op sy skouer, loer deur die lens na een van die foto’s teen die muur, maak nog ’n verstelling of twee. Vanuit die dameskroeg loer een of twee kelners nuuskierig, geïmponeer deur hierdie Hollywood-tegnologie: Jan met sy man-grote kamera; Dave wat die hotel se fynste geluide – van die piep van ’n vloerplank, die slurp van ’n kokkerotjie, tot die veraf zoem van ’n elektriese vloerpoleerder – via die wolkop van sy mikrofoon inneem en in sy superdoeper oorfone versamel.

“Henry!” roep Gawie Kriel wanneer hy die hotelbaas aan die tafel van die burgemeester gewaar, stap voor die kroe uit. “Ek is hier, met die media,” sê hy, wys met ’n wye handgebaar na die filmspan.

Maggie Williams, die uitvoerende burgemeester, staan op, verhelder die vertrek met haar glimlag. “Hallo meneer Kriel,” groet sy hartlik. Sy kyk vraend in die lens van die kamera, na die kroe agter die byeboer.

“Paul Brockmeyer, Geo TV,” groet die UV van Washington DC.

“Hulle is hier om die moordtoneel te verfilm,” ondersteun Gawie Kriel.

“Watter moordtoneel?” vra Henry Douthie. “Waarvan praat jy tog?” wil die hotelbaas besorg weet.

Net wanneer Gawie Kriel wil antwoord, storm ’n junior van die Nasionale Seereddingsinstituut uit die snoekerkamer – wat tans as operasionele sentrum dien – in. “Hulle’t hom gekry!” roep die mannetjie.

“Waar?” vra die burgemeester en hotelbaas tesame.

Die junior lyk skielik benoud, ’n haas in die koplampe van ’n veels te senior gehoor.

Die polisiehoof kom tot sy redding. “Iemand het ingebel,” vertel hy; “daar dwaal glo ’n skreeuende man bokant Kom se Bos rond.”

“Jackie?” vra die burgemeester.

“Is moontlik? Waarskynlik,” sê die polisiehoof. “Ons stuur nou ’n voertuig en iemand van die honde-eenheid om dit te ondersoek.”

“By Gouna?” vra Gawie Kriel.

“Ja,” bevestig die polisiehoof, druk die junior vaderlik eenkant toe – Gouna se Bos val kennelik buite die jurisdiksie van die Seereddingsinstituut.

“My vrek,” sê die byeboer, “dis by Die Hinderlaag, dis by my plaas daai.” Hy draai gou na JM, Paul en die kroe. “We have to go!” roep hy. “Save the farm, save Alice and the dogs. There is a madman on the loose,” sê hy.

“Really, is that true?” vra Paul Brockmeyer beïndruk.

“Ja,” sê Gawie Kriel. “Wie kom saam?”

In die byeboer se bed lê die poedelkaal digter in die arms van die byeboer se vrou. Soos hy slaap, soos hy droom, sweef Jaap in Alice Kriel se reuk, die gloed van haar gloeiende vel.

Die digter droom dat hy besig is om in elegante woorde aan Alice Kriel die verskil tussen die populêre en die literêre te verduidelik. “Populêr neem jou van onseker na seker,” fluister hy in Alice Kriel se nek. “’n Moord word gepleeg. ’n Moord word opgelos. Al die leidrade lei sekuur van onseker na seker. Elke woord op sy plek.”

“Mmmm,” sug die byeboer se vrou, stu met haar onderlyf teen die digter se heup.

“Die populêre neem jou uit die koue, siedende reën en tot in die snoesige beskutting van die grot.” Hy voel hoe sy met haar hand sy ottertaai orgaan tot binne-in haar sopnat geslagsdeel stuur. Hy voel hoe kringspiere sy glans omvou, los, vat, los, hoe hy geluidloos kom, sy ou pêreltjie tot in haar oester laat rol.

“Oe,” sê sy.

“Aa,” sug hy, soek na woorde, wil huil soos ’n begrafnisganger by die roudiens van die kleindood.

“By die literêre word die leser daaraan herinner dat daar ’n beer in die grot is,” praat die digter verder, voel hoe Alice Kriel onder hom roer. Hy draai sy gesig na bo; die duisende hande van die mandala teen die plafon seën klaarblyklik hierdie buite-egtelike samekoms. “Sekerheid word met onsekerheid vervang. Die literêre is ’n lofsang vir onsekerheid,” mymer die digter voort. “Die literêre stap met ’n beervel oor die skouer deur die bos, of word nooit weer van gehoor nie,” voeg hy by.

Hy voel hoe haar lyf weer begin stoot teen hom, op en af. Die digter kwyn, maar lê met sy rug teen die matras. “Hoe meer ons glo ons weet, hoe minder weet ons,” sê hy sagter, amper so sag soos sy verlepte, middeljarige ou pieletjie.

Hy word wakker soos wat Alice Kriel self wakker skrik langs hom, haar arms steeds om sy borskas gevou. Jaap hoop dat hy beter gevaar het in haar droom as in syne. Het sy ooit van hom gedroom?

Hy kyk vir haar, sien die weerkaatsing van haar gesig in die spieël teen sy skouer. In die halflig herinner haar gesig hom aan dié van ’n vrou vir wie hy eens op ’n tyd lief was, ’n vrou wat eens op ’n tyd lief was vir hom.

“Alice ... alles, alles het simbool geword,” sê die digter droefgeestig, “geen meer soen nie, net die woord soen, ou lipstiek teen die badkamerspieël van ’n vulstasietoilet.”

“Toemaar,” sê Alice Kriel, “dis alles net in jou kop.”

“Is ons dan verdoem om tweedehands te lewe?” vra die digter, sien in die spieël hoe sy haar oë knip. “Is ons verdoem tot ’n konstante geherkou aan als wat eens was?” wil hy weet. “Wat bly dan oor?”

“Parodie my lief, parodie,” sê Alice Kriel terwyl sy saggies met haar hand oor sy skrotum begin streel.

“Parodie, paroda, wat maak daai parratjie daa’,” sing die digter. “Paroda, porodie, wat het ons hie’?” Hy sit in die byeboer se bad met Alice Kriel tussen sy bene in die lou badwater. Hulle is albei onbewus van die noodlot wat op hulle afpyl, onstuitbaar soos ’n bakkie, ’n bakkie wat gebou is om te hou, Isuzu ... Samurai! Met die gonsende byeboer agter die stuur.

Nog ’n ou skildery, dink die digter, volg sy instink, kyk deur die toegewasemde ruitjies uit oor die werf: herfsblare op ’n grasperk, die bruin stam van ’n boom, ’n kat op ’n keisteen, die houtstellasies van ’n paar byekorwe is sigbaar.

In die bad, omsoom met wit en swart Italiaanse teeltjies, lê hy en Alice Kriel, hul ledemate deurmekaar gevleg. Sy een hand wat rus op die koue, plat bors van die byeboer se vrou. Sy ander hand, effe gelig, asof hy probeer knyp aan ’n straaltjie lig wat tussen hom en die toegewasemde ruit verby skiet. Hy sien hoe water van sy verminkte ringvinger drup, drup, drup tot in die holte bokant Alice Kriel se sleutelbeen.

“Ek glo ek ken jou, vrou,” sê die byeboer se vrou.

Hy voel hoe haar vel onder sy vingerpunte verrimpel.

Vroegoggend in Kom se Pas.

Die grondpaadjie is verlate. Êrens koer ’n tortelduif. ’n Skilpadjie stap oor die pad, sukkel effe oor ’n grondwalletjie wat deur ’n wielspoor gestoot is.

Dan, die veraf gedreun van voertuie. Oomblikke later kom daar ’n Isuzu-hardebakbakkie, gevolg deur ’n gehawende produksiebussie in beeld. Die skilpadjie kruis net betyds die pad en word verswelg in ’n golf modder.

In die passasiersitplek van die bakkie skop Jan styf om sy balans met die kamera te bly handhaaf. Die byeboer laat glip die bakkie om die draaie van die pas, een of twee keer bykans oor die krans die dieptes in. Agter op die bak moet die twee plaaswerkers behoorlik klou om nie afgeskud te word nie. Hulle doen steeds hulle bes om deur die agterruitjie te loer na wat in die stuurkajuit afspeel.

“So, praat ons daardeur?” versoek die kameraman.

“Waardeur?” vra Gawie Kriel.

“Vertel my wie jy is en waarmee jy besig is?”

Skielik is dit net Gawie Kriel se gesig in die skoot, die eerste son wat engelblertsies oor die lens trek.

“Wel, ek is Gawie Kriel, ek boer hier plaaslik,” begin die byeboer, maar word deur ’n stem van agter die kamera kortgeknip.

“In English, please.”

Die byeboer klou aan die stuur van sy Isuzu-bakkie soos hy dit deur die draaie stuur, lyk vir ’n oomblik onseker, begin dan weer: “Well, my name is Gawie Kriel, and I’m a bees farmer from Knysna.” Dan sê hy weer niks.

“Goed, goed, vertel verder, hoekom is ons hier?”

“Huh?”

“Vertel net waarmee ons besig is.”

“Ons is hier.”

“Engels.”

“We are here, uhm, at the top of Comes Pass, in hot pursuit,” vertel die byeboer aan die kamera. “There have been reports, recently of a crazed male man, who have been screaming in the bushes.”

“Maar hoekom is ons oorsprónklik hier?”

“Wat bedoel jy?” Agter die byeboer flits die landskap verby. Ons sien in die agtergrond hoe die bakkie by ’n plaashek met ’n bordjie, Die Hinderlaag daarop, verby skiet.

“Vertel van die soekgeselskap,” hoor mens die kameraman se versoek.

“Oh, well, uhm, we have gathered all together to find our lost friend, Jackie,” praat Gawie Kriel en slaan dan sonder waarskuwing ankers aan. Mens sien die vinnige beweging van die kamera soos wat Jan van balans af gegooi word, die klap van die kamera teen die voorruit. Dan net swart.

Die skoot bly swart. Ons hoor hoe die kameraman heftig swets, dan vra: “Gawie?”

“Vrek! Ek het by die afdraai verby gery,” kla die byeboer se stem.

Gouna se Bos – net daarna.

Ons sien van agter hoe ’n man deur die bos struikel. Is dan naby genoeg om te sien dat dit die eiendomsontwikkelaar, Ian Pool, is.

Ons bly volg hom deur die bos. Hy is duidelik bewus van ons, want hy kyk elke nou en dan oor sy skouer, hoor elke takkie wat kraak, begin dan hardloop. Sy hemp, reeds aan flarde, skeur verder in die dorings van ’n wag-’n-bietjie-bos.

Die Byeboer se Opstal – oomblikke vroeër.

Dis ’n pragtige toneel, die plaasopstal, vreedsaam: skaduwees wat lank en koel oor die werf strek, die rooi stof van die werf wat kol-kol glim in die vroegoggendlig.

Stilte, ’n haan wat kraai, ’n hond wat blaf, blaf, blaf agter ’n kombuisdeur.

Die skoot – bietjie sewentigs, Franse film – zoem stadig in op die badkamervenster. Deur ’n oopgevryfde kolletjie in die ruit sien ons die digter en die byeboer se vrou wat in mekaar verstrengel in die bad lê. Of is dit verstrengel in mekaar in die bad lê? Of selfs, in mekaar in die bad verstrengel lê? Jy kry die prentjie. Om te vertel is om keuses te maak.

Die digter en Alice Kriel is gejinjang in mekaar, omraam deur wasem in die ruit, verstrengel in mekaar in die byeboer se bad.

Sny na badkamer – Binne.

Die digter lê klaarblyklik rustig in die bad, kyk na druppels water wat van sy pols drup, verbeel hom waarskynlik hoe dit sou wees indien die water bloed was.

Alice sluimer in die donker water.

Êrens in die holte van die huis blaf ’n hond, kef, kef, kef, maar dit lyk nie of óf die digter óf die byeboer se vrou daarvan bewus is nie.

Dan is daar die flits van ’n bakkie wat verby skiet deur die venster.

Die digter sug deur sy neus.

Die byeboer se vrou skrik wakker. “God, dis Gawie se bakkie,” sê sy, staan op in die bad, ontbloot haarself so – kaal, wit lyf vir die kamera, reg van voor: afgetekende sleutelbene, donker tepels wat punt van die koue, druppels wat afloop oor haar maag, die yl, swart klossies van haar skaamhare, maer heupe, weerlose binneboude.

Sy tree oor die rand van die bad, vir ’n oomblik die suggestie van ’n skaamlip wat wys, maar te vinnig om regtig te sien voor sy die Hollywoodwit handdoek om haar lyf drapeer.

Sny na werf.

Die troppie honde op die werf gaan mal soos wat die bakkie verby skiet en dan ’n ent in die pad af ankers aanslaan dat die stof so staan.

Die bakkie staan vir ’n hele rukkie daar, in die pad, in die stof. Ons wag. Dan sien mens hoe Gawie Kriel sy ruit afdraai, oor sy skouer kyk en in trurat begin terugry na Die Hinderlaag. ’n Wolkie sigaretrook blom by sy mond.

Intussen raak die honde al hoe meer histeries, soos wat die produksiebussie voor die hek tot stilstand kom. Dave klim uit, probeer die honde paai.

“Hei, het jy vergeet waar jou huis is?” lag die klankman vir die byeboer, wat amper weer sy Isuzu terug by die hek het.

“Dem kamera maak mens mal,” snork Gawie Kriel, nes Dave die hek oop kry. Die byeboer leun op sy bakkie se toeter om die jillende trop brakke terug te dryf.

Die ontbeerde rooinek sukkel steeds om sy pad deur die bos te vind.

Hy gaan staan, hoor klaarblyklik iets, luister, huiwer, hoor dit dan weer: ’n toeter wat herhaaldelik gedruk word en die veraf gekef van honde.

Ian Pool luister nog, probeer die rigting bepaal, begin dan om sy pad te vind teen ’n stewige helling uit, struikel, val een of twee keer, kom weer orent, luister weer, sukkel handeviervoet verder die bult uit.

Sny na die byeboer se slaapkamer.

Alice Kriel het pas die rits van haar romp opgetrek. Die digter staan langs die dubbelbed, handdoek om die onderlyf. Hy kyk af na die bed, na die klere van Gawie Kriel wat die byeboer se vrou vir hom uitgesit het.

Êrens in die huis bly blaf ’n hond steeds histeries, waarskynlik Fiefie – ’n sopraan in perfekte harmonie met die operatoneel op hande.

Waaroor staan die digter en wonder? sal ons sekerlik wonder. Oor die kakiehemp wat hy nou oor sy kop moet trek, oor sy verlore ringvinger, of oor die byeboer wat voor die hek staan en toet?

“Trek aan,” sê Alice Kriel, druk die kraag van haar bloes reg. “Jy wil nie so vir Gawie konfronteer nie.”

Jaap laat val die handdoek, begin om vinnig aan te trek, bly praat met die byeboer se vrou soos hy sy been lig en by die pyp van die veels te groot denimbroek indruk. “Ek het geen behoefte om vir Gawie oor enigiets te konfronteer nie,” sê hy.

“Ek het,” sê Alice Kriel, gaan sit voor die spieëltafel, bring haar gesig nader aan die spieël soos wat sy iets in haar een ooghoek van naderby beskou. “Ons moes lankal gepraat het.”

Jaap gaan sit met sy kaal boude op die bed, makliker om so die broek aan te kry. Hy kry dit reg.

Fiefie bly blaf. Gawie Kriel se stem dreun op die werf.

“Fiefie ...” probeer Alice Kriel.

Dan is die digter op, en terwyl hy die hemp aantrek, stap hy by die byeboer se slaapkamer uit.

Ian Pool sukkel deur ’n laaste stuk bos en bereik dan die bopunt van die heuwel.

“Thank God,” sê hy wanneer hy die werf en die honde, Gawie Kriel se bakkie en die produksiebussie voor hom herken.

Die digter is besig om die laaste twee knope van sy geleende kakiehemp vas te maak wanneer hy by die plaashuis se kombuis instap. Hy sien die groot greinhouttafel, die hondemandjie daaronder, die netjiese geelhoutkassies, die rye en rye poeiers en medikamente wat op een van die spensrakke sigbaar is.

Fiefie spring op en af teen die wit kombuisdeur, gil ten hemele.

Deur die kombuisvenster sien Jaap hoe Dave die hek oophou vir Gawie Kriel en JM Roux om daardeur te ry.

Dan gee die digter ’n paar treë vorentoe, draai die sleutel in die agterdeur, skuif die knip bokant die poedel se klappende kake op en swaai die deur oop.

Voor hom sien hy hoe Gawie Kriel die werf inry, hoe die poedel reguit op die Isuzu afpyl. Hy sien ook die gehawende Engelsman wat uit die bosse aangestrompel kom, hoe die troppie honde in sy rigting buig, hoe die byeboer se kop draai, hoe Fiefie onder die wiel van die Isuzu verdwyn.

Jaap hoor ’n geluid agter hom in die kombuis. Wanneer hy omkyk, sien hy Alice Kriel se oë.

In die opstal se kombuis sit Jaap saam met Gawie en Alice Kriel. Gawie slurp aan ’n koppie koffie. Die digter probeer verby Alice se gesig kyk na iets deur die kombuisvenster.

Buite op die werf is die kroe besig om aan hul kameras te verstel. “Nee dankie, ons is reg,” het hulle gesê toe Gawie koffie, beskuit, brekfis, ietsie te drinke aangebied het.

Deur die venster sien die digter hoe JM Roux die dooie poedel agter in die produksiebussie laai. Hy sien min bloed, net ’n strepie onder die oor. “Moenie worry nie, ons sal haar wegvat,” het die regisseur op die werf vir Gawie Kriel gesê terwyl Jaap saggies moes druk teen Alice Kriel se lyf om haar binne die kombuis te hou. “Nee Alice,” het die byeboer vir sy vrou geroep soos wat sy deur die kombuisdeur probeer uitkom het op pad na haar lieflingshond.

Nou sit hulle om die tafel, waaronder die leë hondemandjie staan. Êrens in die huis klink die geluid van pype wat kraak soos wat Ian Pool in die badkamer die bos van homself afwas.

“Dit was ’n ongeluk, Alice,” sê Gawie Kriel, sit sy halfleë koppie op die tafel neer.

Alice Kriel sê niks.

Buite kyk die kroe nuuskierig na die houtkaste op stellasies aan die bopunt van die werf, die korwe waaruit duisende bye in en uit gons.

Wanneer die byeboer nog ’n slag per ongeluk met sy voet teen die mandjie skop, staan hy vies op, leun onder die tafel in, sleep die hondemandjie daar uit, kyk rond. Hy gaan druk dit dan êrens agter in die skemer spens. “Ek sal vir jou nog ’n hond kry, man,” sê hy – vererg hom wanneer hy sy vrou se gesig sien. Hy begin in die rigting van die gang te stap. “Ek gaan net gou kyk of Ian oukei is,” sê hy, kyk terug na Alice Kriel, loop dan uit.

Die digter kyk deur die venster, sien hoe die kroe saggies onder mekaar praat. Hy trek-trek aan die skouer van sy hemp – sy lyf te klein vir die byeboer se klere. “Alice,” sê hy, kry dit nog nie reg om vir haar te kyk nie.

Hy hoor hoe sy haar stoel uitstoot, sien hoe sy tussen hom en die kombuisvenster verbyloop, sien hoe sy by die spens instap.

“Alice,” sê hy weer, hierdie keer sagter.

Hy hoor die kraak van die rottangmandjie soos sy daaraan raak, hoor geen ander geluide uit die skemer spens nie.

“Alice!” roep Gawie Kriel vanuit die dieptes van die huis. “Waar is die noodhulpkissie?” Die geluid van sy stem gaan by hulle verby, is skielik onbelangrik, die agtergrondgeraas op ’n rolprentklankbaan, die veraf gegons van bye.

Dan kraak die rottang weer en verskyn Alice met die mandjie in haar arms in die spensdeur. Sy dra dit terug na die tafel, sit dit saggies neer, stoot dit onder die tafel in, hurk daar vir ’n oomblik langs die tafel voordat sy weer orent kom.

“Alice,” sê Jaap weer. “Jy sal nie sê nie, nè?” vra hy.

Hy sien hoe Alice by die kombuis uitstap.

Die digter sug, staan ook maar op en stap by die agterdeur uit. “Ek is nog hier ...” sê hy saggies aan homself.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top