Ek is nie Charlie nie

  • 2

“You are not entitled to your opinion. You are entitled to your informed opinion. No one is entitled to be ignorant.” (Harlan Ellison)

Ten spyte van ’n paar Franse kliënte met die gevolglike besigheidskuiers in Parys, was ek nie bewus gewees van die bestaan van Charlie Hebdo nie. Tot onlangs toe. Inhoudsgewys strek my kennis dan so ver as die nuus en opiniestukke wat ek oor die onlangse tragedie gelees het. Heilige koeie is blykbaar soms uitgedaag (maar merendeels blatant keelaf gesny) deur Charlie Hebdo. Weliswaar, die een groep se heilige koei is die ander groep se kaasburger. Maar dis ’n maklike veralgemening. Enige koei kan ’n kaasburger word. Maar ’n heilige koei behoort aan iemand en kan nie sommer net geoffer word nie. Ons kan lag vir die heilige koei, selfs konvensionele denke oor die heilige koei uitdaag deur retoriek en logika. Maar ons kan nie sommer aan die heilige koei gaan raak nie. Dit bring my by die Charlie Hebdo-tragedie en die nagevolge daarvan. Wat redelik duidelik is, is dat Charlie Hebdo nie in die voorste gestoeltes van redelikheid gesit het nie. (Tesame met die terroriste.)

#EkIsCharlie. Maar wie de hel is Charlie? Is Charlie nou ’n simbool van vryheid van spraak? Van satire? Is Charlie ’n slagoffer? Ja, Charlie is ’n slagoffer. Maar dit is Charlie se eie skuld. Tragies, ja. Maar as ’n mens op ’n slagveld loop, moet ’n mens weet, jy is in ’n oorlog. Mense kry seer in oorloë. Die daad van terrorisme is die ekstremiste se skuld. Hulle is ook nie onskuldig hier nie. Maar Charlie is nie onskuldig aan ekstremisme nie. Jy sien, ek is nie werklik oortuig dat Charlie vryheid van spraak en satire beoefen het nie. Die een ou se vryheidsvegter is mos die ander ou se terroris. Daar is min dinge wat swart-en-wit is. Maar daar is grense. Een of ander ou het gemymer: “Moenie die krag van dom mense in ’n groep onderskat nie.” (Ek dink dis George Carlin.) Hierdie aanhaling is van toepassing op beide terroriste en mense wat vryheid van spraak en satire dryf neffens die grens waar dit moeilik is om te onderskei wie die terroris is en wie die verligte is. Want Charlie is ’n slagoffer in sy eie Griekse tragedie.

“Whoever fights monsters should see to it that in the process he does not become a monster. And if you gaze long enough into an abyss, the abyss will gaze back into you.” (Friedrich Nietzsche)

In ’n wêreld waar die gematigde aanname is om te leef en te laat leef, sien ons bitter min van so ’n uitkyk in die praktyk. Daar moet onthou word dat geen vryheid absoluut is nie. Selfs ons progressiewe Grondwet maak voorsiening vir die beperking van die liberale handves van menseregte. Daar is dus ’n quid pro quo. Jy het ’n reg tot vryheid van spraak of uitdrukking. Moet dit nie wegsteek nie. Gebruik dit, maar moet dit ook nie gaan verkrag nie. Want die uitoefening van jou regte kan nie teen iemand anders se regte indruis nie. Hoe dit ook al sy, vryheid van uitdrukking of spraak moet ook nie tot ’n semigod verhef word nie. Bo en behalwe die beperking daarvan, sodat dit nie ten koste van ’n ander se regte uitgeoefen kan word nie, gaan dit oor wetenskaplike, artistieke en kulturele vooruitgang waarvan die uitdrukking beskerm word. Idees en ontdekkings moet bevorder word, die sogenaamde quest for truth-paradigma. Dis hoekom ons nie ketters meer as ketters kan beskou en ’n onskuldige tannie met ’n voorliefde vir kruie plant, op die brandstapel verbrand nie. Daarmee saam is vryheid van uitdrukking nodig in ’n demokratiese samelewing. Maar dit moet gaan oor ’n vreedsame uitdrukking van ’n standpunt wat kritiek lewer op die regering of instansie ten einde ’n vredevolle bydrae te lewer tot vooruitgang in die samelewing. Vryheid van spraak en uitdrukking bied die vryheid om uit te daag, nie om ’n boelie te wees nie. Fyn lyn. Een van redelikheid.

“Whenever a man does a thoroughly stupid thing, it is always from the noblest motives.” (Oscar Wilde, The Picture of Dorian Gray)

Charlie het nie soseer ’n vredevolle bydrae gelewer tot vooruitgang as wat dit blykbaar kontroversieel probeer wees het nie. Ons sien dit gereeld: die pers wat klou aan persvryheid maar sensasie najaag – merendeels onverantwoordelik. (Ek sien nie dat die Moslemgeloof smeek om bevryding of vooruitgang nie.) Gee dit die reg op die doodmaak van ’n ander? Nee, glad nie. Nooit nie. Maar as ’n mens die speelgrondanalogie kan gebruik: as jy jouself uitgee vir ’n toffie, moet jy bereid wees om gekou te word. So sit ons dan met die uiteinde: bloed aan alle kante omdat niemand werklik wou leef en laat leef nie.

“Evil isn’t the real threat to the world. Stupid is just as destructive as Evil, maybe more so, and it’s a hell of a lot more common. What we really need is a crusade against Stupid. That might actually make a difference.” (Jim Butcher, Vignette)

Die mensdom is lief vir “hype”. Om iets slaafs na te volg. Om nie vrae te vra nie. Meegesleur te word. #EkIsCharlie. Lief om nie te dink nie, net te doen. (Derhalwe seker die sukses van een lekepreker en ’n magdom bakkies wat afjaag na ’n tent-Vatikaan, en dan terugkom en hulle vrouens op hulle plekke sit, soos dit hoort.) Dit is maklik om verlore te raak in propaganda – deel te word van die trop skape, blêrende op pad na waar ook al die groep heen gaan. Iewers in my geheue is daar toesprake vanaf Bonders wat weerklink oor duur-gekoopte vryheid. Of dalk is dit die liedjies wat ons gedwing is om te sing as kinders op skool. Hoe is daardie eksklusiewe wit vryheid aangewend? Kyk wat is die resultaat. Nee, ek gee myself nie uit as kenner op die hele apartheidbeleid en vryheidsbeweging nie, maar kom ons wees nugter hieroor: gematigde vryheid vir almal sou almal se duur-gekoopte vryheid gewees het. Miskien was die tyd nie reg nie. Dis nie die punt nie. Die punt is, nou raak ons verlore in hashtag “I am Charlie”, terwyl daar meer indringende kwessies is (sien in hierdie verband Izak de Vries se bydrae in hierdie seminaar). Die punt is, oorloë moet gekies word. Nou hoekom kies almal die maklike oorlog? Die share van ’n foto. Die opsit van ’n status op ’n sosiale netwerk. Die teken van ’n petisie. Petisies, terloops, vir die wie nog in hulle glo (ahem, regsgesinde sanger en sangeresse) beteken niks nie. Petisies is ’n goedkoop bemarkingsfoefie vir die wie hulle dryf. Dit het geen regskrag nie.

Ons kies die maklike “battles”. Maar ons doen nie eintlik “battle” nie.

As ons oor regte en vryhede wil gesels, moet dit begin by die opstaan teen die inperking daarvan. Nie na die tyd daaroor rou nie. Begrafnis hou, is maklik. Dis die opstand en teenkanting, die veg neffens die poorte van die Hemel of die Hel wat guts vat. Guts wat nie almal het nie. Ons raak verlore in die “hype”. #Freedom. Maar ons gun niks en niemand anders vryheid nie. Kyk maar na die idiotiese kommentare aan die einde van ons elektroniesemediaberigte.

Leef en laat leef is ’n goeie beginsel en dit beteken nie die beoefenaar moet passief wees, gematigd of gemiddeld nie. Mens kan passievol wees met reg. Oor mens se eie lewe. Waar mens voel dat ’n heilige koei op jou grasperk kom wei, het jy die volste reg om die koei op sy plek te sit. (Nie te slag nie. Dis nie jou koei nie. Dis iemand anders s’n.) Wees passievol oor jou lewe, maar onthou daar is mense wat passievol is oor hulle lewens ook. Leef dus die middeweg, want as jy met vuur speel, gaan jy brand. Ja, die Franse is mal oor hulle tradisies en lewenstyl, en soos ek verstaan, was Charlie Hebdo al ’n tradisie. Maar Charlie Hebdo kon ook, soos ek verstaan, ’n boelie gewees het en daar is min verskil tussen ’n boelie en ’n ekstremis. Beide stop nie en vra nie vrae nie.

Terrorisme kan fisies sowel as psigologies manifesteer.

Hoe sou ’n gematigde toepassing van die reg op vryheid van spraak daar uitgesien het? Pieter-Dirk Uys is vir my ’n fantastiese voorbeeld van hoe vryheid van spraak en satire gebruik kan word om konvensionele denke uit te daag. (Ek is nie ’n kenner van al sy werke nie, maar ek was ’n aanhanger van Evita Bezuidenhout gewees.) Daar word fyn gespot, die waarheid en belaglikheid word klinkklaar gemaak en hy laat die politieke bewindhebbers hulle klere uittrek om kaal te paradeer. Pieter-Dirk Uys bestorm nie die parlement met blikke verf nie. Hy boots nie ’n verkragting na nie. Want om so om te gaan met ’n vryheid, begin mens die vryheid self inperk: die idee agter vryheid van spraak misluk, omdat dit nie meer gaan oor ’n stem of nie; dit gaan oor die gebruik van daardie stem om ’n ander te na te kom in plaas van om daardie stem te gebruik om uiting te gee aan die self. (Die leef-en-laat-leef-self, mense, nie die boelie-self nie.)

Kom ons gebruik weer ’n voorbeeld. Ek is nie ’n aanhanger van oom Angus nie. Ek dink hy gebruik goedvoel-teologie. Dus kan ek hom aanvat op feite en gewaarwordinge (soos geen graad in teologie nie, geen gegronde kennis van die oorspronklike tekste nie, geen oorsig deur ’n sinode nie). Dus maak ek beswaar teen ’n nuwe fundamentalisme en goedvoel-teologie deur dit op die naam te noem. Ek beskou myself nie as snaaks nie, dus kan ek nie ’n satiriese aanslag verleen aan oom Angus et al nie.

Wat my bring by my volgende en laaste punt. Mens kan satire en vryheid van spraak beoefen sonder om ’n spotprent te gaan teken van die Suid-Afrikaanse pous, omring met aartappels en met ekskrement wat by sy mond uitkom. Suid-Afrikaanse pous, ja. Die res, nee. Fyn lyn. Dus is ek nie Charlie nie en wil dit/hom ook nie wees nie. Jy wil ook nie Charlie wees nie. Ons wil nie ’n ekstremis ten koste van ander wees nie. Ons wil nie slaafs navolg nie. Wat in Frankryk gebeur het, was ’n geval van ’n ekstremis wat ’n ekstremis ontmoet het. Die uiteinde van so ’n ontmoeting sal nooit goed wees nie.

Terug na die Charlie-seminaar | Back to the Charlie Seminar

  • 2

Kommentaar

  • Is Labuschagne een terrorist als hij 'Charlie' NIET is ? Zegt hij ook dat de plaasmoorden de boere hun eigen schuld is ???

  • Merwe Erasmus

    Genade, maar hierdie is 'n ongesofistikeerde argument. Net omdat jy kru prentjies teken verdien jy om doodgeskiet te word?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top